{ARGIEF}

Poortgesprek oor roeping en predikantswerk (VBO-7)

Laai registrasievorm vir Stellenbosch hier af

24–26 Julie  – Stellenbosch
Aanbieders:     Pierre Goosen, Hugo Bierman & Andrew Esterhuizen

Inleiding

Die doel van die poortgesprek is om predikante te help om doelgerig verantwoordelikheid te neem vir hul persoonlike groei in die uitleef van hul roeping in die bediening, deur geleentheid te skep vir selfontdekking en groter selfbewussyn.

Die poortgesprek se doel is om elke kursusganger geleentheid te gee om bewustelik met sy of haar persoonlike en unieke roepingsverhaal te werk en moontlik tot nuwe selfverstaan of insig te kom. Die kursus is nie ingestel op nuwe inligting of kennis wat oorgedra of aangeleer moet word nie, maar eerder bedoel om reflekterend om te gaan met die individu se persoonlike roeping – God wat ons geroep het, na wie ons geroep is en waarom ons geroep is.

Daar sal baie geleentheid wees om te vertel wat in jou lewe tot dusver gebeur het en hoe jy dink om jou lewe en roeping vorentoe uit te leef. Die poortgesprek wil ‘n geleentheid skep waar elke deelnemer nie net kan reflekteer oor sy of haar roeping nie, maar ook kan nadink oor die volgende vyf tot tien jaar in die uitleef van sy/haar roeping.

Daar sal behalwe tyd vir die vertel van jou persoonlike verhaal ook tyd wees vir persoonlike joernaalskryf, refleksie en nadenke.

Die werkboek is verdeel in werksessies, met ruim plek vir persoonlike notas. Gebruik die boek vir persoonlike refleksies, nadenke en leermomente en om beplanning te doen vir die uitleef van jou roeping in die toekoms.

Ons vertrou dat jy die innerlike reis in jou eie en ander se roepingsverhale lonend, uitdagend en as ‘n opbouende ervaring sal beleef.
 
Teen die einde van die poortgesprek behoort elke gespreksdeelnemer:

  • Sy of haar eie roepingsverhaal opnuut te vier.
  • ‘n Nuwe waardering vir sy/haar eie roeping te beleef.
  • Nuut te dink oor Wie hom/haar geroep het en waarom.
  • Met nuwe motivering terug te gaan na die mense en gemeente na wie sy/hy geroep is.
  • Groter duidelikheid te hê oor hoe Communitas en Ekklesia se kursusse kan help om te groei in die uitleef van jou roeping.
  • Deel te voel van ‘n groep leiers wat dieselfde uitdagings beleef.
  • Opnuut bewus te wees van wie jy is as geestelike leier en waarom jy op die spesifieke plek in jou lewe is.
  • Na te dink oor wat jou verhinder om jou roeping optimaal uit te leef.