{ARGIEF}

24 Junie 2012 ~ Vierde Sondag in Koninkrykstyd ~ 2 Kor 6:1-13
Ons loop as’t ware die vertrek binne in die midde van ‘n baie brose en eerlike gesprek tussen Paulus en die gemeente in Korinte as ons hierdie week die sleutelteks, 2 Korintiërs 6:1-13, gebruik as die basis van ons besinning met die oog op die erediens Sondag. Dit is belangrik om tyd te neem om die konteks van die gesprek beter te begryp en om die groter argument in gedagte te hou as ons in die week oor die teks nadink. Paulus skryf aan die gemeente in Korinte om iets van die legitimiteit van sy eie bediening te verduidelik. Paulus se verhouding met die gemeente is op ‘n brose plek. Paulus en sy teenstanders het verkillend oor die evangelie en apostelskap nagedink. Paulus probeer homself verweer teen allerlei valshede wat sy teenstanders onder die mense van die gemeente in Korinte versprei. Die trant van die teksgedeelte is broos en intiem. Paulus praat oor sy eie gebrokenheid en oor die weerloosheid van sy eie bediening. Deur sy eie gebrokenheid bloot te lê wys Paulus ook op die andersoortige waardes van die evangelie. Waardes wat anders lyk as die van die wêreld.

Hoewel die teks ver van ons eie tyd en leefwêreld ontstaan en ‘n gemeenskap aanspreek wat op ‘n ander manier funksioneer as die wêreld waarin ons leef in die jaar 2012, is dit tog opmerklik om die bekendheid van die omstandighede op te merk. Paulus se bediening is op die oog af nie besonder suksesvol nie en sy teenstanders lê klem op sy sukkelaar bestaan. In terme van die wêreld se maatstaf vir sukses is Paulus nie juis ‘n besondere goeie voorbeeld nie. Paulus leef egter vanuit ‘n alternatiewe verstaan van die werklikheid. Hy leef as ‘n navolger van Christus en probeer weereens aan die gemeente in Korinte verduidelik wat dit beteken as God se Kairos in die wêreld inbreek.

Paulus se uitdaging tot herorïentasie is vandag net so relevant soos in die ou wêreld se konteks van Korinte. Hierdie gedeelte hou radikale uitdagings in en spreek ‘n verskeidenheid sake aan wat maklik tot ‘n misverstaan van die Evangelie kan lei. Hierdie gedeelte daag ons uit om te dink oor wat dit beteken om deel te wees van God se werk op aarde, wat dit beteken as ons sê dat die koninkryk van God kom en wat dit beteken om suksesvol te wees in ons roeping as gelowiges.

Paulus begin die gedeelte deur te verwys na die gemeente as ‘medewerkers’ in die koninkryk. Annes Nel verwys in sy preekstudie in die verband na die volgende: “Paulus en sy teenstanders het verskillende opvattings oor apostelskap gehad. Volgens Kreitzer moet ons onderskeid maak tussen apostelskap as ‘agency’ en apostelskap as ‘agent.’ Kreitzer verwys na Crafton wat aangedui het dat Paulus apostelskap verstaan het in terme van ‘agency’, dit wil sê: ‘with God himself being the operative agent behind the activity of his appointed apostles’. Die teenstanders van Paulus het apostelskap verstaan in terme van ‘agent’, wat die moontlikheid van God as die aktiewe agent agter die apostels se werk uitgesluit het. Paulus sien homself egter as iemand deur wie God werk en daarom is hy ’n medewerker van God en gesant van Christus. Paulus het geen belangrikheid of boodskap van sy eie nie (C K Barret, The Second Epistle to the Corinthians, London, 1973). Maar waar hy werk en praat, is God teenwoordig en aan die woord…” Die gemeente in Korinte word genooi om medewerkers te word. Om deel te word van dit wat God reeds aan die doen is.

Wat God aan die doen is word in die daaropvolgende vers verduidelik. God se Kairos breek in die wêreld in. Die koninkryk van God is nie iets wat eendag op ‘n reëndag gaan gebeur nie. Dit is alreeds aan die gebeur en gelowiges word geroep om daaraan deel te neem. Hoewel ons altyd verlang na meer, het ons reeds in die hier en nou die kans om God se koninkryk sigbaar te maak. Dit gebeur egter nie met geweld en magsvertoon nie. Dit gebeur dikwels nie in die groot goed of die indrukwekkende dinge nie, maar in broosheid, in gebrokenheid, in eenvoud, in stilte en veral in ‘mislukking’. Die waardes van God se koninkryk is vreemd aan die wêreld waarin ons leef. Dit is dikwels nie blink genoeg of groot genoeg of oorweldigend genoeg nie. Hoe kan dit ook wees, met waardes soos liefde, deernis, nederigheid, goedhardigheid en getrouheid? Hoe kan dit wees as ons telkens gevra word om minder te wees en om ander hoër te ag as onsself?

Paulus daag die gemeente in Korinte uit om weer te dink oor die evangelie, om terug te kom na die waardes van die koninkryk van God en om medewerkers te word in broosheid en deernis soos Christus ons in sy lewensvoorbeeld voorgaan. Hoe merkwaardig dat Hy ons vandag nog steeds oor dieselfde goed kan uitdaag?

Charlene van der Walt

Seisoen van Luister powerpoint

Preekriglyn in Argief