{ARGIEF}

Sondag 15 Januarie 2012 ~ Tweede Sondag na Epifani

Laat die sjampanjeproppe skiet: Geluk aan alle suksesvolles, maar wat van al die ander spesiales…?

Alta was baie spesiaal, sy het in die kerk haar tong rollend vir my uitgesteek en daarmee haar onvoorwaardelike aanvaarding gekommunikeer. Toe gebeur dit wat haar ouers lank reeds voorbereid op was… Ek moes haar begrawe… Ek het Fanus Rautenbach se hoorbeeld op skrif by hom gekry en as ‘n hermeneutiese sleutel gebruik om Ps 139 oop te sluit.    

 My boodskap was soos jy kan aflei uit Ps 139 en het so begin: “Sy is die engel met die skewe ogies. Sy is ‘n hemelkind. Sy is deur God aanmekaar geweef. Sy is spesiaal gemaak. Op ‘n wonderbaarlike wyse is sy geskape. Haar ontstaan was ‘n geheim – ‘n wonderwerk.

 God het aanskou hoe die geheim vorm gekry het, geen been was vir die Here verborge nie. Ja, selfs die trisomie 21 is steeds ‘n wonder. Die dieper wêreld van wêrelde wat verskuil lê in die resultate van die 47 ste chromosoom, is net aan God bekend.”

 Dis 12 jaar later. Ons dogter, Alta se maatjie, het verlede week haar matriekuitslae ontvang. Ons is trots op haar. Sy is baie spesiaal. Ons enigste kind gaan uit die huis, sy gaan universiteit toe. Mag God van alle kante haar op haar nuwe paadjie met liefde omring!

 Mag God se hand van seën op alle skoolverlaters wees, veral op diegene wat vir byna niks kwalifiseer nie, en nie werk kry nie!

 Beeld berig:

 http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Min-matrieks-gaan-werk-kry-20110104

‘Min matrieks gaan werk kry’

Net 40% van matrikulante wat die arbeidsmark direk ná matriek gaan betree, sal werk kry. Die res sal waarskynlik deel van die donker werkloosheid­statistieke in die land word, het die vakbond Solidariteit gister gesê. Solidariteit het in ’n verklaring gesê dié probleem kan toegeskryf word aan die onindiens­neembaarheid van die meeste matrikulante wat op skool nie werklik vir die arbeidsmark toegerus word nie

’n Jaarlikse studie oor vooruitsigte vir matrikulante het soos die vorige twee jaar beklemtoon dat dit weer ’n moeilike jaar vir Suid-Afrikaanse werknemers en werksoekers sal wees.Mnr. Dirk Hermann, uitvoerende adjunkhoof van Solidariteit, het gesê werkgeleenthede sal steeds beperk wees.Diegene wat die arbeidsmark wel sal betree, sal met die werklikheid gekonfronteer word en bereid moet wees om heel onder aan die beroepsleer te begin.Skoolopleiding bied skoolverlaters volgens hom nie werklik die toerusting om die arbeidsmark suksesvol te betree nie. “Daarbenewens is die slaagsyfer in vakke soos wiskunde, rekeningkunde en fisiese wetenskappe wat juis tot indiensneembaarheid bydra, baie swak.”Luidens die verslag bou die meeste matrikulante nie in hul skoolloopbaan bedrewenheid in kritiek belangrike vakke soos wiskunde op nie. Van die meer as 552 000 matrikulante wat in 2009 matriek geskryf het, het 60,6% geslaag. Net 24,2% van dié matrikulante, oftewel 133 789, het wiskunde geslaag – met 30% of meer. Net 9,6% (52 866) kon dit met 50% of meer deurkom

