{ARGIEF}

29 Januarie 2012 ~ Vierde Sondag na Epifanie ~ 1 Kor 8:1-13

Vir die aktualisering van die week se preek, sal ek met die volgende gedagtes speel as inleiding. Die aandrang van Julius Malema op grondhervorming – die insinuasie om plaasgrond sonder vergoeding af te vat, die nasionalisering van myne, die opeis van my reg bo dié van ander se regte, die afdwing van my godsdienstige verstaan van tekste (wat homoseksualiteit veroordeel, drankgebruik afmaak as sonde, ens) om enkele kwessies te noem – dien as voorbeelde van die uitdagings waarmee 1 Kor 8:1-13 ons as Christene konfronteer. My verstaan van hierdie gedeelte is dat die argument van Paulus juis daarom gaan om: 1) my verantwoordelikheid teenoor die swakkere na te kom (maw my vereistes, doen en late, wát ék eet en drink – byvoorbeeld nie die ander moet laat struikel, of hul ‘n gewetenslas oplê nie; 2) dit gaan oor liefde en nie soseer kennis nie, want kennis wat liefde nie in ag neem, is nie ware kennis nie, en 3) Paulus roep ons op om te besef God is die ware God, die God van alle gode (sou daar wees).

Dit, meen ek, kan dien as teologiese en etiese beginsels waarvolgens ons ons verhoudinge, gesindhede, gedagtes, opvattinge, geestelike, politieke en sosiale optrede kan rigsnoer. Ook kan dit ons help in ons diverse en multi-godsdienstige en kulturele samelewing. Ten diepste handel dié soort ingesteldheid nie oor die bevrediging van eie behoeftes en drange, of oor die uitoefening of aanspraak van my regte (godsdienstige en of politieke regte) nie, maar oor die bediening en verkondiging van die evangelie van liefde wat redding en verlossing in en deur Jesus Christus ter harte neem.

Met al ons godsdiens- en politieke regte vandag, beteken dit nie ons moet en kan maar al hoe meer selfgerig raak nie. Nee, deel van hierdie bevoorregte posisie (om wel godsdienstige/politieke regte in ons samelewing te kan hê), is om alle vorme van ongeregtigheid aan te spreek. Dit is daar, so glo ek, om ons te help besef wat ons verantwoordelikhede teenoor ons naaste is, en dit dien om ons meer sensitief, bedagsaam en verdraagsaam teenoor ander en hul standpunte en geloofservaringe te maak.

Paulus se argument, benadering en uiteindelik standpunt is nie net daarop geskoei om die geloofsgemeenskap meer mensliker te maak nie, maar veral om ook die gemeenskapslewe ‘n meer mensliker gesig van ontvanklikheid, bedagsaamheid en in ons taal vandag, menswaardigheid te gee.

Om jou reg (die eet van afgodsvleis) prys te gee ter wille van jou (swakker) broer, is nie net braaf nie maar ook prysenswaardig, juis omdat dit getuig van die inagneming van die ander/swakkere en geestelik onvolwassene.

Dit is die soort gesindheid wat die kerk vandag meer geloofwaardigheid sal gee en sy relevantheid ‘n trappie verder sal neem.

Ek sal byvoorbeeld afsluit met ‘n oproep/definitiewe uitdaging aan die gemeente oor hoe ons meer sensitief, verdraagsaam, en veral bedagsaam teenoor alle mense, spesifiek hulle van ander godsdienstige oortuigings, kan leef en só ons samelewing ook ‘n meer menswaardige kleur te gee.

Donald Katts

Seisoen van Luister Powerpoint

Preekriglyn in argief