{ARGIEF}

Sondag 13 Nov 2011 ~ 21ste Sondag in Koninkrykstyd ~ 1 Tes 5:1-11

Dit is duidelik dat die “vertraging” van die wederkoms gelowiges laat twyfel het, selfs tot die punt waar hulle verwagtinge vervaag het en hulle hoop begin verloor het. Paulus begin deur te sê dat dit nie nodig was dat hy oor die tyd en omstandighede van die wederkoms aan hulle hoef te skryf nie – hulle behoort te geweet het dat dit onverwags gaan wees. Hy versterk sy aansporing of aanmoediging om te bly hoop en glo, deur hulle te herinner daaraan dat hulle nie in die duisternis leef nie, maar – en dit is die groot ‘maar’, die maar met die hoop: ‘julle is tog almal mense van die lig, mense van die dag’ en sluit homself in by die tweede gedeelte, so asof hy homself as voorbeeld aan hulle voorhou as hy sê, ‘ons’  is nie van die nag of die duisternis nie.
Met sy ‘julle is tog mense van die lig, mense van die dag,’ beroep Paulus hom op die christelike etiek – dit nadat hy baie dogmaties met die tema of onderwerp van die wederkoms omgegaan het, soos hy later ook in verse 9 en 10 doen.

Mense van die lig is mense wat nie slaap nie, bedoelende so dink ek, mense wat nie onbetrokke is, nie op hulself gerig is, mense wat nie net besorg oor eie welvaart is nie. Mense van die lig of dag, is mense wat nie ‘slaap’ nie, en is daarom beslis mense met etiese en morele gedragskodes, mense wat deugsaam is, soos in Paulus se beskrywing as hy sê hulle moet nugter wees, geloof hê, liefde as harnas en die hoop op verlossing as helm hê.

Hoop, byvoorbeeld, kan nie vergestalt as dit waarop ek hoop, my persoonlik nie inspireer en transformeer nie. ‘n Hoop wat nie die innerlike, ons ingesteldheid, gesindheid en praktiese optrede radikaal omskep nie, is nie ware hoop nie, maar drog-hoop.
Die hoop waarvan Paulus praat, is ‘n Hoop, met ‘n hoofletter H, ‘n hoop wat ‘n mens nie h.o.o.p spel nie, maar J.e.s.u.s, wat staan vir opstanding – ‘n hoop waarvan lewe na die dood ‘n realiteit en werklikheid is. Dit is dié hoop wat jou deurentyd met vreugde vul, jou aanspoor en as’t ware dwing na die ander, die hulpbehoewende, jou naaste, en ook hulle wat nog in die donker en duisternis leef.

Mense van die lig is mense wat hierdie hoop besit en daarin leef  – daarom sal so iemand nie net Sondae, weeklikse bidure en/of Paasnaweek feesvier nie, nie net met die eie opgesaal wees nie, maar sal so iemand beslis – en hier leun ek op die gedagte van N.T. Wright – ook soek na wysheid, en ‘n vars vorm van menslikheid en medemenslikheid in die ritme van ons alledaagse werk, speel en ontspanning. Sulke persone sal beslis die wanklanke van munisipale en die nasionale regering se swak dienslewering, rassisme, korrupsie, geweldsiklusse, tienerswangerskappe asook dwelm- en drankmisbruik, met hul hoopvolheid, verdraagsaamheid, hulpverlening en vrye-wil inisiatiewe tot herstel asook (soos baie nou doen met hul omgewing, strate, parke en speelplekke) verfraaiing en ontwikkeling van hul dorpe en of stede, deurbreek.

Met ons sosio-politieke en ekonomiese ongelykhede, rassespanninge, geweld en korrupsie, is dit tyd vir ons as gelowiges om met só ‘n lewende en transformerende hoop op te staan en daarom betrokke te raak in die vestiging van dié hoop wat spreek van lewe na die dood – deur hoopvol en bewustelik te kies vir deugsame dade om só stukkende lewens te heel en mense met twyfel en wie hooploos is, te versterk. Om hulle wie eensaam, verstote en vergete voel, deur ons omgee, liefde en menswaardige behandeling, iets te laat ervaar van die heilige, kragtige en helende teenwoordigheid van God.

Donald Katts

Seisoen van Luister Powerpoint

Preekriglyn in Argief