{ARGIEF}

Sondag 14 Februarie 2010 ~ 2 Kor 3:12 – 4:2

Na ek die teks en konteks, eksegese en bespreking van die preekstudie gelees het, het twee aktuele toepassingsvelde by my opgekom.

Die eerste het betrekking op die kerk. Die Westerse kerk, die Noordelike halfrond se Christendom en die gevestigde kerke wêreldwyd wat uit hierdie teologiese tradisie spruit, kwyn. Ook die NGK. Vergelyk maar getalle in die NGK Jaarboek so elke vyf jaar tot en met vandag. Persentasiegewys tot die aarde se bevolking daal die Christendom nie, maar die hartland van die Christelike geloof verskuif uit die Noorde na die Suide, van ryk mense na arm mense. Hier by ons sien mens dit op verskillende maniere. Die geslag wie se kinders tans uit die huis beweeg en die beroepslewe betree, vind male sonder tal dat hulle kinders na ander kerke gaan. Hoekom? Hipotese: hulle het nie die glans, die heerlikheid, die werklikheid van die teenwoordigheid van Jesus Christus deur die krag van sy Gees as ʼn realiteit in hulle ervaring van die kerk beleef nie. Natuurlik speel baie faktore hier ʼn rol. Maar is die diepste rede nie te vind in die waarheid van die teks nie?

Navorsing toon dat dié gemeentes wat uit die negatiewe kwyn-spiraal losbreek, feitlik sonder uitsondering getuig dat God vir hulle ʼn nuwe werklikheid geword het. Soos Moses op die berg, kan hulle van ʼn ervaring van God se teenwoordigheid getuig. Dis onlosmaaklik gekoppel aan ʼn lees van die Woord en ʼn openheid om die Gees te gehoorsaam … dit waarvan Paulus hier praat.

ʼn Tweede toepassingsveld is om in die lig van die teks te besin oor wat tans in die nuus is. Ons President se 20ste kind – buite-egtelik – oorheers tans die nuus. “Vermy praktyke wat nie die lig verdra nie …”  sê ons teks. Inderdaad! Wat hier gebeur is nie ʼn president waardig nie, ook nie ons land nie. Ek wonder net hoeveel van ons kan klippe gooi? Is ons land en ons huise nie in die toestand wat ons is as gevolg van praktyke wat nie die lig kan verdra nie? Dit voel vir my as ons soek na hoop – vers 12 se hoop – dan is dit net op een plek te vind: op Moses se reis, se bergklim pad na God toe.

Jurgens Hendriks

Seisoen van Luister Powerpoint

Preekriglyn in argief