{ARGIEF}

Kom ons kyk vinnig daarna: Die Bybel sê op plekke dat God altyd dieselfde is. Ps 102:27-28: “Die hemel en die aarde sal vergaan, maar U sal bly. Soos ‘n kledingstuk verslyt, so sal alles vergaan, soos klere wat uitgedien raak, so sal U alles laat verdwyn. Maar U bly dieselfde …”

Volgens hierdie Skrifgedeelte is God onveranderlik. Bly Hy dieselfde.

Maar dan sê die Bybel weer op ander plekke dat God verander. Luister na Jer 18:7-10: “Een oomblik kondig Ek aan dat Ek ‘n nasie, ‘n koninkryk sal afbreek, sal uitroei, sal vernietig. Maar wanneer hierdie nasie hom bekeer van sy boosheid waaroor Ek hom wou straf, sien Ek af van die straf wat Ek oor hom wou bring, en die volgende oomblik kondig Ek aan dat Ek die nasie en die koninkryk sal bou en vestig … ”

Hoor jy die “teenoorgestelde” of “kontrasterende” eienskappe van God?

En dan sê die Bybel: God is magtig! Maar dieselfde Bybel kom sê ook vir ons God is weerloos.

Die Bybel sê vir ons God is hoog/verhewe (Jes 57:15). Maar die Bybel sê ook vir ons God is laag/onder ons/nederig (Mrk 10:45). Weer hoor ‘n mens die “teenoorgestelde” eienskappe of dan verskillende kante van God.

En dan kom sê die Bybel vir ons God is toornig. Maar dieselfde Bybel kom sê ook vir ons, al oordeel God regverdig, al straf Hy, al is Hy toornig, is Hy tog ook liefde! Genade! Deernis! En dis hierdie liefde en deernis van God wat so duidelik in 1 Tim 2:1-7 na vore kom.

Net weer: God is veelvuldig, veelsydig, veelkleurig. Ons moet Hom nie in ons “boksies van verstaan” probeer indruk nie. Daar is soveel verskillende eienskappe/kante in dieselfde God te vind. God is baie wyer as wat ons dink. Hy is so ontsettend ruim.

Ons lees van hierdie liefde en deernis reeds in Hosea 11. Hoe daardie dominee van Noord-Israel in opdrag van God strate toe moes gaan en Gomer, die prostituut, vir hom neem. En met haar trou. Hosea doen dit toe. Hy vat sy eer en status en verruil dit vir die skande en onheiligheid van ‘n prostituut. Sy deel in hierdie ds se rykdom en weelde. Hy gee vir haar koring, olie, ens. Selfs ‘n kind.

En dan verlaat sy hom. Sy gaan terug na haar verlede. Sy gaan vermors al die liefde en deernis wat sy by hom gekry het, op haar ou minnaars. Sy pleeg egbreuk. En nou lees van die spanning in hierdie dominee se hart. Hy voel hy moet haar vernietig, maar hy kan nie. Hy kry dit nie oor sy haar hart nie. En dan gaan terug strate toe, soek haar, en bring haar terug na die “pastorie”. Hy wen weer haar hart. Hy glo sy sal weer vir hom lief word.

Dan slaan sy haar arms om hom en sê: “My man!”. En terwyl sy dit doen, loer sy al klaar weer oor sy skouer na al die weelde en rykdom waarin sy sou deel. Dit gaan dus nie oor die man nie, maar oor die die weelde. En dan God se klag teen sy volk: Julle dien My nie oor wie ek is nie, maar oor die voordele wat daarin opgesluit lê. Julle neem net dit wat julle wil. Julle dien My met jul eie aksente.

Die verhaal van Hosea gaan nie in die eerste plek om vir ons te vertel van ‘n dominee en ‘n prostituut nie, maar dit gaan oor God en ons verhouding met Hom. Die spanning in hierdie dominee se hart oor hoe hy die prostituut, wat sy liefde en deernis in sy gesig teruggegooi het, moes behandel, word die spanning in God se hart.

Ons sien as’t ware die oorlog in God se hart. Hoe sy toorn teen sy liefde en deernis baklei. Ons sien hoe dit afstorm op mekaar en dan op ‘n heuwel, Golgota ontplof – vir jou en my: “My liefde brand te sterk! Ek moet jou as mens eintlik vernietig, maar Ek kan nie. Ek kry dit nie oor my hart nie!”  Op die bestemde tyd, sê ons teksgedeelte, word hierdie losprys betaal.

Wat ons is en het, is net genade. Deernis. Liefde. Hoe behoort ons op God se deernis en liefde te reageer? Eintlik sê die Bybel ‘n baie bemoedigende ding hieroor. Ons moet net die sluise oopmaak. Die kanale ooptrek sodat hierdie deernis en liefde deur ons na elke oord in die wêreld kan vloei. Ons moet bid, ja, maar ons moet die seën van God deur ons laat vloei. Na álle mense. Hoekom laat ons nie daardie dinge, wat in elk geval nie aan ons behoort nie, los, sodat dit kan vloei na daardie plekke waar God vir ons wag, maar waar ons nog nie is nie?

