{ARGIEF}

Afstandsonderrigmodule:

Ontwikkelinge binne Ou en Nuwe Testament Navorsing


Aanbieders:  Stellenbosch Ou en Nuwe Testament-dosente

Datum:  Beoogde implementering April 2010

Plek:   Geadministreer vanuit Stellenbosch, maar aangebied via die web. Geen fisiese aanwesigheid word dus van kursusgangers verlang nie.

Tema en doel:

As verbi divini minister staan die Bybel sentraal in die bediening van ‘n predikant. Tog het baie predikante selde die tyd of geleentheid om hulleself te verdiep in en te oriënteer tov nuwe ontwikkelinge binne die Bybelwetenskappe. Hierdie agt krediete kursus (ca. 80 studie-ure) rakende onlangse ontwikkelinge en tendense in Ou en Nuwe Testament-navorsing bied ‘n opfrissingsgeleentheid vir predikante. Die kursus beoog om onlangse ontwikkelinge binne Ou en Nuwe Testament-navorsing op verstaanbare wyse te kommunikeer en om die aktualiteit van die Bybel vir gemeentes uit te lig. Die kursus het die volgende as doel:

1)    Die disseminasie van en oriëntasie tov onlangse navorsing en ontwikkelinge binne die Bybelwetenskappe;

2)    Om die praktykrelevansie van die navorsing en die hedendaagse aktualiteit van die Bybel uit te lig;

3)    Leiding te gee mbt die verantwoordelike gebruik van internet bronne vir Ou en Nuwe Testament- navorsing.

Inhoud:

OU TESTAMENT

Onlangse tendense in die studie van die Ou Testament

NUWE TESTAMENT

Onlangse tendense in die studie van die Nuwe Testament

1.1   Hermeneutiese en eksegetiese tendense (6 uur)

 

2.1 Hermeneutiese en eksegetiese tendense (6 uur)

 

1.2   Pentateugnavorsing (6 uur)

 

2.2 Evangelienavorsing (6 uur)

 

1.3   Deuteronomistiese en Kronistiese Geskiedenisse (6 uur)

 

2.3 Lukas- Handelingenavorsing (3 uur)

 

1.4   Profetenavorsing (6 uur)

 

2.4 Johannese navorsing (6 uur)

 

1.5   Liriese en Wysheidsnavorsing (6 uur)

 

2.5 Algemene Briewe en Hebreërs (6 uur)

 

1.6  Teologies – etiese interpretasie van die Ou Testament (5 uur)

 

2.6 Teologies – etiese interpretasie van die Nuwe Testament (5uur)

 

1.7   Prediking van die Ou Testament (5 uur)

 

2.7 Prediking van die Nuwe Testament (5 uur)

 

 

3. Interpretasie van die Ou en Nuwe Testament (3 uur)

Die kursus word oor ‘n tydperk van drie jaar aangebied, word modulêr onderverdeel en van kursusgangers word verlang om een module per semester te voltooi. Verkieslik een Ou en Nuwe Testament-module per jaar. ‘n Seleksie kan gemaak word uit die bogenoemde opsies. Die ure verbonde aan elke module, wat weer vertaal moet word in krediete, word in die bogenoemde tabel aangedui. Soos reeds vermeld, word die kursus aangebied by wyse van afstandsonderrig en met behulp van die Internet. Gevolglik sal van kursusgangers verlang word dat hulle toegang het tot ‘n rekenaar en die Internet.

‘n Moontlike basiese handboek vir die Ou Testament-afdeling is dié van Michael B. Dick, Reading the Old Testament: An Inductive Introduction. Peabody, Mass.: Hendrickson Publishers, 2008. Dit sluit oa in interaktiewe CD wat heel bruikbaar is binne die konteks van ‘n afstandsonderrigmodule. ’n Moontlike basiese handboek vir die Nuwe Testament-afdeling is dié van David A. deSilva, An Introduction to the New Testament: Contexts, methods and ministry formation. Downers Grove, Ill.: InterVarsity Press, 2004. Van studente kan verwag word om die handboeke aan te koop. Meer spesifieke inhoude verbonde aan die individuele modules, sal op ’n latere stadium bekendgemaak word.

UITKOMSTE

1) ‘n Goeie greep op onlangse navorsing en ontwikkelinge binne die Bybelwetenskappe;

2) Predikante moet op ‘n verantwoordelike en verantwoordbare wyse kan put uit onlangse navorsing en bronne in hulle eie omgaan met die Bybel (bv prediking en Bybelskool);

3) ‘n Nuwe waardering vir die aktualiteit van die Ou en Nuwe Testament vir gemeentes;

4) Bekendheid met en toegang tot die gebruik van internet bronne vir Ou en Nuwe Testament-navorsing.

Vir verdere nadenke

Aangesien geen fisiese teenwoordigheid van kursusgangers verlang word nie, sal alternatiewe gevind moet word om te bepaal dat kursusgangers die gewenste insig verkry het deur byvoorbeeld die betrokke materiaal deur te werk. Laasgenoemde word weer gekoppel aan die verwerwing van krediete. Hoewel die kursus geen fisiese kontaksessies insluit nie, sal daar geleentheid vir kursusgangers wees om via die web deel te neem aan besprekings. Hierdie deelname aan besprekings, bv van onderwerpe wat deur die betrokke dosente aangekondig is, sal ‘n integrale deel uitmaak van die wyse waarop die kursus aangebied word. Deelname kan in hierdie opsig insig reflekteer en aan dosente ‘n aanduiding gee van kursusgangers se greep op die materiaal. Die presiese struktuur van hierdie besprekings is nog onder konstruksie en sal op ‘n latere stadium deurgegee word. Tog bied dit ‘n werkbare alternatief waar geen fisiese teenwoordigheid verlang word nie.