{ARGIEF}

Sondag 9 Oktober 2011 ~ 17 de Sondag in Koninkrykstyd ~ Verder geluister: Eks 32:1-14

Sonder ʼn verwysing na rugby sal aktuele kommentaar die week moeilik aanvaarbaar wees. So, al is dit eintlik net van toepassing op die Bloubul ondersteuners, is dit immers duidelik dat aanbidding van ʼn bul nie ʼn  goeie ding nie. Die Bybel sê so. Ek sê niks meer hieroor nie, dis ʼn  saak vir hulle gewete. So, kom ons skuif aan na Eksodus 32.

Populariteit. Dit is een van die Satan se drie grootste troefkaarte (Matt 4). Jesus weet. As Hy van die tempel se dak sou spring, kon Hy die hele Israel aan sy voete hê.

Godsdiens kan die spoor heel byster raak as dit ʼn  populêre ding word, die “in” ding word. Deesdae is die “in” woord “cool.” “Cool” is nie ʼn woord wat geloof kan beskryf nie. Dit pas nie daarby nie. Die eerlikste woord langs geloof en kerk, is waarskynlik kruis.

Deur die eeue heen was daar baie parallelle vir wat by die berg in die Sinai woestyn gebeur het. Vandag is een van die bekendste parallelle die verskillende gestaltes van die welvaartsteologie, “prosperity gospel” in Engels. Dis Amerikaans in sy oorsprong en vind op ʼn bisarre wyse in Afrika se armoede ʼn verstommende aantrekkingskrag. Die Aaron-vrywilligers is oral. Die “prosperity cult” se dominees, en daar is derduisende in Suid-Afrika ook, se noemnaam elders in Afrika is “rogue pastors!”

Op die tafels wat Moses van die berg af gebring het, geskryf deur God se eie hand, was 10 woorde – 10 riglyne. Jy kan dit opsom in liefde tot God en liefde tot jou naaste. Die tien woorde draai nie om jouself en jou eie goed en genot nie. Dit is nie veronderstel om te lei tot ʼn dans om wat met die gemeente se goud en silwer gebou is nie. Waarom dans die kerk en gemeentes vandag? Dink daaroor.
Daar is geen beloofde land sonder die kruisiging van elke vorm van selfgesentreerde godsdiens moontlik nie. Die vraag wat elke gemeente en kerk in die lig van Eksodus 32 moet vra, is: waarom draai ons feeste en samekomste?

Kom ons vat dit baie persoonlik na die rol van geestelike leiers. Moses en Aaron is hier soos argetipes. Vir die een gaan dit om die gemeente tevrede en gelukkig te hou. Vir die ander gaan dit om in die teenwoordigheid van God sy wil te verneem, rigtingwysers na die beloofde land, na die missio Dei te kry.

Die Skrifgedeelte is ongetwyfeld een van die treffendste voorbeelde van God se genade. Maar terselfdertyd – en wee die mens wat die paradoks vergeet – sonder gehoorsaamheid sterf jy êrens in die woestyn. Die Aaron-tipe gaan die volk van God nie in die beloofde land kry nie.

Die Moses-tipe se duidelikste gestalte is Jesus Christus self. Hy gee Homself tot in die dood sodat die volk van God – al sy skepsele – kan lewe.

Wat leer mens hierdeur in die 17e koningsweek? ʼn  Koning en ʼn  leier gee sigself weg, tree in by God, leef as Middelaar tussen God en die wêreld, dra swaar aan kliptafels en ʼn kruis. Opdraand en afdraand dra die gewig van leierskap nie gemaklik nie en dit is nie populêr nie.

Is dit dan alles morbied? O-nee. Paradoksaal is die grootste fees naas die grootste opoffering. Die beloofde land word ontvang waar geloof kan onderskei, waar dit op die berg by God vertoef en God self vir ons sy padkaart gee. Die sleutels word ontvang in die proses van middelaar wees. Vryheid kom deur gehoorsaamheid, die genade word oorstelpend in die sterf van die self.

Jurgens Hendriks

Seisoen van Luister Powerpoint

Preekriglyn in Argief