{ARGIEF}

24 Januarie 2011 ~ Derde Sondag na Epifanie: 1 Kor 1:10-18 – Die Leuen

Liefdeloosheid in die kerk is nader aan die waarheid. Die verdeeldheid oor geloofsake duur voort en die arrogansie van sommige christene laat die kruis van Christus sonder krag.

Ek is die afgelope tyd met die kerk se “leuen(s)” gekonfronteer. My geloofwaardigheid as predikant is ook in gedrang. Die woord ”leuen” is etimologies-semanties en sosiaal-eties swaar gelaai.  ‘n Leuen is om van die waarheid af te wyk; dis oneerlik, onwaar en oneg; dis om te dwaal; dis skyn en dit beteken om te versin, te mislei, om te kul, te flous en te fop, om om die bos te lei; dis  ongeloofwaardig, vals en bedrieglik. Dis veral sleg wanneer die kerk met leuen beskryf word. Die kerk het ‘n ryk en Geestelike oorsprong. Dit staan immers vir dit wat goed en reg is; ‘n gemeenskap van gelowiges, liefde en opoffering; liggaam van Christus, mense wat in Christus is en deur Christus geheilig en saamgebind tot ‘n nuwe gemeenskap; wat hul beywer vir die koninkryk van God en Sy wil onderskei;  “‘n gemeente van susters en broers, waar Christus in Woord en sakrament deur die Gees werk” (Karl Barth); ’n geestelike gemeenskap.

Die eerste bekendstelling met dié “leuen” het by ‘n kamp vir Christus gebeur; telkemale is na kerke se “leuens” verwys en is die kerk se geloofwaardigheid onder verdenking geplaas. Die kamp se bediening is ‘n alternatief vir die kerk met sy godsdienstigheid. By dié kampe word jy met die waarheid bedien. Dié kampe is ook maar kerk.   

Die tweede konfrontasie met  die “leuen” het by ‘n “Christelike” boekwinkel gebeur. ‘n Gelowige tannie wat ‘n boek oor die klein doop wou koop, word deur die bestuurder weggewys, eintlik afgejak. “Die NG kerk se leuen word nie hier verkoop nie, ons verkoop net die Woord”, het hy min of meer met erns verduidelik. Toe iemand hom oor sy optrede uitvra, bid hy teen die persoon se “godsdienstige gees”. Sy stuur toe aan die streekbestuurder van die boekwinkel ‘n e-pos (sien onder).

Dié ding teen die kerk is aan die groei. Die relevansie van die kerk is op die spel. Die kerk se integriteit word bevraagteken. En ek verwys nou nie na die nuwe – hervormers se perspektiewe nie, maar gelowiges wat vanuit ‘n meer “fundamentalistiese” hoek snobistiese en beterweterige uitlatings en anti-kerk opmerkings maak. Sommige het dit teen die meeste kerke en die sogenaamde Pinksterkerke word ook met leuens beskryf. Ander het dit teen die “hoofstroomkerke” se leer, veral hul verstaan van die doop en “afwesige” ervarings van die Heilige Gees. Die gemene deler  is die woord “leuen” wat lukraak gebruik word. So asof net sommige die waarheid het en reeds in die koninkryk van God gearriveer het.

Dis dalk beter om aan die kerk te dink wie se heil nie in sy mense lê nie, maar in Christus. Die geskiedenis toon dat iets van die leuen wél die kerk deur die eeue heen vergesel – die kerk bestaan uit gewone mense wat behoorlik kan droogmaak én seermaak, apart maak en met die inkwisisie selfs andersdenkendes kon doodmaak. Daar is gelowiges wat afdwaal, ronddwaal en/of verdwaal, maar op pad ontdekkings maak, insig kry, groei en met nuwe ywer deel van die kerk word. Dis dalk dat die “kerk nie werklik is nie, maar eerder word. Dit word telkens opnuut weer deur die Woord en Gees gekonstitueer” (Johan Buitendag).

Dis jammer dat die tekort aan liefde en deernis onder gelowiges God so maklik vir ander onsigbaar laat. Dié liefdeloosheid, gebrek aan respek en ruimte vir mekaar, om nie na mekaar te luister nie, nie nederig te wees en by mekaar te leer  nie, klink vir my  nader aan die waarheid.

E-pos aan streekbestuurder

***
My dagstukkie vanoggend in  Daily Light from the Bible Classic Devotions
for Every Day / Samuel Bagster het o.a. Rom 8:1 gehad  –“There is therefore no condemnation to them which are in Christ Jesus, who walk not after the flesh, but after the Spirit”.

