{ARGIEF}

Titel van kursus: Hoe om ’n gemeente te wees waarin kinders tuis is

Aanbieders:          Jan Grobbelaar en Dirk Coetsee
Datum:                  12-14 Mei 2009
Plek:                     De Doorns
Verblyf:                 Verblyf word op De Doorns by Petra Kollege voorsien
Koste:                    R600 per persoon   (NG & VG Predikante van Wes- en Suid-Kaap – slegs R100)

 Slegs 20 kursusgangers

 Tema en doel:

Waarheen op aarde met die kinders in ons gemeente? Kinderdienste? Kinderkerk? Kinderkrans? En wat van die hordes wat nie deel is van ons of enige ander gemeente nie? En hoe benader mens die Y2K-kind in elk geval? Dis duidelik dat poskoets-antwoorde nie gaan baat vir wifi-vrae nie. Ons sal moet skuif na waar die kinders reeds is. Maar ons mag verras word: hulle is nie noodwendig waar ons gedink het hulle is nie en daar is dalk tog niks nuuts onder die son nie…

 Hierdie kursus wil leiers toerus om gemeentes te begelei om sinvolle skuiwe te maak en in die proses meer inklusiewe ruimtes te word waarin kinders regtig tuiskom. Die uitgangspunt van die kursus is dat ‘n tegnologiese benadering nie die 21ste eeuse kind gaan dien nie, maar eerder ‘n verhoudingsgerigte, intergenerasionele en missionale kinderbediening.  Die Bybelse beginsel van gasvryheid dien as sleutel om die gemeente se verhouding tot kinders te verstaan. Daar word veral aandag gegee aan die inrigting van gemeentelike byeenkomste, byvoorbeeld die erediens, as gasvrye ruimtes vir kinders waarin alle kinders tuis is.

 Die kursus word volgens die ervaringsleersiklus ingerig. Daar is dus interaksie met kinders self en vaardighede om kinders te bedien word prakties ingeoefen. Van die oefeninge wat gedoen word sal sinvol met leiers in die gemeente herhaal kan word. Kursusgangers word ten slotte gehelp om ‘n plan van aksie op te stel om hulle gemeentes te gaan begelei om al meer gasvrye ruimtes te word waarin kinders tuis is.

 Die kursus word in die pragtige Hexriviervallei aangebied, wat juis in die herfs soos ‘n lappieskombers lyk. Saans sal daar informeel saam gekuier word midde in die natuurprag van hierdie landelike omgewing.

 Uitkomste:

Die kursus sal die deelnemer help om:

 ·         Vanuit die Skrif bediening aan, met en deur en in belang van kinders te verstaan

·         Gasvryheid in die gemeente te verstaan met betrekking tot kinders

·         Gasvryheid aan kinders kontekstueel te verreken

·         Die erediens en ander gemeentelike byeenkomste in te rig as gasvrye ruimtes vir kinders

·         Enkele vaardighede rondom gasvrye kommunikasie en kindervriendelike prediking in te oefen

·         Gasvrye gemeentelike bediening aan ‘verlore’ en ‘stukkende’ kinders te verstaan

·         ‘n Raamwerk van aksiestappe op te stel om ‘n gemeente te skep waarin kinders tuis is

 Kontakpersoon:

Jan Grobbelaar
Petra Kollege Wes-Kaap
Posbus 260
De Doorns
6875

Tel. 023-3563636 (werk) 023-3548208 (tuis)
Sel 082 920 7897
E-pos: jan@petracol.org.za

Inskrywingsnavrae:

Chrisna van der Merwe
Communitas
021-808 3624
Faks: 021-886 5701
cmer@sun.ac.za

Laai inskrywingsvorm af