{ARGIEF}

Esegiël 34:11-16,  20-24

Die leesroosterteks vir hierdie Sondag, Esegiël 34:11-16, 20-24 kan inderdaad beskryf word as die toe-eiening van die metafoor van die goeie herder. Vir ’n land en sy mense wat deur die inval van die Babiloniese grootmoondheid verslae gelaat is, is die idee van God as ’n goeie herder wat vir Israel sorg, hulle wonde verbind en hulle lei na groen weivelde en waters waar daar rus is, soos Psalm 23 dit so mooi stel, ’n reddingsboei. In Esegiël 34 staan hierdie uitbeelding van God teenoor die ontnugtering met die land se leiers wat die mense, veral die weerloses in die samelewing, sleg behandel het.

Hierdie woorde van troos wat verseker balsem vir die ballinge se wonde was, gaan egter ook gepaard met ’n woord van waarskuwing. Die Herdergod is ook ’n God wat reg en geregtigheid laat geskied; wat oordeel tussen die vet en die maer skape (vergelyk ook hoe die beeld in Matteus 25 gebruik word wanneer God tussen die skape en bokke oordeel). Die verwysing na vet skape wat die beste gras vir hulself geneem het en die res vertrap het, dui daarop dat God se oordeel verband hou met onreg wat op sosio-ekonomies vlak geskied.

Hier teen die einde van die jaar waar baie mense hulle wonde lek na ’n rowwe jaar op ekonomiese gebied, velerlei natuurlike rampe en tragedies op plaaslike en globale vlak, om nie eens te praat van die persoonlike lyding wat die afgelope jaar gebring het nie, is die teks wat praat van God as die Goeie Herder goeie nuus. Op hierdie Christus is Koning Sondag, het ons nodig om te hoor van God wat in Christus diegene wat verstrooi is, weer bymekaar maak en diegene wat stukkend is, weer genees.

Maar ons moet ook in hierdie teks hoor dat, maak nie saak hoe stukkend ons is nie, of hoe nodig ons ookal genesing en herstel het nie, ons kan nie in ons land vandag bekostig om nie in reg en geregtigheid te leef nie. Esegiël 34 roep ons op om diegene raak te sien wat nog swaarder as ons kry, maar meer nog, om ook na te dink wie ons dalk in ons pyn te na kom. Die metafoor van die vet skape wat die maer skape se kos opeet is ’n kragtige metafoor om na te dink oor die sosiale ongeregtigheid wat Stef Bos se liedjie Tydbom, kragtig verwoord (kyk ook op Youtube by http://www.youtube.com/watch?v=Mt6dHGLVG0Y): 

Ek ry in my kar           
Deur die vlakte in die kaap
Die son skyn oor die see
Bij Gordonsbaai
En ek sien waar ek kyk
Die gesigte van die land
En ek sien langs die pad
Hoe die veldbrand

Die struggle is verby
Die nuwe tyd is lankal daar
Maar die rykes word ryker
En die armes kry swaar
En ek sien op die teerpad
Naar Muizenbergstrand
Die shaks van Khailitisha
En die plakkerskamp

En ek hoor die tijdbom tik   
Tik tik tik              
Die tijdbom tik

Die rook hang boe Langa
Die vliegtuie styg op
En n swart man by die robot
Wil my ‘n sonbril verkoop
Wat gaan aan in sy kop
En wat dink hy oor my
Daar was so baie beloftes
Maar wat het hy gekry

En ek sou hom wil vra
Wie hy is hoe hy leef
Maar die robot raak groen
En my kar moet beweeg
En die Kaap lyk so mooi
In die somerse son
En die wind is so stil
dit voel asof daar
‘n storm gaan kom

En ek luister na musiek
Tap my vingers op die stuurwiel Tik,tik,tik
Die tydbom tik
Die tydbom tik

Die kleure van die reënboog   
Weggespoel deur die geweld
Die diktatuur van toe           
Is nou die diktatuur van geld
Die ideale word verkoop       
Die kapitaal is aan die mag
En Steve Biko is moeg en
Draai homself om Is sy graf   
Want wat hy sien           
Maak hom siek

Want die tydbom tik
Die tydbom tik

Julie Claassens