Ek het vanoggend soos die afgelope jare min of meer hierdie tyd die aansporingstoekennings van ons kategese by ******** gaan koop. Die Kinder en Jeugbediening van ons gemeente is my roeping. Terwyl ek vir myself ‘n nuwer uitgawe Devotions soek, het ‘n bejaarde dame navraag gedoen oor ‘n boek oor die kleindoop. Ek kon nie die hele gesprek volg nie (die dame het sag gepraat), maar wat een van die werknemers vir haar gesê het, het my ontstel. Ek het eers gedink om hieroor stil te bly, maar op pad terug werk toe omgedraai aangesien die meeste Cloud & Townsend,  Max Lucado, Bill Hybels en my gunsteling outeur John Ortberg boeke op my boekrak uit hierdie winkel kom.

Ek verneem toe dat die persoon wat die dame (na ‘n ander winkel)  toe gestuur het, **** is en die bestuurder van die winkel. Ek het aan hom verduidelik dat ek ontstig voel oor die wyse wat hy die dame behandel het en wat hy vir haar gesê het – as iemand uit die gereformeerde tradisie wat so iets moes aanhoor, het dit my onseker laat voel oor die beleid van ********  en of ek daarmee kan assosieer. Ek het probeer uitvind of dit sy persoonlike standpunt is of dié van ********. Hy’t geantwoord dit gaan net oor die Bybel en dis in die Bybel wat ons die waarheid vind wat vrymaak.   Ek het o.a. ook vir hom genoem dat  ‘n mens verwag mense wat die Here liefhet, kom na ‘n winkel met geestelike boeke en musiek en dat ek dus nie verwag het dat daar so te velde getrek sal word oor “die leuens van die NG kerk” nie. My kerk is ook ‘n gereformeerde kerk wat klein doop en dus het ek aan hom genoem dat dit my nie welkom laat voel nie. **** het aan my gesê ek hoef nie weer by ********* te koop nie, want die Here sorg vir hulle, dit gaan nie vir hulle oor geld nie.
****  het ook die volgende aan my gestel:
•    Die Heilige Gees het dit op sy hart gelê om die vrou van die leuens van die NG Kerk oor die klein doop te vertel.
•    Al waaroor dit mag gaan, is die Bybel.
•    In die Bybel staan dat die waarheid ’n mens vry maak (Joh 8?).
•    Hy weet waarvan hy praat, aangesien hy uit ‘n verlede van o.a. dwelms kom.
•    Hy het voor my hardop gebid dat hy teen my “religious spirit” kan praat.
•    Die klein doop is ‘n heidense gebruik wat die Katolieke geneem het en toe het die NG Kerk dit gevat.
•    
Ek het die volgende aan hom probeer verduidelik, maar nie gevoel ons voer ‘n volwasse gesprek nie omdat ek hom as selfregverdigend en argumenterend beleef het:

  • Ek is ‘n gereelde kliënt en ek het behoefte gehad dat hy insien wat ek van hom as ‘n werknemer van ******** beleef het. Dit kan wees dat ander mense ook gesteur kan word as sy persoonlike oortuigings ********* se beeld benadeel.
  • Dit is ‘n skreiende ironie. Hier staan ‘n vrou wat duidelik tog nie onverskillig staan teen die Bybel nie. Hier staan ‘n klomp mense in die winkel wat hulle besig hou met geestelike lektuur. Hulle staan nie in enige boekwinkel of  ‘n plek met onsedelike lektuur ens. nie en **** trek te velde teen die klein doop as ‘n leuen van die NG Kerk. Dus, hy baklei met mense aan dieselfde “kant” as hy in plaas van met die vader van die leuen / Bose self (Joh 8: 44, Ef 6:11)!  Daar staan in Rom 14:1 “Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry AS SY OPVATTING VAN JOU VERSKIL”. Die gedeelte verder gaan oor dat die Here sê dat ons ruimte sal laat vir ander gelowiges se interpretasies  (“opvattings” vs 5) want dit gaan op die ou end  oor hoe ons oortuig voel om uitdrukking aan ons lewe in die Here te gee (vs 7 e.v.).
  • Is ons besig om aan die Koninkryk te bou of is ons aan die afbreek (2 Kor 13:10)?
  • Nie die klein doop of die groot doop gaan een van ons in die hemel bring nie. Wat vir my en **** in die hemel bring is die gemene deler: dat ons altwee die Here baie lief het omdat Jesus Christus ons Verlosser is (Rom 10:9). My man wys my daarop wat Paulus 1 Kor 1:17 sê. Paulus is bly dat hy min mense gedoop het juis omdat dit verdeeldheid kan bring en so verloor “die kruis van Christus sy krag”.
  • Al die boeke wat in ******** is, is nie die Bybel self nie, dit is ‘n interpretasie van die Woord. Dit is dus opinies oor die Woord en nie die Bybel self nie.
  • Daar staan in die Bybel dat daar ook ‘n tyd is om jou woorde te kies  (Fil 1:9, Kol 4:5-6) (en dalk net  stil te bly).
  • Die klein doop word o.a. in die gereformeerde kerke gebruik as ‘n teken van God se verbond met die baba nog voor hy/sy ‘n keuse kan maak, d.w.s. dit is ‘n teken van Sy genade en onvoorwaardelike liefde. (Dit is dus iets anders as die geloofsdoop.)

