{ARGIEF}

12 Februarie 2012 ~ Sesde Sondag na Epifanie ~ 2 Konings 5:1-14 ~ Die mag van klein dingetjies

Is hierdie die verhaal van die groot Aramese generaal Naäman, wat op ‘n grootse manier deur die God van Israel genees word deur die groot profeet Elisa?

Of is dit die verhaal van mense wat klein dingetjies doen? Mense wat klein gemaak is deur die groot menere van die tyd, wat slawe gemaak is deur die groot oorwinnaars van die tyd, wat in terme van die toegekende rolle in die samelewing klein en niemand is nie?

 

Is dit nie die verhaal van klein mense wat iets nuuts binne ou en harde sisteme doen, en die klein dingtjies dan groot dinge word nie?

‘n Klein meisietjie word uit Israel weggeroof na Aram. Aram is vandag se Sirië.  En daardie tyd, soos vandag, is Israel en Sirië in ewige konflik met mekaar.  Daar op die Golan Hoogtes.  Hierdie keer is dit Sirië wat ‘n rooftog op Israel uitgevoer en onder andere ‘n dogtertjie buit het.  Sy moet nou as slavin in Generaal Naäman se huis werk.  Maar die groot Siriese Generaal Naäman het ‘n groot probleem.  Hy is melaats.

Die klein meisietjie, ver weg van haar huis, plant hier in die vreemde ‘n klein saadjie.  Sy kry nooit ‘n naam in die verhaal nie.  Sy sê net een sinnetjie en dan nooit weer iets nie.  Maar wat sy sê, maak groot dinge.  Sy sê meneer Naäman moet na haar land, na die Israel wat hy pas beroof het, gaan om deur die profeet in Samaria genees te word.  Die meisie is klein, maar nie kleinlik nie.  Sy weet iets groots, en sy deel dit.  Sy plant haar klein saadjie van genade tussen grootse mense en genadelose strukture.

Naäman kom daarvan te hore, en wil nou iets groots daarvan maak.  Hy gaan sien sy koning.  Met dié se brief en groot geskenke van goud en silwer sit Naäman af na die koning van Israel.  Die pas beroofde koning van Israel skrik groot.  Is hierdie ‘n soort van oorlogsverklaring?  Hy wat die koning is kan tog nie mense gesond maak nie, net God kan.  Dan kom die profeet Elisa tot sy redding.  Stuur Naäman na my toe, en ek sal hom wys wat genesing is.

Naäman doen dinge nog steeds so groots soos altyd.  Met ‘n grootse vertoon van wa en perde stop hy voor Elisa se huisie.  Maar nou doen Elisa iets kleins.  Hy kom nie uit en roep God se genesing op die siek man af in ‘n grootse vertoning nie.  Nee, hy kom glad nie uit nie.  Hy stuur ‘n boodskap na Naäman dat hy iets kleins moet gaan doen.  Naäman moet homself sewe maal in die Jordaanrivier gaan was. 

Naäman is gekrenk en woedend.  Hier moet hy, ‘n groot man, ‘n klein duikie gaan vang in wat in sy oë sommer ‘n klein riviertjie is. 
Maar toe doen hy dit.  En iets groots gebeur.  Sy vel word weer soos dié van ‘n klein kindjie.  Soos dié van die klein dogtertjie met wie die verhaal begin.

‘n Klein dogtertjie plant ‘n klein saadjie. ‘n Groot man kry ‘n klein werkie, om op ‘n klein plekkie, oftewel in ‘n klein riviertjie, te gaan doen. En dan word hy weer soos ‘n klein kind – met die lewe wat nuut en vars voor hom lê.

Wat ‘n fantastiese verhaaltjie van hoop.  En aanmoediging.  Ja, die verhaal moedig elkeen van ons aan om iets te doen, al is dit hoe klein.  En al is onsself maar ook so klein.

Elkeen van ons moet nou eintlik ‘n lys gaan maak oor watter klein dingetjies ons elkeen kan doen om ‘n verskil te maak.

Ek wil hier net graag oor een soort klein dingetjie praat wat elkeen van ons kan doen.  Oftewel, eintlik moet doen.  En dis die klein dingetjies om ‘n groot verskil aan ons planeet en sy slegterwordende toestand te maak.

Jy kan gloeilampe in jou huis sit van die soort wat energie bespaar. Immers is ‘n derde van ons elektrisiteitsrekening van die ligte wat in ons huise brand, afkomstig. En wat van son-panele?  Die son skyn in Suid-Afrika.  Kom ons geniet en gebruik dit om die son oor die hele wêreld te laat skyn. En dan is daar nog die ligte wat vir mooigeit brand, wat ‘n mens kan afsit. 

En wanneer jy ‘n yskas of ‘n wasmasjien koop, vra tog maar die verkoopspersoon watter model stel die minste koolsuurgas vry.  Dalk weet hy of sy!  En was jou wasgoed op ‘n lae temperatuur.  Vandag se wasgoedseep werk net so goed in koue water.

En sit jou TV’s en drukkers ensomeer by die muur af.  As hulle op “standby” bly, dan gebruik hulle nog heelwat energie.

Boonop sê die slim mense vir ons ‘n interessante ding.  Hulle sê dat ons minder vleis en melkprodukte moet eet – want dit gee ‘n klomp koolsuurgas af om te produseer.  Eet eerder vark en groente, dis groener om op die tafel te kry.  ‘n Mens kan op nog baie ander maniere die wêreld gesonder eet.  Jy kan kos eet wat nie ver van jou af geproduseer is nie, en in seisoen is.  En ondersteun die plaaslike oggendmark.  Jy kan ‘n groentetuin aanhou, nie een wat myle lank is nie, maar tog basiese groente op die tafel sit. En ‘n komposhoop maak. Vermy geprosesseerde en verpakte kos, en eet organies.  En o ja, moenie net groente en vrugte eet wat volmaak lyk nie – skewe groente en vrugte smaak net so lekker.

Ry minder en stadiger.  En koop ‘n hibridiese kar. 

Ag, nee wat, sal julle sê, vir wat moet ons in ‘n preek na hierdie huishoudelike goed luister?

Die klein dogtertjie in die Bybelse verhaal het ook iets huishoudeliks gedoen.  Sy het ‘n saadjie in haar huishouding geplant.  En daar het groot en genesende dinge uit voorgekom.

Kom ons doen dieselfde, en begin met klein dingetjies tuis.  Dit kan die wêreld net gesonder maak.

Christina Landman

Seisoen van Luister Ppoint

Preekriglyn in Argief_1

Preekriglyn in Argief_2