{ARGIEF}

24 Julie 2011 ~ Sesde Sondag in Koninkrykstyd: 1 Kon 3:5-12

Vir baie gemeentes sal komende Sondag die begin van ‘n nuwe kwartaal na die wintervakansie wees – waarin baie mense waarskynlik weg was uit die gemeente. Hoewel baie mense lekker gerus het, moes ander die dienste van ons samelewing aan die gang hou.

Ek het by myself gewonder oor die broosheid van die lewe. Oor die algemeen is die gemoedere in ons samelewing onrustig – bewus daarvan dat dinge nie altyd loop soos wat dit moet nie en dat ons ook nie maklike en vinnige antwoorde op die uitdagings het nie.
In ons konteks is dinge aan die broei.

  • Die ekonomiese herstel wil maar net nie gebeur soos deur almal gehoop word nie. Werksgeleenthede bly skaars en die gaping tussen ryk en arm word nie kleiner nie. Matrikulante werk hard om hulle skoolloopbaan suksesvol te voltooi, maar hulle kanse om werk te kry, is baie skaars. Dit lyk asof die politici magteloos is om hieraan ‘n verskil te maak. Hulle magteloosheid maak hulle in sommige gevalle nog meer roekeloos, en laat baie mense in ons gemeenskap wanhoop. Korrupsie maak dit ook nie beter nie – selfs in die hoogste regeringskringe is daar bekommernis dat die regerende party te sag is op korrupsie – http://mg.co.za/article/2011-07-17-corruption-chips-away-at-the-ancs-image
  • Geweld bly deel van ons lewe – ‘n bejaarde dame is in haar huis vermoor in ons buurdorp. Ons plaaslike buurtwag het telkens oor die vakansie noodberigte deurgestuur dat daar ‘n vlaag van diefstalle aan die orde van die dag is. Ons het in baie gevalle geleer om aan te pas by die aaklige werklikheid van geweld teenoor die weerloses in ons gemeenskap – kinders, vroue en bejaardes veral leef in ‘n gevaarlike land. Ook hiervoor is daar nie ‘n eenvoudige regruk-resep nie. Hoe meer druk ons op die polisie plaas om dit vir ons op te los, hoe meer brutaal raak die mense wat ons moet beskerm. Eenvoudige oplossings is daar ook nie hier nie. Die wyse waarop geweld deel van ons leefstyl in die land geword het, word onderstreep deur ‘n aanval op prof Anton van Niekerk verlede week deur iemand wat van hom verskil. Hoe stop ons die geweldskultuur in ons samelewing? 
  • In Gauteng is suurwater besig om die fondamente van geboue weg te vreet – die prys wat ons betaal vir die goud wat ons uitgehaal het, gaan die geslagte wat kom, nog duur te staan kom. Ons weet nie regtig hoe om die ekologiese rampe van ons tyd om te draai nie, en dit wil lyk asof die uitbuiting van die natuur die opswaai in die ekonomie gaan kniehalter. Ook hier is ons dikwels sonder raad. 
  • Dan is daar mos ook ons elkeen se mikro-omgewing – van familiegebeure en verhoudings wat terselfdertyd ook vreugde bring en ons kwesbaarheid blootlê. Dinge waaroor ons nie in die gemeente met vrymoedigheid praat nie, omdat dit nie veilig is om daaroor te praat nie, maar waarvoor ons op ons eie ook nie raad het nie. Self oor die Prins van Monaco wat onlangs getrou het met Charlize uit Suid-Afrika, is daar gerugte van diepe ongeluk en wantroue, selfs nog voordat hulle getroud is.
    En tog is dit Koninkrykstyd.

Dit is binne hierdie konteks wat ons hierdie Sondag gaan lees van ‘n jong koning wat bewus is van sy beperkinge, wat homself afsonder en bid vir wysheid. Lees gerus in die Preekstudies verder oor die eksegetiese opmerkinge – dis ‘n soort optrede waarvan ons nie elke dag hoor nie en tog gee dit my hoop om daaraan herinner te word dat dit dalk die beste raad vir myself en ons samelewing is.
 
Ek vra ‘n paar vrae om ons aan die dink te sit:

  1. Dink ons steeds dat gebed vir publieke sake van die dag belangrik is, of glo ons dat die ekonomie en die politieke sake buite die sweer van gebed val? 
  2. Wat dink ons van leiers wat bereid is om broos te wees en hulle in nederigheid voor die Here te verootmoedig? Is dit swakkelinge? 
  3. Hoe belangrik is dit vir ons om ons jongmense te herinner aan hulle eie beperkinge en dat hulle in afhanklikheid moet lewe? 
  4. Glo ons dat as die Koninkryk van God aanbreek, naby kom, dit ‘n transformerende krag is wat ons en ons gemeenskappe sal verander? 
  5. Het ons te sinies geword om te glo dat gebed, my en die mense rondom my, kan verander?
    Dat ons met die probleme sit waarmee ons sit, is nie die einde van die wêreld nie, veral nie as ons met die perspektief van Koninkrykstyd daarna kyk nie. Maar belangrik: hoe gaan ons daarop reageer? Is ons bereid om ons eie broosheid te erken? Is ons leerbaar?
     
    O ja, en dit was hierdie week Madiba se verjaarsdag …

Frederick Marais

Seisoen van Luister Powerpoint