{ARGIEF}

Kommunikasie [VBO 3]

Kontak Chrisna van der Merwe by: 021-808 3624; cmer@sun.ac.za

Laai inskrywingsvorm af

 Aanbieders: Coenie Burger, Ben du Toit, Johan van der Merwe,  Taalsentrum Stellenbosch en ander
Datum: 9 – 11 Feb 2010
Plek: Stellenbosch
 
Tema en doel:
Ons glo dat God Homself openbarend aanbied om in verhouding met sy Skepping en mense te tree. Dit doen Hy as Kommunikeerder par excellence (vgl Heb 1:1-2). Alle kerklike kommunikasie bly in ‘n afgeleide sin Woordverkondiging en is as sodanig kommunikasie van vryspraak en vryheid, van hoop en die nabyheid van die Koninkryk van God (vgl Luk 4:18-19 en Matt 4:17). Die rede waarom ons kommunikeer, bly dus ten diepste dat ons mekaar help om die Goeie Nuus markplein toe te neem. Ons glo immers dat die plaaslike gemeente die hoop vir haar konteks is.
As ons dit glo, behoort ons alles te doen wat ons kan om meer effektief in en vanuit ons gemeentes te kan kommunikeer. Enersyds is dit belangrik, juis in tye van verandering, om te besef dat ons as gemeentes nie vinniger kan transformeer as wat ons kan kommunikeer nie. Andersyds is ons noodwendig deel van ‘n konteks waar kommunikasie al hoe vinniger raak en al hoe meer media na vore kom waarmee gekommunikeer kan word. In hierdie kursus oriënteer ons onsself teologies ten opsigte van die eiesoortige karakter van kerklike kommunikasie, maar bespreek ons ook prakties die mate waarin verskillende kommunikasie-mediums in verskillende kontekste deel moet vorm van ons kommunikasiestrategieë, al dan nie. Ons help mekaar ook prakties om beter te kan kommunikeer, deur vir verskillende aspekte van kommunikasie sensitief te wees, insluitende hoe om beter in eredienste te kan kommunikeer.

Inhoud:
Tydens die kursus staan ons onder andere stil by die volgende sake:
• Algemene tendense in kommunikasie en media
• Eiesoortige uitdagings van kommunikasie in die kerk
• ‘n Teologiese verstaansraamwerk vir kommunikasie en waardes wat kerklike kommunikasie onderlê
• Kommunikasie in die erediens
• Die daarstel van ‘n kommunikasie-strategie en belyning in gemeentelike kommunikasie
• Die balans tussen persoons-, papier- en elektroniese kommunikasie
• Die plek van tegnologie (soos webwerwe, e-pos, SMS, powerpoint) en sosiale netwerke (soos Facebook, blogs, MXit en Twitter) in kerklike kommunikasie
• Praktiese werk om beter te kan kommunikeer in verskillende kontekste (aandag aan beelduitstraling en praktiese skryfwerk)

Uitkomste:
Na die kursus behoort deelnemers:
• ‘n Beter begrip te hê van die breër kommunikasietendense in die samelewing
• ‘n Beter begrip te hê vir die teologiese eiesoortigheid van kerklike kommunikasie
• Toegerus te wees om eerste treë met ‘n kommunikasiestrategie vir die gemeente te neem wat elke gemeente se konteks in ag neem
• Te kan onderskei watter kommunikasie-media in watter kontekste aangewend moet word en hoe integrasie tussen die verskillende media bewerk kan word
• Persoonlik beter te kan kommunikeer, gegewe die sensitisering wat tydens die kursus plaasvind en praktiese oefeninge in geskrewe kommunikasie
• Die erediens meer optimaal as kommunikasieruimte te kan benut