{ARGIEF}

Hierdie twee punte is natuurlik presies waaroor die sogenaamde New Perspective on Paul-debat gaan. Mense soos EP Sanders, James Dunn en veral NT Wright skryf nou al geruime tyd dat die reformatoriese kerke weer sal moet dink oor die manier waarop hulle Paulus lees.  Hulle is van oordeel dat veral Luther die regverdigmaking deur die geloof eensydig beklemtoon het as die sentrale tema van Paulus se teologie en dat die kerke van die Reformasie hom verkeerdelik hierin navolg.  Daarteenoor meen hulle dat ‘n tweede tema naamlik, dat die Here mense aanneem sonder aansiens des persoon, eintlik die hart van Paulus se teologie is.  Die verband tussen die twee is ook belangrik.  Omdat ons deur genade en deur geloof alleen en nie ogv ons dade of afkoms toegang tot die volk van God kry nie, het ons daarom nie die reg om iemand uit die koninkryk te weer of ons bo ander te verhef nie.

Hierdie is nie die plek om in debat te gaan oor die reg of verkeerd van Wright se benadering nie.  Persoonlik het ek simpatie vir Wright se standpunt maar is van oordeel dat hy dit dalk net te ver neem. Met sy klem op die eenheid van die kerk en die onderlinge verbondenheid van alle mense, het ek geen probleem nie.  Ek glo ook dat die punt baie naby aan die hart van nie net Paulus se teologie nie, maar ook van die hele evangelie, lê.

Ek sou graag wou sien dat die verband tussen die twee sake houvas word.  Ek meen dat die saak na beide kante verhelder word juis as ons die verband vashou.  Regverdigmaking sonder lewensverandering – veral in hoe ons kyk en dink oor ander mense – is nie regtig eg nie.  Aan die anderkant gaan ons die verste kom met `n dieper verstaan van ons onderlinge verbondheid en ons eenheid in Christus as die kerk weet dat ons almal se staanplek voor God nie van ons werke of herkoms afhanklik is nie, maar alleen van genade.  Niemand van ons het voor God die reg om ons bo ander te stel of om eise te stel oor wie ons geloofsgenote is en wie nie.  Ons leef almal uit dieselfde genade.

Ek dink dat `n mens Johan se preek met hierdie perspektiewe sou kon verryk.

My tweede opmerking: `n Ander tema wat `n mens sou kon gebruik vir die prediking is die een wat ons in die opskrif bo vs 21 van die Afrikaanse vertaling kry naamlik, “slawe en seuns”.  As `n mens bly by die leesrooster se afbakening (vs 23-29) sal jy moeilik hieroor kon preek, maar as `n mens die perikoop `n bietjie wyer sny om te loop van 3:21-4:7 (wat ek dink met reg gedoen sou kon word) sou jy dit maklik kon doen.

Persoonlik dink ek dat dit `n baie belangrike tema vir ons tyd is.  Dit is veral die kerke van die reformasie wat sterk klem gelê het op die volwassenheid van gelowiges en die feit dat die Here met ons, nie soos met slawe nie, maar soos met kinders, wil werk.

Sentraal in so `n preek sou staan dat die kerk van die NT nie leef met `n boek of met reëls nie, maar met `n lewende Heer wat ons roep tot `n persoonlike verhouding met Hom.  Ek dink aan iets wat ek `n tyd gelede by Andrew Walls gelees het.  Hy sê dat wanneer mense die Christelike geloof met Islam vergelyk, verduidelik hulle verkeerdelik dat die verskil tussen die twee godsienste daarin lê dat Islam met die Koran werk en die Christendom met die Bybel.  Dit is nie waar nie, sê Walls.  Die korrekte vergelyking is dat Islam met die Koran leef en die kerk met die lewende Christus (wat ons uiteraard deur die Woord en die Gees leer ken het).  Christene lewe nie maar met `n boek nie maar met `n Iemand.  Dit gaan nie oor reëls nie, maar oor `n verhouding – `n liefdesverhouding met `n Iemand.

