{ARGIEF}

Sondag 22 Januarie 2012 ~ 1 Kor 7:29-31 Derde Sondag na Epifanie

Dit help om te begin dink aan die betekenis van epifanie … gaan na Wikipedia en kyk bietjie wat alles daar staan. http://en.wikipedia.org/wiki/Epiphany_(feeling)

Tweedens: die liturgiese voorstel is weereens baie goed en gee mens uitstekende agtergrond. Dis duidelik dat Paulus in die hoofstuk wat oor huweliksaangeleenthede gaan, moet antwoord op vrae wat aan hom gevra is. Daar is dus ʼn  bepaalde konteks wat die vrae oor seksualiteit en die huwelik aan die orde stel. In vers 29-31 probeer Paulus die gemeente ʼn oriëntasiepunt gee, kom ons noem dit ʼn  hermeneutiese sleutel, waarmee hulle hul konteks en vrae kan beoordeel.

Ek het die afgelope week ʼn  begrafnisdiens van iemand wat vir amper 40 jaar vir my ʼn mentor was, waargeneem. Gister het ek twee jongmense in die huwelik bevestig wat bepaalde keuses vir hulle toekoms gemaak het. My dogter verwag ʼn eersteling – hulle het vandag by ons geëet. Elke dominee ken dié diep ervarings. Dit noop jou om na die lewe in sy totaliteit te kyk. Die liturgiese voorstel sê vir ons: Lees jou konteks in die Epifanie uit die hoek van Markus 1. Watter invloed het die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God op die lewe, op keuses, op gebeure.

‘n Mens kan dit redelik eenvoudig en prakties maak: skryf as prediker neer wat jy as beskrywend van jou lewe op jou begrafnis wil laat sê. Daag elkeen in die gemeente uit om ook sy lewe op te som vir sy begrafnisrede. Skryf vir jou dogter of seun ʼn briefie oor wat jy hulle vir hulle huwelik, en hulle lewe, vir hulle toewens. Skryf ʼn  gebed vir jou kleinkind.  Die gemeente waar ek tans is, het as fokus vir die jaar die motto: “ʼn Lewe wat iets beteken,” en aanvullend daarby: Kom tweede. My vermoede is dat Paulus se kommentaar hierop sal wees dat ons hom gehoor het.

Bogenoemde stel dus voor dat die preek die gemeente oproep om te vra na die essensie van die lewe en geloof.

Wat sal jou gemeente vandag vir Paulus vra as hulle kon?

Elke dominee sal sulke vrae kan kry of sommer net weet wat dit gaan wees. Dan kan jy bogenoemde hermeneutiese matriks op die aktuele vrae uit die gemeente daarop toepas. Dis ʼn lekker intellektuele avontuur! Dit is ʼn ongelooflike geleentheid om ʼn  baie diep geloofsgesprek aan die gang te kry.  Daar gaan kosbare stories loskom en vertel word.

Een so ʼn  saak is waarskynlik nie vêr weg van Korinthe se vrae nie. Google eenvoudig in die Afrikaanse Google soekenjin: “Johan Kotze” … die man wat die week se nuus oorheers oor wat hy aan sy vrou(e) en stiefseun gedoen het. Dis bizar. Dis ons siek wêreld se donker op die helderste geïllustreer!

En dis nie net hier by ons so nie. Google byvoorbeeld die Sweed Sieg Larsson se boek “The girl with the dragon tattoo” – internasionale pryswenner. Kyk die video.
http://en.wikipedia.org/wiki/The_Girl_with_the_Dragon_Tattoo

Wat sê Paulus vir ons hieroor?  Wat sê Markus 1? Hoe lyk ʼn  lewe wat iets beteken? Jy sal Paulus se antwoorde begin verstaan.

Jurgens Hendriks

Seisoen van Luister Ppoint

Preekriglyn in argief