Die kern van die saak is: ek het **** twee keer veroordelend teenoor kliënte van ******** beleef.  Soos ek reeds genoem het, ‘n mens verwag nie dat mense wat onverskillig tot die Koninkryk staan, hulle hier sal tuis voel nie. Wat het van Joh 17, die Hoëpriester gebed, geword? Dit is ook Skrif: “Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ‘n stuk klinkende metaal, ‘n galmende simbaal geword. Al het ek die gawe om God se boodskap te verkondig en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks” (1 Kor 13:1-3).  En ek dink ook aan Kol 3 vanaf vs 12 wat praat van ons liefde vir mekaar as Sy uitverkore volk. **** het nie sy feite korrek oor die leer van die doop nie. Ek beskou dit as onverantwoordelik dat ‘n bestuurder in die naam van die Heilige Gees op hierdie manier met geloofsleer kan omgaan.

**** ken my glad nie. As hy net ‘n klein bietjie van my geken het, sou hy allesbehalwe ‘n “religious spirit” sien. Hoe dit ookal sy, gelukkig ken die Here my hart baie goed (1 Tes 2:4).  Ek vra asseblief vriendelik maar baie dringend dat u die beleid van ********aan my sal verduidelik – wie is welkom om by u geestelike musiek en literatuur te koop?
Sjoe, ek is verstom!
***
Die arrogansie van sommige christene laat mens aan godsdienstige kolonialisme dink. As jy nie in elke besonderheid soos hulle glo nie, word jy nie aanvaar nie en word jy uitgewerp. G’n wonder  “christene word deur nie-kerklikes wat tussen 16-29 jaar oud is, as veroordelend, skynheilig, polities en onverdraagsaam ervaar” (Kinnaman & Lyons) nie.

Prof. Jonathan Jansen was as christen skaam oor die arrogansie en onsensitiwiteit van sommige universiteite. Hy skryf:
God en universiteit moet liefs apart

Rapport 2011-01-15 12:41

God uit kovsies se leuse.jpgElke keer as daar ’n krisis in hoër onderwys ontstaan, word ernstige vrae omtrent die karakter en doel van ’n universiteit geïmpliseer.

Wanneer ’n regering probeer om sy wil aan ’n universiteit op te dwing, byvoorbeeld wat toelatings of kurrikulums betref, bestaan daar die wesenlike gevaar dat daar inbreuk gemaak word op die heilige waarde van institusionele outonomie.

Geen politikus kan besluit wie aan ’n universiteit mag studeer of wat studente in hoër onderwys moet leer nie. Dit is uiters gevaarlik.

Daarom, toe in die sogenaamde Soudien-verslag oor rassisme by universiteite ’n aanbeveling aan die minister van onderwys gedoen is dat universiteite sekere kursusse moet onderrig om rassisme hok te slaan, het ek onmiddellik aan die owerhede geskryf om dit duidelik te maak dat hierdie ’n groter gevaar was – staatsinmenging in die kurrikulums van openbare instellings.

Dit is nie die gedagte wat verkeerd is nie – naamlik om studente omtrent rassisme te leer nie – dit is die feit dat die regering begin om ’n ruimte te betree waaruit dit later baie moeilik sal kan beweeg.

’n Universiteit is nie ’n politieke agent van die staat nie, en dit kan nie ’n plek wees waar politieke partye wedywer om bevoordeling tydens verkiesings nie. Wanneer ambisieuse politici ’n streekuniversiteit as die potensiële eiendom van ’n party beskou, soos wat in sommige provinsies die geval is, loop nie net die universiteit nie, maar ook die land sekere risiko’s.

Verder is ’n universiteit ook nie ’n godsdienstige organisasie nie. Wanneer godsdienstige groeperings druk op ’n openbare universiteit plaas om ’n Christen-, Moslem- of Judaïese filosofie in sy simbole of in sy kurrikulum aan te hang, word die eie karakter van die universiteit bedreig.

Die eis dat ’n universiteit byvoorbeeld die woord “God” in sy leuse moet weerspieël, is fundamenteel in teenstelling met die doel waarvoor ’n hoëronderwysinstelling bestaan.

Daar is een uitsondering. ’n Parogiale universiteit wat geld privaat insamel om ’n bepaalde teologie te propageer – soos ’n Katolieke universiteit – kan vanselfsprekend sy godsdienstige ideale in die kurrikulum en in die simbole van die instelling soos die leuse laat blyk.

