{ARGIEF}

16 Januarie 2010 ~ Tweede Sondag ná Epifanie: 1 Kor 1:1-9

In die fliek The Concert onderskep die karakter Andrei, op sy dag ‘n gesogte dirigent, ‘n uitnodiging aan die Bolsjoi-orkes en stel sy eie orkes saam om skelm-skelm in Parys te gaan optree (Fliekgids, Die Burger). Hy droom daarvan om Tjaikofski te dirigeer.  Hy sê eintlik self dat hy ‘n obsessie het om dit te doen. (Ek sal nie verder uitbrei nie, doen moeite om die fliek te sien, daar is veel meer in die fliek as net hierdie enkele verwysing).

Die punt wat ek wil maak is dat obsessies of selfs drome, wat soms goed en belangrik is in ons lewe, dinge is wat ons dryf.  Daar is ‘n stootkrag daarin wat ons dikwels nodig het.  Maar, na alles is ons self die inisieerders daarvan.  Dit vloei uit ons voort en kan ook soms net daar soos water in die sand wegloop.

Paulus is seker ook ewe goed ‘n voorbeeld van iemand wat deur ‘n obsessie gedryf was.  Daarom het die christene dit ontgeld.  Maar, toe hy deur God geroep word, word hy nie meer gedryf deur godsdienstigheid en sy eie sieninge nie, maar getrek deur die Wil van God. Soos ons weet verander dit sy totale lewe en daarmee saam die ontwikkeling van die christelike kerk.  

Ek vra myself baie keer die vraag: Geroep – getrek – gehoorsaam aan die wil van God?  Of : Beroep – beurend – hardkoppig?  

Ook die fliek Eyes Wide Open is die moeite werd om te gaan kyk.  Een van die aspekte in die film is die drukkende las van godsdienstigheid in ‘n geslote gemeenskap.  Die gevaar van die I – me – mine eksklusiwiteit dien as ‘n waarskuwing vir ons.  En amper trap Paulus toe ook daarin!  In vers 2 begin hy deur die gemeente van Korinte te groet as die groep mense wat God vir Hom in Christus Jesus afgesonder het. Amper daarna eers, asof hy skielik onthou dat die gemeente van God nie by Korinte ophou nie, groet hy ook almal waar hulle ook al mag wees.   

Ek het al baie gewonder hoe opgewonde, laat staan nog samewerkend, is ons oor ander gemeentes van God wat Hy in Christus Jesus geroep het.  Dit is seker nie ver verkeerd om te dink dat daar in elke dorp meer as een christelike gemeente is nie.  Die vraag is, is hulle mekaar tot seën? Die genadegawes wat God so ryklik geskenk het, die gawe van woord en kennis, word dit tot opbou en groei en seën aangewend in die Koninkryk van God?  Word dit raakgesien in die gemeenskap?  

Dink aan die wonderlike potensiaal in die groter dorpe en stede waar daar meer as een NG Gemeente is wat mekaar kan ontgin, ondersteun en saamwerk ten opsigte van gawes en kapasiteit.

Ons is hier om God in Christus te laat sien!

Pierre Goosen

Seisoen van Luister Powerpoint

Preekskets in argief – 1 Kor 1:3-9