{ARGIEF}

Sommige mense se persoonlikheid maak dit vir hulle óf makliker óf moeiliker om hierdie vrug te dra. Gelukkig/geseënd is diegene vir wie dit makliker kom …

Die uitdaging bly dat ons méér op Christus fokus sodat óns belange (natuur) gekruisig kan word en die Gees ons gedrag kan bepaal!

Dit is byvoorbeeld vir my redelik maklik om mense lief te hê wat aangenaam teenoor my is. Wat my liefhet. Wat simpatiek en redelik teenoor my optree.

Ek word ook diep geraak deur mense wat swaarkry en ly – vir hulle gee ek maklik om.  So ook vir mense op wie daar neergesien word en van wie dikwels randfigure gemaak word. Vir mense wat onbillik en onregverdig behandel word, het ek ‘n sagte plekkie.

Maar daar is ook ‘n klomp mense met wie ek sukkel. Mense wat ‘n vry sê het en wat met hul woorde ander seermaak. Wat “afkom” en “afpraat” op mense.  Wat dink hulle alléén het die waarheid beet. Wat altyd beter weet. Persone wat so maklik oordeel. Wat trap op ander. Jag maak op mense. Ek is eerlik, ek sukkel met sulke mense. Dikwels sê ek niks, maar mense kan sien hoe my lyftaal praat!

Ek weet hulle is my naaste. Dikwels ook mede-gelowiges. Wat sulke mense betref, moet ek voortdurend bid: “Here, gee my meer liefde en begrip. Help my om hulle te seën eerder as om hulle diep binne in my te “vervloek”. Help my om vir hulle te bid, maar maak my eers van binne skoon. Neem asseblief hierdie negatiewe gevoelens teenoor hierdie mense weg. Gee dat ek hulle met eerbied sal probeer behandel.”

Wat vriendelikheid betref, slaag ek nogals die meeste van die tyd, as ek dit nou self moet sê. En natuurlik is dit makliker om vriendelik te wees teenoor mense wat self vriendelik is. Of wanneer jy nie te veel onder druk is nie. Wanneer daar ‘n rustigheid in jou lewe is.

Maar wanneer mense soos bullebakke optree, stap ek ook maar maklik verby. Kyk ek ander pad. Wanneer ek onder druk en gejaagd is, en my kop vol saaklike dinge is wat so gou as moontlik afgehandel moet word, raak dit ook al weer moeiliker om spontaan vriendelik te wees. Dan stap en ry ek soms (haastig) verby mense sonder om te groet – in gedagte! Soms raak ek ook ongeduldig, veral as mense jou teleurstel of swak werk lewer. My vriendelikheid laat my soms in sulke oomblikke in die steek!

‘n Ouer, afgetrede vriend van my, maak moeite om mense, veral vreemde mense, te groet. Vir mense wat pamflette by robotte uitdeel, draai hy sy motorvenster af, neem een, glimlag vriendelik en as die tyd dit toelaat, praat hy ‘n paar woorde met hulle. Hy doen dit omdat hy weet hoeveel motoriste hierdie mense bloot ignoreer. Hy geniet hulle reaksie – hoe hulle gesig dikwels spontaan “oopgaan”.

Hy gaan soms op ‘n Saterdagoggend met ‘n parkeerkaart dorp toe, en as hy vreemdelinge of toeriste opmerk wat nie ‘n parkeerkaart het nie, help hy hulle met syne. Hy vertel soveel wonderlike stories van mooi verhoudinge wat al deur hierdie klein dade van vriendelikheid ontstaan het.

Kyk maar net hoe vriendelik is mense (veral swartmense) teenoor jou as jy ‘n sokkervlaggie op jou motorruit of “sokkerkouse” aan jou motor se kantspieëls het. Hoeveel van hulle groet of praat met jou omdat jy ook hulle sport “voel”.  Iemand vertel die ander dag van die warmte en gemeensaamheid wat al in sulke oomblikke tussen haar en ander rasgroepe ontstaan het. Van ‘n soort vriendelikheid wat jy terugkry, baie meer as wat jy gee!

En so sou ‘n mens met die “lysie” van vrugte kon aangaan! Sê nou net daar kon meer vreugde, vrede, geduld, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing onder Suid-Afrikaners wees?

‘n Mens wonder dikwels wat jy as “gewone” burger in SA kan doen? Ons voel dikwels so oorweldig deur probleme en struikelblokke. Ons kla so maklik. Ons sê vir onsself ons kan niks aan armoede, werkloosheid en die behuisingsnood doen nie.

Maar die vrug van die Gees kán ons dra in hierdie land. Dit kos eintlik so min. Wel, ‘n bietjie moeite en energie, en natuurlik ‘n absolute fokus op Jesus. Maar dít kán ‘n reuse verskil maak, veral as ‘n mens in gedagte hou dat ongeveer 80% mense in SA hulself as Christene beskou.

Slaag ‘n mens wel hierin, al is dit soms weinig meer as ‘n sukkelende probeerslag, word daar feitlik sonder uitsondering wonderlike, nuwe perspektiewe gebore … veral by dié van ons vir wie die vrug nié so maklik kom nie!

Chris Jones

Seisoen van Luister Powerpoint