{ARGIEF}

21 April 2013: Vierde Sondag van Paastyd – Goeie Herdersondag: Openbaring 7:9-17

In die aktualisering van die gedeelte moet op ‘n paar sake gelet word. Eerstens waar dit in Openbaring se vertelling inpas, tweedens hoedat dit dien as troos vir die lesers daarvan en derdens hoe dit Johannes se eskatologiese visie verwoord.

● Eerstens, waar pas die gedeelte in Johannes se profesie in? Na aanleiding van Openbaring 1:19 (”Skrywe nou neer wat jy gesien het, wat nou daar is en wat hierna gaan gebeur”) deel Richard Bauckham vir Openbaring as volg in:

A. Inleiding (1:1-8)

1. “Wat jy gesien het” – Jesus se verskyning aan Johannes (1:9-21)
2. “Wat nou daar is” – Sewe briewe aan sewe gemeentes (2:1-3:22)
3. “Wat hierna gaan gebeur”
Die visioene van Johannes (4:1-22:5)

B. Die slot (22:6-21)

Openbaring 7 is dus deel van ‘n reeks visioene (4:1-22:5) wat vanuit Johannes se perspektief wat nog gaan gebeur beskryf. In die aanloop tot hoofstuk 7 het Johannes vir God op sy troon gesien (hfst 4) en die geslagte Lam wat waardig is om die boekrol oop te maak (hfst 5). Daarna het God se oordeel aanbreek met die oopmaak van die eerste ses seëls (hfst 6). Dié oordeel was so erg dat Johannes in 6:17 gevra het wie staande sal kan bly in die lig daarvan. Om dié vraag te antwoord ontvang Johannes in Openbaring 7 ‘n blik op die kerk se toekoms voordat die sewende seël oopgemaak word. 

● Dit is dus tweedens duidelik dat Openbaring 7:9-17 ten doel het om die lesers van die boek te vertroos. Openbaring is nie riller nie, maar ‘n troosboek vir gelowiges.

In 7:1-8 kry Johannes eers die versekering en troos dat die kerk op aarde (vers 1) deur God verseël is (vers 3). Alle gelowiges – die 144 000 dui op die 12 stamme wat die OT simboliseer x die twaalf wat die NT kerk simboliseer x die getal van volkomenheid (1000) – sal veilig bewaar word.

In 7:9-17 word Johannes verder verseker dat die kerk wat reeds in die hemel is ook veilig is. Sowel die aardse as die hemelse kerk is dus veilig in die tyd waarin God se oordeel oor die aarde uitgeroep word. Openbaring 7:9-17 antwoord met ander woorde die vraag na hoe dit met die verheerlikte/hemelse kerk gaan.

Die doel van die evangelie – ook soos verwoord deur Openbaring – is dus nie om mense te verskrik nie, maar eerder om hul te troos en te verseker. Die troos en versekering vra egter van hulle om in lyn met die eise van die evangelie te leef (hulle moet hulle laat reinig).

● Die gedeelte gee ook, derdens, ‘n besonder blik op die herstel wat God gaan bewerkstellig. In vers 9 sien Johannes ‘n ontelbare skare wat uit elke denkbare stam, taal, volk en nasies afkomstig is. As sodanig is hulle Abraham, die vader van baie nasies (Gen. 17:4–6), se beloofde ontelbare nageslag (Gen. 16:10). Hulle is veilig, gereinig en geregverdig deur die Lam (gesimboliseer deur hulle wit klere). Vervolgens vier hulle die oorwinning van God en die Lam (gesimboliseer deur die palmtakke in hulle hande) deur hard uit te roep dat hulle deur die Lam gered is. Die oorwinning wat hulle vier is hulle redding uit die groot verdrukking.

Dit is belangrik om in die uitbeelding van die verheerlikte kerk raak te sien dat die herstel van die wêreld nie vir Johannes neerkom op die uitwissing van die verskille tussen alle mense nie. Hulle is steeds verskillende nasies met verskillende herkomste en verskillende tale. Dié verskille is nie iets waarvan mense gered moet word nie. Hulle word eerder deur God gered en geheilig soos wat hulle is.

In vers 11-12 aanbid die verheerlikte kerk saam met die engele, ouderlinge (kerk) en vier lewende wesens (die skepping) vir God (gesimboliseer deur op hulle gesigte op die grond te val – in die NAV met “kniel” vertaal) en sing hulle ‘n nuwe weergawe van Rigters 5 en Eksodus 15 as ’n oorwinningslied tot eer van God. Dan vra een van die ouderlinge vir Johannes wie die mense met die wit klere is en waar hulle vandaan kom (vers 13)? Johannes sê hierop vir die ouderling om sy eie vraag te antwoord. Hy doen dit dan ook deur daarop te wys dat hulle uit die groot verdrukking kom (wat Aune vertaal as die “eskatologiese oorlog”). Die groot verdrukking verwys in Openbaring na die voltrekking van God se oordeel (vgl. Dan 12:1; Matt 24:21) voordat die finale einde aanbreek. Hulle het dié tyd oorleef omdat hulle die offer van die geslagte Lam aanvaar het – hulle het hul in sy bloed laat reinig. In Openbaring vlek Jesus se bloed nie mense en hul klere nie, maar haal eerder sondevlekke uit (Aune noem dit ‘n paradoksale metafoor). Daarom het hulle wit klere aan, gewas en wit gemaak in die bloed van die Lam (vers 14). Hulle klere pas by hulle nuwe werk – hulle dien God dag en nag in sy tempel (die hele hemel is ‘n tempel). Hulle het ook die ongelooflike troos dat God by hulle bly (Eseg. 37:27) en danksy die Lam se teenwoordigheid is daar geen meer honger, dors, sonsteek of hartseer is nie. Jesaja 49:10 se voorspelling word dus hier verwesenlik. As regverdiges ondervind hulle die volkome teenwoordigheid van God deur die Lam wat hulle herder is. Hy troos hulle deur hul trane af te vee (vers 17) en deur aan hulle die ewige lewe te gee (gesimboliseer deur die fontein van die water van die lewe).

Die kerk op aarde kan dus moed skep. Tydens tye van swaarkry kan hulle weet hulle is reeds deur God verseël en dat hulle ewige erfenis veilig vir hulle voorberei is. Hulle moet egter onthou dat hulle van hul sonde en onreinheid gered word en nie van hulle identiteit gestroop word deur God nie. Verlossing is eerder vernuwing en verheerliking as verandering van wie ons is. Elke stam en nasie en taal word vernuwe – hulle is egter steeds herkenbaar vir wie hulle is. Hulle word nie verander in ‘n generiese eendersheid nie (een taal met een nasie nie). Die visie dat God nie alleen die verskeidenheid wat die wêreld kenmerk geskep het nie, maar ook verlos het, behoort die teenswoordige bediening van die kerk ook te rig. Ons moet net mekaar help op te vernuwe, eerder as om ander te wil verander om soos ons te word.

Marius Nel

Preekriglyn in Argief: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2013/04/Openbaring%2007_9-17.doc