{ARGIEF}

Sondag 19 Junie 2011 ~ Drie-eenheidsondag

2 Kor 13:5-14 – Bou of breek jy?

οίκοδομην – to increase the potential of someone, with focus upon the process involved – to strengthen, to make more able, to build up according to the authority which the Lord has given me to build you up, not to tear you down or … to strengthen and not to weaken – 2 Kor.13:10  (Louw & Nida).

Volgens Buitendag beteken “oijkodomh” die opbou van die huis van die Here (2 Kor 13:10, Rom 14:19, Ef 14:19). Ekodomie kan ons as geskape skeppers inspireer om hierdie skepping op te bou met ’n ingesteldheid van, óns minder en Hý meer. (www.teo.co.za).

Paulus verstaan die gesag wat hy ontvang het as opbouend, sy mag verdruk nie, maar bemagtig.  Bemagtiging is:

  • die proses van verkryging en/of deelmaking van mag; die mag is  hoofsaaklik deur geloof in God en sy unieke mag afkomstig
  • die aktualisering van onontginde vermoëns en die versterking en ontwikkeling van gelowiges se bestaande vermoëns deur God geskenk, om hulle volle potensiaal te bereik, gerig op vryheid, geregtigheid, transformasie en groei, soos God se wil volgens Bybelse getuienis openbaar 
  • wanneer die mens as beelddraer van God vennoot van God en saam met ander beelddraers kreatief betrokke raak by die skepping van ‘n nuwe wêreld.

Deur dié proses van bemagtiging verkry gelowiges meer en meer beheer oor hulle lewe en toekoms. Die doel is dat gelowiges ten volle hulle geaktualiseerde menswees soos God wil, sal ontwikkel (my woordomskrywing). 

Paulus verwys na sy gesag as opbouend, instaatstellend, aktiverend, inspirerend, kreatief, versterkend en bevrydend; dit toon dat  sy geloof met opoffering en diens, in plaas van eise stel en om bedien te word, gepaard gaan.

“Dit is baie makliker om afbrekend as opbouend te wees en dit vra meer van iemand om ander aan te moedig en positief te beïnvloed as wat dit is om ander tot kwaad aan te hits. Jesus het egter nie sonder rede daarop gewys dat God se koninkryk soos ’n klein bietjie suurdeeg in ‘n hele skottel deeg ingewerk kan word nie (Matt 13:33). Hy het ook nie onnodig gesê dat iets klein – soos ’n mosterdsaadjie – ’n groot effek op die omgewing kán hê nie (Matt 13:32). Ons weet dat selfs een brandende kers ‘n effek op die donkerste donker het (Joh 1:5) én dat die hekke van die doderyk oopgebreek is en Jesus se goeie nuus oor God nie kan terughou nie.” (Matt 16:18 in die oorspronklike Grieks)
As elkeen van ons ‘n besluit neem om ander eerder op te bou as om hulle af te breek en om ander eerder aan te moedig om ‘n opbouende bydrae te lewer as om hulle aan te hits om te ontwrig en dié besluit tot uitvoering bring, kán ons land en selfs die wêreld heelwat anders wees en lyk as wat tans die geval is. Mense kán hulle denke en gedrag verander. Ons almal ken al die uitdrukking: saai ‘n gedagte, kweek ‘n optrede; saai ‘n optrede, kweek ‘n gewoonte; saai ‘n gewoonte, kweek ‘n karakter en saai ‘n karakter en kweek ‘n bestemming. Ons weet ook dat dieselfde krag wat Jesus uit die dood uit opgewek het in ons aan die werk is (Ef 1:19-20). Waarom so baie mense dit nie glo en met dié wete as vertrekpunt lééf nie, is eintlik onbegryplik. Is dit dalk omdat dit net te maklik is om negatief, moeilik en onaktief te wees?

Wat hoor jy in Jesus se woorde dat Hy die tempel sal afbreek en in drie dae sal herbou (Matt 26:61; 27:40; Mark 15:29)? Hoor jy die frase oor die afbreek of die deel oor die opbou? Bou jy of breek jy? God maak ons bouers. Ons is saam met Jesus uit die dood opgewek en ons bou voort op ‘n fondament wat reeds gelê is (1 Kor 3:11; Ef 2:20; Hebr 11:10; 2 Kor 13:10). Alhoewel alles ons geoorloof is, is álles nie heilsaam en opbouend nie (1 Kor 10:23). Ons uitdaging is om uit ons groewe op te staan en ons vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder (Rom 14:19) te beywer. Ons is geroep om aan ander te dink en in alle omstandighede só op te tree dat dit nie net vir onsself nie, maar vir ander mense goed is (Rom 15:2; Ef 4:29). (uit “God maak ons bouers”, Gerhard Bothma, Ekerk)
Julian Müller (Om te mag twyfel. ’n Gelowige se reis) wys op ‘n afbrekende geloofstaal. Hy reken dat die verdagmaking en bevraagtekening van sy geloofstaal juis sy ongemak met die “ou” dogmaties korrekte geloofstaal bevestig. Hy sê: “Die ‘tweede taal’, skep ruimte, terwyl die taal van die gereduseerde ‘evangelie’ konfronterend, uitdagend en selfs liefdeloos is”. 

Dis Drie-Eenheidsondag, laat ons dié debat hieroor kreatief met liefde teenoor diegene wat met ons verskil benader.

Pieter van Niekerk

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere preekriglyne in Argief