’n Skamele 1,6% van matrikulante kon ’n onderskeiding in wiskunde behaal. Hermann het voorts gesê die laagste eenvoudige gemiddelde slaagpunt van 30% wat ’n kandidaat in ’n vak kan behaal, laat talle vrae oor die uiteindelike waarde van die matrieksertifikaat ontstaan. “’n 18-jarige word ’n onreg aangedoen wanneer hy vertel word dat hy gekwalifiseerd is vir enige studie of geskoolde werk op grond van ’n 30%-afsnypunt.“Die matrikulant word op die skouer geklop omdat hy die onderwysdepartement se statistieke goed laat lyk met sy deelname aan ’n stelsel van middelmatigheid. Eintlik laat dit hom met 12 vermorste jare en ’n agterstand wat bitter moeilik is om in te haal.”Hermann het daarop gewys dat verdere opleiding die beste moontlike kans op vermyding van werkloosheid bied.
“Studies toon dat werknemers met ’n tersiêre kwalifikasie die beste teen die uitwerking van die afgelope arbeidsresessie beskut was. ”Volgens hom het arbeidsmarkdata van 2007 ook getoon ’n universiteitsgraad beteken in die algemeen meer as ’n diploma of ander tersiêre kwalifikasie. Beroepe in ’n mediese, ingenieurs-, inligtingstegnologie-, finansiële en tegniese rigting is veral gesog weens tekorte daar.

Rapport berig:

http://www.rapport.co.za/Opinie/Hoofartikels/Hoe-goed-is-die-matriekuitslae-20110107

Hoe goed is die matriekuitslae?

Niemand hou daarvan om prestasies gering te skat nie, maar soms is dit noodsaaklik om, in die breër belang, uit te wys dat iets moontlik skort en dat behoorlike navorsing nodig is. ’n Voorbeeld hiervan is die matriekuitslae wat die afgelope week bekend gemaak is. Die regering klop homself op die skouer, en vir elke suksesvolle matrikulant is sy of haar uitslae ’n prestasie wat nie bevraagteken moet word nie.

Rapport laat graag die sjampanjeproppe skiet: Geluk aan alle suksesvolles. Lees verder

God en die ander spesiales…!

God stel deur sy leweskeppende Woord en Gees sy volk in staat om te leef in ‘n nuwe gehoorsaamheid wat ook in die samelewing en die wêreld nuwe lewensmoontlikhede kan bring… (Belydenis van Belhar)

Die sakesektor is winsgerig, Universiteite soos Stellenbosch is prestasiegedrewe (my mening) en die kerk word gestuurdes spesiaal na die geringstes. Hier waar ons woon was stranddienswerkers orals aktief, dis wonderlik, ons kinders word met Woord en spel bedien, maar ek kan nie daarin slaag om hulle ‘n halfdag by die ander kinders sonder speelgoed in stofstrate te kry nie.

Almal is in God belangrik. God se deernisvolle geregtigheid en liefdevolle optrede word onder gelowiges sigbaar.

In 2003 verskyn die artikel van my in Beeld:

http://www.beeld.com/In-Diepte/Nuus/Hoor-werkloses-se-noodkreet-en-help-20100617

Hoor werkloses se noodkreet en help

Dit is tyd dat mense werklik die stem van die werkloses begin hoor en hul menswaardigheid erken. Twee uit elke vyf volwasse Suid-Afrikaners het nie werk nie. Dit is ontstellend. Werk neem ‘n sentrale plek in volwassenes se lewe in. Werkloosheid beïnvloed die werklose se welsyn en selfbeeld.

Werkloses is nie net ekonomies kwesbaar nie, maar hulle kan geestesongesteld raak. Werkloosheid bring gereeld stres mee wat in depressie kan omsit en tot aggressie en angstoestande kan lei. Alkoholmisbruik is nie uitgesluit nie. Die groot waarde wat die samelewing op werk plaas en op die soort werk wat jy doen, dra by tot die persepsie dat die lewe sonder werk betekenisloos is. Werkloosheid word soms met egskeiding of kanker vergelyk. Dit veroorsaak ‘n gevoel van verlies, reken bedryfsielkundiges.

Wanneer mense nie meer hulself en hul gesinne kan versorg nie, kou dit aan hul trots. Kinders is skaam oor hul werklose ouer(s). Die klem moet sterk op werkskepping geplaas word, want dit is die oplossing.

Natuurlik moet daar krities gekyk word na arbeidswetgewing wat verontregte werkers beskerm, maar nie haalbaar vir ‘n ontwikkelende ekonomie is nie omdat dit werkskepping en investering ontmoedig. Ook kwessies soos die billikheid van regstellende aksie, produktiwiteit en gebrek aan vaardighede moet aandag kry.

