{ARGIEF}

Sondag 6 November 2011 ~ 1 Tes 4:13 – 18 ~ Realiteit

Ons leef in ‘n tydvak waar kennis vooropstaan, kennis by die uur vermeerder, die ou manier van doen en glo uitgedaag en bevraagteken word. Dink maar aan hoe ons weer gevra word om te dink en te glo oor sekere aspekte van ons godsdiens soos byvoorbeeld die doop, herdoop, bekeringsdoop, gay en lesbiese gelowiges, die Belydenis van Belhar en genadedood (veral in die saak van prof. Sean Davison).

Die dood en worsteling met die afsterwe van ‘n geliefde, bly een van die tergendste ervarings, iets wat veral gedurende hierdie tyd van die jaar blyk toe te neem met die talle padongelukke, voetgangers en onskuldiges wat of deur dronkbestuur of rooftogte, sterf. Die dood dring homself as’t ware as realiteitservaring op hierdie wyse aan ‘n mens op.

Die uitstaande gedagte in die opmars van Paulus hier in 1 Tes 4:13 -18 om die dood as realiteit te verstaan, het te doen met die verhouding tussen kennis en hoop. Die onkundige is sonder hoop, en treur só asof alles deur die dood tot niet gebring word. Hulle wie oor jare nie erns gemaak het met hul godsdiens nie, wie nie die kernwaardes van hul geloof onder die knie probeer kry het en dit nie oor ‘n tydperk beproef het nie, gaan in tye van ‘n doodservaring “uitgelig” word.

In die aangesig van die dood van ‘n geliefde, sal diesulkes wat maar net saampraters of saamlopers of saamdoeners was, aan die kaak gestel word. Die oppervlakkiges (met respek gesê) sal in die seer van die dood ontdek dat hulle min het om op te staan, niks om aan vas te hou, niks om na uit te sien en niks wat hul tot troos kan dien nie. Daarom treur hulle in donkerte, is hulle uitsigloos in hul smart en roubetoning. Volgens Paulus is dit die lot van hulle wat nie kennis oor die evangelie, oor Jesus se dood en opstanding en die relevante sake daaromtrent het nie. Die lot van hulle wat kennis het, wat die evangelie, die dood en opstanding van Jesus verstaan en daarin leef, hulle lot ja, is anders – dit is presies die teenoorgestelde van hulle wat nie kennis of begrip het nie. Dié wie oor die tyd in hul geloof ryp geword het en moeite gedoen het om insig omtrent veral die dood en die lewe hierna te bekom, húlle sal in die doodservaring met hoop gevul wees, hulle sal met hoop treur, hulle sal in vaste vertroue op die lering omtrent die opstanding, nie wankel nie, maar gelowig verseker wees van lewe na die dood. Dit is die hoop waarmee hulle die dood sal ervaar en verwerk. Dit is die hoop waarin hulle die dood van ‘n geliefde sal hanteer.

Kennis is mag, lui die spreekwoord, maar kennis maak ook van ons wenners, amper soos die 7de Laan kompetisie, Ken en Wen wat tans deur die SAUK aangebied en deur RSG uitgesaai word. Kennis is nie net mag nie, maak nie net van ons wenners nie, maar kennis verruim ons vertikale en horisontale begrip. Kennis oor die dood en die hoop wat dit opwek, lei tot ‘n verdieping van ons verhouding met Jesus en ons naaste. Kennis van iets, om met oorgawe toegewy te wees aan ‘n saak, getuig inderdaad van ons erns oor die saak of persoon, dit getuig van ons liefde en passie vir die aangeleentheid en ja, dit spreek van ons “opleef” tot ons verantwoordelikheid, veral die verantwoordelikheid waartoe ons godsdiens/evangelie ons roep. Om te wil ken, is eties en moreel reg en goed. Kom ons word paraat deur kundig op die gebied van godsdiens, geloof, hoop, liefde en Jesus Christus te word en só in doodservaring, die podium van smart en rou te bestyg as wenners, omdat ons deur kennis en hoop beliggaam is en so triomfantlik oor die dood, die “opstanding en lewe na die dood” kan uitroep, en daarin voort kan leef, nou en vir altyd.

Donald Katts

Seisoen van Luister Powerpoint

Preekriglyn in argief