Ek sou dan in die preek aan die volgende sake wou aandag gee:

+ deur Christus word ons aangeneem as kinders van God (vs 3:26 en 4:5-7) en hou ons op om God soos slawe te dien. `n Mens sou dan kon verduidelik hoe die lewe van slawe en kinders verskil – veral hoe die verhouding met `n vader anders is as die verhouding met `n Heer. Daar kan ook gekyk word na Rom 8:14-17 vir aanvulling – Paulus werk daar met dieselfde tema.

+ die grond van hierdie nuwe verhouding lê daarin dat ons deur die geloof en die Doop met Christus verenig is en deel geword het van Christus. Ons het hier met `n uiters belangrike deel van Paulus se teologie te doen.  Omdat ons deur die geloof en doop ingeskakel is in die nuwe werklikheid van Christus en in sy magsveld, verander ons lewe totaal.  Dit is die Gees wat ons verbind aan Jesus en so nuwe lewensmoontlikhede vir ons ontplooi.  Die Gees gee vir ons krag wat ons nie in onsself het nie, versterk ons verhouding met die Vader, en maak ons vry van `n slawelewe.

+  Ek sou dan in die derde plek vs 28-29 bytrek.  Deel van die nuwe werklikheid waarvan ons deel word, is dat die Here ons help om anders te kyk na mense en anders te begin dink oor mense – veral mense wat ons nie juis ken nie en wat ons sien as anders as ons, of ver van ons.  Omdat ons een Vader het, een Verlosser en een Gees, is ons almal deel van een familie. En in die familie geld die onderskeid van die vorige era nie meer nie.  Dit is belangrik om te verstaan dat hierdie eenheid van die kerk en alle gelowiges deel van die evangelie is.  Dit is nie jammer dat ons so verbind is aan ander mense nie; dit is goed!  Dit is deel van die genade!  Dit is `n gawe van God waarmee Hy ons lewens wil verryk en help verander!  Tog jammer dat so min mense dit verstaan en glo!

+ Vierdens is dit so dat ons as kinders van God ook erfgename van God geword het.  Dit beteken dat daar altyd vir ons `n toekoms is!  Dit is goed om te weet – veral in tye van lyding en beproewing.  Dit maak `n mens vry en minder krampagtig en kleingelowig oor die hede.  As ons weet wat wag – dan weet ons ook dat ons nie nou alles hoef te hê nie.  As ons weet dat die trane eendag afgedroog sal word, kan ons meer gereed wees om `n bietjie ongerief, swaarkry en lyding nou met meer blymoedigheid op ons te neem.

Derdens: sou `n mens ook in ons situasie meer direk oor die eenheid van die kerk kon praat en vra hoekom mense so sukkel daarmee.  Johan se preek help `n mens al `n  ver ent daarmee.  Punte wat ek dink beklemtoon kan word in so `n preek is:

–       Die feit dat ons in die kerk (soos in enige familie) nie jou broers en susters kan kies nie.  Anders as jou vriende word familie vir jou gegee om mee te leef.

–       Die basis van ons eenheid is ons gesamentlike geloof in Christus.  Ons kan nie Christus as ons Verlosser en Broer wil hê en God as ons Vader, sonder om ander gelowiges as broers en susters aan te neem nie.

–       Dat ons almal Christene is ogv Christus se genade alleen (soos in die Doop uitgebeeld) laat ons besef hoe arrogant en ondankbaar ons is as ons allerhande eise wil stel oor wie ons in ons kerk gaan toelaat.

–       Dit is ook goed om te kyk na die soort onderskeid waaroor in vs 28,29 gepraat word.  Dit gaan oor rasseverskille, geslagsverskille en stand- of sosiale verskille.  Dit sou goed wees om te vra waar ons gemeentes met elkeen van die sake staan.

–       Wat ons sterk moet beklemtoon is dat die eenheid van die kerk deel van die goeie nuus van die evangelie is.  Die Here vra dit van ons nie om ons lewens nog ingewikkelder en minder vreugdevol te maak nie, maar omdat Hy ons liefhet en ons wil help!  Mense wat anders as ons is, bring gawes na ons wat ons nooit sonder hulle sou ontvang het nie.  Vreemdelinge is meesal goed vir ons en kan ons selfs help om op `n nuwe manier na God te kyk.