Nogtans, as dit die naam “universiteit” wil dra, kan dit studente nie indoktrineer nie en moet dit binne sy teologiese kernsaak breedweg inklusief wees oor hoe en wat dit onderrig, en aan wie. Hetsy openbaar of parogiaal, ’n universiteit sal spoedig intellektueel sterwend en sosiaal irrelevant raak as sy akademiese en navorsingsagenda te eng en eksklusief is.

’n Openbare universiteit verskil natuurlik hierin dat dit nie ’n bepaalde godsdienstige gemeenskap dien nie. Dit word grotendeels deur die regering gefinansier en sy mandaat is om op alle moontlike wyses die breedste moontlike gemeenskap van personeel en studente te dien, ongeag waarin individue in en om daardie universiteitsgemeenskap glo – of nie glo nie.

Ek het by Suid-Afrikaanse universiteite gewerk waar die gehoor uit Hindoes, Moslems, Jode en ateïste bestaan het en die instelling sy amptelike geleenthede met Christengebed geopen het, uit die Bybel voorgelees het en opgetree het asof die universiteitsfunksie ’n Sondagse kerkbyeenkoms was.

As Christen was ek skaam oor ons arrogansie en onsensitiwiteit oor hoe ons by openbare universiteite optree. Ek wens so dikwels dat my mense daarna wil streef om Christus te vergestalt op die manier waarop hulle leef? eerder as om sinlose gevegte te veg oor die gebruik van Christus se naam in die simbole van openbare universiteite.

Ons blyk te vergeet dat ons ’n lang, skandelike geskiedenis van die insluiting van God se naam in die simbole van openbare instellings het terwyl ons die ergs moontlike euwels, soos apartheid, in Sy naam propageer.

Een van die mees fundamentele take van ’n Suid-Afrikaanse universiteit ná apartheid is daarom die transformasie van die mandaat van die eeue oue instellings. Ons universiteite was verdeeld op rassegrondslag; die gevestigde universiteite het die rassistiese staat en laasgenoemde se – dikwels gevaarlike – projekte gedien in sowel die geesteswetenskappe (deur die projeksie van ’n staatsideologie, byvoorbeeld) en die natuurwetenskappe (deur die vervaardiging van gevaarlike chemikalieë, as voorbeeld).

Die aard en doel van universiteite is heeltemal verwring, en sommige universiteite het die staatsgodsdiens deur hul teologiefakulteite gehuisves.

Die universiteite in hierdie kontekste was staatsuniversiteite wat die politieke en teologiese ideologieë van die regering van die dag geprojekteer en verdedig het. Die skade wat aan Suid-Afrikaanse universiteite weens hierdie onlangse geskiedenis aangerig is, is onberekenbaar, en dit gaan ’n lang tyd neem om hierdie skade wat by talle instellings aangerig is ongedaan te maak, byvoorbeeld wat betref die manier waarop ons redeneer, die dinge wat ons onderrig, die euwels wat ons verdedig en ons begrip van wat ’n universiteit is en wat dit nie is nie.

Om die punt te maak dat ’n universiteit, sy vlae, leuses en seremonies nie ’n Christen-kruistog moet verteenwoordig nie, is nie om te ontken dat universiteite plekke behoort te wees wat ruim geleentheid aan studente bied om hul geestelike belewenis te vier en uit te leef nie.

Studente (en personeellede) is nie bloot kognitiewe entiteite wat gemoeid is met vakkundige kennis nie; ons is ook geestelike wesens wat gemoeid is met daardie diepgaande menslike vrae omtrent die heelal.

Universiteite moet ruimtes verskaf waar studente kan aanbid as hulle sou wou en, net so belangrik, om die groot religieuse vraagstukke van die dag te bespreek en oor te debatteer.

Hierdie is vrywillige aktiwiteite wat alle religieuse groepe studente moet aanmoedig om aan deel te neem, nie net in Christen-groepe nie.

Wanneer ek klein groepies studente op die kampus ontmoet vir ontbyt, vra ek hulle eers of hulle sal omgee as ons bid om God te dank vir die voorreg van voedsel. Hulle stem meestal in, en dit is wonderlik om die vreugde van studente te ervaar wanneer ons hande hou en bid.

Maar hierdie is nie ’n amptelike universiteitsfunksie nie; dit word nie van studente verwag nie; dit is ’n private aangeleentheid.

Ons as Suid-Afrikaners moet duidelikheid kry oor wat die rol van ’n regering is, wat die rol van die kerke en ander religieuse organisasies is, asook wat ’n universiteit is en wat dit nie is nie.

Wanneer ons die rolle en verantwoordelikhede van hierdie verskillende instellings verwar, verswak ons ons demokrasie.

Wanneer ons die simbole van kerke aan openbare universiteite opdwing, ondermyn ons ons heilige geloof.

Pieter van Niekerk

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere Preekriglyne in Argief