{ARGIEF}

16 Sept 2012 ~ Sestiende Sondag in Koninkrykstyd: Mark. 8:27-38 (9:1) 

Help ander sien dat die koninkryk van God gekom het

Die opvallende vir my in die perikoop van Mark.8:27-38 (9:1), is die belangrikheid van om te sien, veral te sien die tekens van die koninkryk van God wat gekom het. Ons gelese gedeelte word ingelei en vooraf gegaan met die blinde man van Betsaida wat sy sig terug kry.

Die inhoud van Mark.8:27-38 asook die essensie van die gebeure is juis Jesus se poging om die mense en veral die dissipels te help om te sien. Met die vraag van Jesus: “Wie, sê die mense, is Ek?” is in wese Jesus se manier om uit te vind of Hy suksesvol was in die openbaarmaking en bekendmaking van die Koninkryk van God wat gekom het. U sien die vraag gaan nie bloot net om die identiteit van Jesus nie, maar oor of die mense Hom ken as die Messias, die agent van  God se koninkryk, of beter gestel – die beliggaming van God se koninkryk, die teken van God se koninkryk, die inhoud, lewe en waardes van God se koninkryk.

Hiermee het die dissipels gesukkel. Hiervan getuig Petrus se berisping van Jesus in verse 33. Duidelik het Petrus Jesus nie as die Messias, die lydende verlosser en bevryder gesien nie. Hy het wel Jesus as Christus bely, maar kon Jesus nie sien as die een wat moes ly, die een wat deur lyding en sterfte, vrede, bevryding en versoening sal bewerk nie.
Wat Petrus se regte verstaan van die Messias gekniehalter het, was die algemene persepsie  van die mense dat die Messias met geweld, mag en krag die vyande van Israel gaan kom vernietig. Die Messias volgens die mense se verstaan sal Israel in oorlog lei en die magtige nasies van die wêreld verpletter, Jerusalem as stad van God sal herbou word, die Jode wat verspreid oor die wêreld gebly het sal deur die Messias se mag en kragtige regering na Israel en of Jerusalem teruggelok word en dan sal hy ’n nuwe era van vrede inlei.

Teen die agtergrond was dit sekerlik moeilik vir die mense en die dissipels om Jesus as die lydende Messias, die een wat in die hande van mense oorgelewer gaan word en deur sy sterfte en opstanding nuwe lewe bewerk, te sien. Dit is die uitdaging van ons teks, naamlik om mense te help sien, Jesus te sien as die Messias, Jesus te erken as die beliggaming van God se koninkryk, Jesus te sien as die vrug van God se koninkryk van geregtigheid, vrede, sorg en omgee waardes.
Hierin moet die kerk as geloofsgemeenskap heelhartig betrokke wees en ons as Christene die voortou neem. Ons huidige sosiaal-ekonomiese omstandighede eis dit van ons. Jarelange sosiale en ekonomiese onderdrukking dwing gewone arbeiders tot gewelddadige protesaksie – mense in protes vir ’n menswaardige lewensbestaan moet met die hoogste prys vir hul lewe betaal. Ons kan nie anders as om mense – veral mense in magsposisies – te help om na Jesus te kyk; mense te help om in Jesus die tekens van die koninkryk te sien, te sien dat geregtigheid, waardigheid en menswaardigheid tekens van God se koninkryk is. Maar ons as kerk en gelowiges moet ook mense help om te sien dat materie, geld en gruwelike rykdom nie die maatstaf vir vrede, geluk en gesonde verhoudinge is nie. Dit is juis die gesindheid van mededeelsaamheid, nederigheid, dienslewering, sorg, beskerming en persoonlike opoffering wat tekens van die koninkryk van God is; ‘n koninkryk waarin verdraagsaamheid, gelykwaardigheid, reg en regverdigheid en om die ander hoër te ag as jouself, seëvier.

Die wêreld moet in ons manier van omgaan met mekaar kan sien na wie ons kyk, op wie ons oë en lewe gerig is. Die mense na aan ons, die mense met wie ons in verhouding/e leef, moet deur ons morele standaarde geprikkel kan word om ook te wil sien wat ons sien, om te fokus waarop ons fokus – ja hulle moet gehelp word om Jesus as die lydende Messias, Koning van God se koninkryk te sien; om Jesus te kan identifiseer as die Verlosser, die bringer en draer van liefde, vrede gebaseer op geregtigheid, gelykheid en menswaardigheid.

Dan het die kerk geslaag; dan het die Christen geslaag en het die evangelie geslaag. Ja dan sal mense sterf, nie omdat hulle vir ’n menswaardige lewe geprotesteer het nie, maar omdat hulle Jesus as Messias gesien het en dat God se koninkryk van geregtigheid, vrede, liefde, sorg en menswaardigheid, gekom het.

Donald Katts

Geen preekriglyn in Argief

Seisoen van Luister:

Markus 8:27-38– 16de Sondag in Koninkrykstyd (Skepping 3) – 16 September 2012

Markus8_27-38Vir Familietyd kan jy ’n speletjie met skoene speel om die kinders iets te laat verstaan van kruisdra. Met die kostelike storie van ’n rabbi wat vir ’n ou vrou en haar sieklike seun sorg, word ons oë oopgemaak om na navolging van Jesus uit die hoek van “downward mobility” te kyk en nie “upward mobility” nie. Ons het ’n Lydende Christus, en om Hom te volg, beteken om te deel in sy lyding. Kruisdra is nie maar die ongerief, kwale of alledaagse krisisse van ons lewens nie. Om jou kruis op te neem en Jesus te volg, beteken om te deel in die verwerping van die Messias. Dit beteken om verguis, bespot en verwerp te word omdat jy Jesus dien en navolg. Dit is lyding ter wille van die evangelie. Die misterie van die Christelike lewe is dat mens só jou lewe vind, deur jou lewe vir Christus af te lê. “Wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou.”

Markus 8:27-38.ppt 1.15 MB Sep 10, 2012 06:18 Download
Markus 8:27-38.pptx 903.37 KB Sep 10, 2012 06:17 Download
Markus 8:27-38.doc 102.5 KB Sep 10, 2012 06:16 Download