{ARGIEF}

28 Augustus 2011 ~ Tiende Sondag  van Koninkrykstyd: Eksodus 3:1-15 ~ Onbeperk die toekoms in

My tone krul altyd van lekkerte om wanneer ek daardie deel lees in Eksodus 3 waar God vir Moses uit die braambos sê: “Ek is wat Ek is.”

Nou wat is so lekker daaraan? sou julle vra.

Die eerste ding is dat God sê Hy bestaan na Sy eie aard. God het al die diere en die mens geskape om te bestaan na hulle eie aard. Om te geniet om elkeen na sy of haar eie aard te bestaan. En nou kondig Hy Homself aan as die Een wat na Sy eie aard bestaan.
En wat is God se eie aard? Maar dit weet ons mos al. Die geskiedenis leer ons dit. God is ons bevryder, Hy is ons redder. Hy is ons vriend wat ons hand vat en saam met ons deur die lewe stap en ons beskerm en wys maak.

Maar wanneer God sê “Ek is wat Ek is” sê Hy ook Hy is onbeperkte energie! Hy het alles geskape. Hy het die wêreld geskape waarin ons almal onbeperk kan lewe volgens ons aard. Hy het, om die waarheid te sê, die werklikheid self geskape. En die werklikheid is die moontlike. Die werklikheid is goed. Dis die plek waar ons ons bestaan kan vier as onbeperkte moontlikhede.

Die tweede ding wat God sê as Hy Homself “Ek is wat Ek is” noem, is dat Hy deur niks ingeperk word behalwe Sy eie bestaan nie. Die goddelike bestaan word deur niks beperk behandel bestaan self nie. En daarmee sê God einlik Hy het geen perke nie, want God is oral en perkloos. 

En binne daardie onbeperktheid van potensiaal en moontlikheid, daarbinne het Hy ons geskape. En besluit om die pad saam met ons te loop. Vir Moses sê Hy dis die pad van Abraham, Isak en Jakob. Dis ‘n pad waarvan jy die spore kan sien. Dis ‘n pad van uitlei, oopmaak, en die toekoms ingaan.

Ons is nou diep in Koninkrykstyd. En daarom is dit goed om weer te kyk wat ons toekoms met God is. Die God wat sê: “Ek is wat Ek is”. Die God wat Homself bekendstel as die Een wat onbeperk is, wat ons na ons aard gemaak het om ons potensiaal te geniet, die Een wat die toekoms oopmaak.

Die toekoms saam met God beteken vir my die volgende tien dinge:

  1. ‘n Toekoms vol nuwe moontlikhede. Dis wonderlik om ‘n pad te stap met die God wat Homself ontperk het deur te sê “Ek is wat Ek is”.
  2. ‘n Toekoms van potensiaal. Ons is gegrond in die onbeperkte potensiaal van ons Skepper.
  3. ‘n Toekoms van feesvier. Ons kan ons bestaan vier, want God het ons na ons aard gemaak om die lewe te geniet.
  4. ‘n Toekoms met ‘n nuwe selfwaarde. Die God wat sê “Ek is wat Ek is”, het daarmee bevestig dat Hy teenwoordig is. En dat ons die belofte van Sy ewige teenwoordigheid het. Dit gee aan ons waarde, ‘n waarde wat ons elke dag nuut moet besef.
  5. ‘n Toekoms met altwee voete op die aarde. God het die werklikheid geskape. Ons hoef nie daarvan weg te vlug nie. Dis ons s’n.
  6. ‘n Toekoms met die krag om weg te breek. God ontperk ons om ook te kan sê:  Ek is wat ek geskape is om te wees.
  7. ‘n Toekoms met ‘n vooruitsig. Die God wat nuwe dinge doen, gee ons ook ‘n blye uitsig op die toekoms.
  8. ‘n Toekoms van vars ontdekkings. Die God wat ons elke dag verras met Sy teenwoordigheid, met Sy “Ek is”, laat ons elke dag iets nuuts ontdek van menswees, van skoonheid, van oorlewing.
  9. ‘n Toekoms met realiteit. Ek kan, soos God, sê:  Ek is real. Ek is ‘n werklikheid in hierdie wêreld. God het my geskapenheid herstel. God het my geskape en verlos om na my eie aard te bestaan, saam met God te bestaan, en in verhouding met ander mense te bestaan. En om in ‘n wêreld te bestaan wat my versorging en toewyding nodig het.
  10. ‘n Toekoms met betekenis. God is. Ek is. Die werklikheid is. Die werklikheid is goed. Die lewe het betekenis. Die lewe is nie futiel nie. Dis goed om by en in die wêreld betrokke te wees. Om deel van die werklikheid te wees. 

Wanneer God sê “Ek is wat Ek is”, hou Hy hom nie daar ver nie. Hy sê nie Ek is hier en jy is daar nie. 

Nee, wanneer God sê “Ek is wat Ek is”, brand Hy Homself in ons lewens in. Hy steek ‘n vuur in ons aan. ‘n Vuur om die lewe te vier, die werklikheid te verbeter, ons beperkthede te verower – sonder om self verteer te word. Want ons is gegrond in die Onbeperkte.

Wat Homself aangekondig het om die pad die toekoms in saam met ons te loop.

Mag jy gedurende hierdie Koninkrykstyd jou potensiaal ontdek om saam met God ‘n toekoms te skep. Vir jouself en vir almal en alles hier op aarde.

Christina Landman

Seisoen van Luister Powerpoint

Verdere Preekriglyn in Argief