Ongeduldig en ongeskik

Die duisende mense wat weens wisselings in die sterkte van die rand afgedank word, asook weens die herstrukturering (‘n eufemisme vir afdankings) van maatskappye om mededingend te wees, toon die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Vakbonde sal wat betref eise vir salarisverhogings rem moet aandraai. Sakeondernemings sal twee keer moet dink of die afdanking van werknemers die enigste en laaste opsie is.

‘n Vriendin en enkelouer wat jare gelede weens disinvestering afgedank is, was ontstelder oor haar baas wat in dié tyd ‘n nuwe, luukse-maatskappymotor gekry het as die feit dat sy haar werk verloor het. Ons kan nie die gevolge van die soustrein op ons land se ekonomie en werkloosheid ontken nie. Die miljoene wat sommige regerings- en sportlui verdien, maak ‘n mens klaar siek. Die samelewing en sy strukture is klaarblyklik nie reg om al die werkloses op maatskaplike en emosionele vlak te ondersteun nie.

Instellings soos die kerk lewer ‘n soort “ambulansdiens” en die onmiddellike nood word met basiese bydraes soos kospakkies, sopkombuise en ou klere verlig. Werklose kerkgangers word (hopelik) pastoraal ondersteun. Welsynsorganisasies is egter oorlaai met ander gesinskrisisse. Terapie is duur en beperk tot enkeles – die massa word in ellende gelaat.

Wat die situasie vererger, is dat mense dikwels onsensitief, ongeduldig en soms ongeskik teenoor werkloses is wat op ‘n eerbare manier werk soek. Dink maar aan die mense wat by spesifieke punte soos nutswinkels staan en werk vra – selfs al reën dit, is hulle daar. Ons erken werkloosheid as ‘n krisis, maar misken te veel werkloses se menswaardigheid. Dit vererger die noodtoestand.

Kerke en skole kan hier remediërend optree. Programme kan ingestel word waar lidmate vaardighede aanleer om met werkloses op straat te praat, maar om veral te luister, tyd vir hulle in te ruim, moeite te doen en betrokke te raak. Begrip vir en sensitiwiteit teenoor werkloses is die eerste stap na die heling van die werklose se negatiewe gevoelens. In die kerk kan die prediking fokus op God se medelye teenoor werkloses en God se oproep aan die gemeente om God hierin te volg. (Só hou die kerk hom met sinvolle getuienis besig, anders as hulle wat oor die argitektuur van ‘n kerkgebou begaan is).

Méér as ‘n beroep

Kerke en skole kan ook hul infrastruktuur beskikbaar stel waar kundiges soos sielkundiges, arbeidsterapeute en maatskaplike werkers groepsessies met werkloses hou. Werkloses kan só lewensvaardighede aanleer. Kerke, maar veral skole, kan gaan kers opsteek by instellings wat reeds geletterdheidsprogramme vir volwassenes aanbied en só betrokke raak.

Diensorganisasies kan geld voortbring en dié dienste inisieer en subsidieer.

Die werkloses se stem móét gehoor word. Hiervoor het hulle ‘n spreekbuis nodig. Kerke, nie-regeringsorganisasies en ander vrywilligers sal hande met die sakesektor, vakbonde en die staat moet vat en as vennote holistiese hulp aan werkloses moet verleen. Sulke betrokkenheid kan hoop bring. Dit kan werkloses inspireer om op kreatiewe maniere entrepreneursvaardighede aan te leer, anders te dink oor en te kyk na hul situasie en só bemagtig te word.

Op skool kan kinders leer dat alles nie net om werk draai nie: Die lewe is méér as ‘n beroep. Diegene wat kla oor te veel werk, het ‘n keuse: Hulle kan hul werk verminder deur dit met iemand anders te deel en ‘n kleiner inkomste aanvaar. Of hulle moet ophou kla, bly wees dat hulle werk het en uit dankbaarheid tyd inruim en sinvol betrokke raak by die noodroep van die werkloses. ‘n Uur per week is seker nie te veel gevra nie.

God het alle mense op ‘n wonderbaarlike wyse gemaak. Mag God se belang in jou, jou belangstelling in ander kweek.

Pieter van Niekerk

Seisoen van Luister Ppoint 

Geen verdere reiglyne in preekargief