God vra van ons om voortdurend uit ons gemaksones te beweeg na die ongemaksones en –areas van die lewe. Abraham het dit gedoen. Die volk van God moes dit doen. Jesus Christus het dit gedoen. Hy het uit die volmaakte heerlikheid getree na ‘n sondige, stukkende wêreld toe. Waar daar geen herberg vir Hom was nie. Sy eiendom het Hom nie herken nie. En dan vat Hy die strate en lanings met die Goddelike boodskap. Voortdurend uit sy gemaksones uit na ‘n verloregaande wêreld toe. En dan loop Hy gedwonge na daardie onveilige plek – Golgota. En daar betaal Hy die prys vir ons sonde. En dis wat God vandag nog vir ons vra. Dis al hoe die mensdom sy liefde en deernis gaan ervaar. Ons moet sy hart vir die wêreld gaan wys. Ons is sy voete en hande!

En die resultaat?

  1. Waar jy ‘n oop kanaal word, ervaar jy buitengewone blymoedigheid!! In die Grieks word die woord “ilaros” gebruik (2 Kor 8 & 9). Miskien het jy nou reeds ons “hilarious” hierin gehoor. Ons gebruik “hilarious” wanneer iets snaaks is, maar “ilaros” in Grieks beteken eintlik vrolik, opgeruimd, vol blydskap. Dit was ook in die OT so. Wanneer die volk hulle beste na God gebring het, het hulle ‘n “hilarious” partytjie gehou. Hulle het trompet geblaas. Gesing. En geniet. Hulle het ‘n stuk blymoedigheid ervaar! Dieselfde met ons wanneer ons oop kanale word.
  2. Ons is soms huiwerig om te gee – bang dit raak op. Ons wil ‘n appeltjie vir die dors hou. En dis goed so. Maar onthou: God sal altyd weer voorsien. You’ll never outgive God!! God sê: Jy kan maar gee. Maak oop die sluise. Wie volop saai, sal volop maai. Hy sal weer voorsien.
  3. God word geëer! Cassie Carstens van Stellenbosch vertel die volgende verhaal. ‘n Polisieman kom vroegoggend van diens. Dis koud. ‘n Seuntjie staan buite ‘n bakkery en loer met groot ogies na die oliebolle wat die polisieman binne koop. Die polisieman stap dan uit by die seun verby. Na so 10 treë draai hy hom en gaan gee sy oliebolle vir die seuntjie. Toe hy so 100 treë weg is, voel hy iemand aan sy jas pluk van agter. Dis die seuntjie met sy groot ogies en spierwit glimlag: “Excuse me sir, but are you God?” Ek lees hoeveel mense in Kalkutta, in Mosambiek en in SA uitroep: Wys my dat God leef. Maar ons hou vas!! God wil in en deur jou en my leef. Ons moet sy deernis en liefde vir die wêreld wys! Sy hart! Wanneer ons gee, eer ons vir God!
  4. En wat gebeur nog as jy ‘n oop kanaal word? Jy ontdek God se skatte. Word verryk. Jy ontdek dié Skat! God sê: Die skatte vd koninkryk, die ewigheid, die seën en die volheid van Hom, sal jy (waarskynlik) net ontvang – BUITE jou gemaksone!

Tony Campolo, ‘n Amerikaanse sosioloog, het in ‘n stadium in Ethiopië navorsing gedoen. Met sy vertrek uit Ethiopië nadat hy sy navorsing voltooi het, het hy na ‘n kleinerige vliegtuigie gestap. Toe hy by die deur vd vliegtuigie kom, het hy vir oulaas omgedraai en oor die gebied gekyk.

Skielik sien hy hoe ‘n vrou met ‘n babatjie na hom gehardloop kom.Sy gaan staan toe voor hom en sê: “Please sir, take my child, he’s going to die!”. Hy sê, hy kon nie. Hy het nie kans gesien om ‘n Ethiopiese kind in Amerika groot te maak nie.

Die deur vd vliegtuigie is toegemaak. Toe hy sy sitplek inneem, sien hy die vrou het op die vlerk geklim en steeds het sy gesmeek: “Please sir, take my child, he’s going to die!”. Die grondbemanning het haar afgetel en die vlieënier het opgestyg. Hy het ‘n wye draai terug oor die aanloopbaan gemaak. Tony Campolo het gesien hoe sy nog steeds daar gestaan het. Toe die vlieënier vir ‘n tweede keer laag oor die aanloopbaan vlieg, het sy steeds met uitgestrekte arms haar baba na die vliegtuig uitgehou – en hy het skielik geweet wat daardie babatjie se naam was: “Vir sover julle dit aan die geringstes gedoen het, het julle dit aan My gedoen!”

Hy het geweet: God se skatte vind jy net buite jou gemaksone. Veral dié Skat, met ‘n hoofletter!!

God het reeds vir ons die antwoorde gegee. Dit lê in ons koppe, ons sakke, ons beursies, in die seën wat Hy reeds vir ons gegee het.

Ons sal God se skatte, so lyk dit vir my, nie tussen die weelde van hierdie wêreld vind nie! Ek dink, God het sy skatte, sy muntstukke, gevat en uitgestort in ons stukkende mense en gemeenskappe. En as ons God se seën wil ervaar, as ons sy skatte wil ontdek, as ons verdieping wil ervaar, sal ons dit waarskynlik dáár vind!

God wag vir ons plekke waar ons nog nie is nie. Hoor ons dit? Verstaan ons dit? God wil deur ons by alle mense uitkom!

Seisoen van Luister PowerPoint

Vorige riglyn in die Preekargief