{ARGIEF}

Derde Sondag in Koninkrykstyd – 2 Kor 5:6-10 (11-13), 14-16
Christus se omgee-hart klop in ons op Jeugdag

Ons vier hierdie week Nasionale Jeugdag. Daar is bevoorregte, minder-bevoorregte, verwaarloosde en verlore kinders en jongmense in ons land. Ek herinner my aan ’n nasionale navorsingprojek in die 1990’s oor die stand van die SA jeug. CASE het in “Growing up tough” hul ondersoekresultate gepubliseer. Die meerderheid meisies en jong vroue het aan kerkbewegings soos jeugkore behoort en die seuns en jongmanne het die meeste van sport gehou en hul tweede keuse was die kerk. Soos in die geval van die tweede Carnegie armoede-ondersoek, het CASE die kerk se impak en betrokkenheid bevraagteken. Terwyl meeste wit kerke hul wonde gelek het oor hul mag wat aan die kwyn was, het baie swart kerke hul lippe in groot afwagting gelek. Intussen het ‘n groot groep –hoofsaaklik swart jongmense – met weinig hoop groot geword. Dis waarskynlik hulle wat die land se stabiliteit bedreig en die nasionalisering (oorname) van Suid-Afrika se rykdom in land- en mynbou eis en oor ‘n tweede Zimbabwe droom, soos die volgende berig getuig:

SA sal Zim-pad stap, sê ANC-Jeugliga
Pretoria – Suid-Afrika kan in die toekoms sukkel met grondbesetting as die ANC nie sy beleid oor grondhervorming verander nie, het die ANC-jeugliga (Vrydag 8 Junie 2012) gesê.

“Ons eindig dalk met ‘n beleid wat nie deur die ANC gelei word nie,” het Ronald Lamola, adjunkpresident. van die ANC-jeugliga, gesê.

“Dit was eers ná kragdadige massa-optrede deur die mense van Zimbabwe dat Zanu-PF daardie rol oorgeneem het…. Dit lyk of dit dieselfde hier gaan wees,” het hy by ‘n beleidskonferensie van die Jeugliga in Centurion, Pretoria, gesê.

Lamola het gesê die enigste manier om ekonomiese ongelykheid reg te stel is om artikel 25 van die Grondwet te verander.

“Jy kan Gear [die makro-ekonomiese beleid vir groei, werkskepping en herverdeling] bring, jy kan die ROP [die rekonstruksie-en-ontwikkelingsprogram] bring…. As jy nie aan artikel 25 van die Grondwet raak nie, is al die ander beleid wat jy bring net ‘n oppervlakkige oefening,” het hy gesê.

Artikel 25 hou verband met eiendomsreg en stel voorwaardes vir die ontneming van eiendom, nie net land nie, en onteiening. Dit maak spesifiek vir grondhervorming voorsiening.

Lamola het gesê wit Suid-Afrikaners en beleggers sal na verwagting uit die land vlug wanneer “militante en aggressiewe” wetgewing in plek gestel word.

“Toe die grondonteieningsproses in Zimbabwe begin het, het mense weggehardloop,” het hy gesê. “Hulle gaan [die land] verlaat.”

“Wat het dit met dié Sondag se teks te make?”, mag jy tereg vra. Ons kyk met Christus se oë na ander en veral na ons jeug (kinders en jongmense). Ons steek nie vas by die destruktiewe dinge wat sommige jongmense aanvang en sê nie, maar sien hulle potensiaal – die nuwe moontlikhede in hulle raak. Paulus, dink ek, wil seker maak nuwe mense leer om nie vooraf te besluit wie ons liefde, ore en oë waardig is nie. Die Heilige Gees wil ons lei om deur ons luister en kyk na ander, in alles en almal iets te ontdek wat ons liefde waardig is. Sodat ons al hoe meer soos Christus sonder voorbehoud sal sien. Dan sal sy manier van kyk ons s’n word en ons hart soos syne klop, al dra wie ook al ‘n goue horlosie, verloor ons nie ons nuwe posisie in Christus nie.

Pieter van Niekerk

Seisoen van Luister

Geen Preekriglyn in Argief