{ARGIEF}

1.  Hoe lyk God se genade?
Die gesprek tussen God en Abraham is ‘n gesprek tussen “gelykes”.  God maak sy planne bekend.  Sodom leef nie volgens die reëls waarop ooreengekom is nie, en God gaan hulle vernietig.  Maar Abraham is nie net ‘n passiewe hoorder wat niks mag sê nie.  Hy herinner God aan Homself, aan wat God is.  God is tog ‘n regverdige God.  Sal Hy nie Sodom spaar ter wille van die, sê maar, vyftig mense in die stad wat leef soos ooreengekom nie?  Ja, sê God, Hy sal.  En so bou die gesprek op.  En wat as daar net 45 regverdiges in Sodom is?  Ek sal spaar, sê God.  En net 40?  Ek sal hulle spaar.  En net 30?  En net 20? En net 10?

Ek onthou as ‘n klein dogtertjie hoe hierdie woorde van God my besiel het.  Dat God elke keer nog genade kon vind, al word die “stakes” minder, en die voorwaardes al hoe skraler.  Vir my as klein dogtertjie, en nou weer, tref dit my:  God is ‘n God van genade.

So, die joernalis se eerste vraag aan Abraham sal iets wees soos:  “En wat dink jy van God na hierdie gesprek?” en Abraham sou iets antwoord soos:  “Ek het gevind God is ‘n regverdige God, ‘n God van genade, soos ek altyd geweet het.”

2.  Waarop kan ons elkeen hoop?
 En nou vra die joernalis vir Abraham ‘n tweede vraag.  Hy vra hom:  “En noudat julle nie eers 10 mense in Sodom kon kry wat regverdig is nie, watse hoop is daar nou vir ons?” 

 Ek dink nie Abraham sou iets hierop kon antwoord nie, want hy het na sy gesprek met God maar net huis toe gegaan. 

 En nou dink ek weer aan my kleintyd, toe ek nog soos ‘n kind na hierdie verhaal kon luister.  En my reaksie was dit:  Ek het geglo dat God vir ons sê dat, al bly daar net een persoon oor, so ‘n persoon ‘n verskil kan maak.  En dat God dit vir elkeen van ons sê.  Elkeen van ons kan ‘n verskil maak. 
 Elkeen van ons kan, met ons onskuld en regverdigheid, maak dat selfs skuldiges gered word.  En vandag nog wil ek graag hierdie boodskap koester wanneer ek hierdie stuk lees. 

 Dit is ons hoop:  een mens kan ‘n verskil maak.  Elke mens kan ‘n verskil maak.

3.   Wat sal ek maak as ek weet die aarde kom tot ‘n einde?
Maar nou sal die joernalis vir Abraham, daar waar hy teruggegaan het na sy huis, nog ‘n vraag vra.  Hy sal vir hom vra:  “Abraham, noudat jy weet Sodom gaan vernietig word, wat gaan jy daaromtrent doen?”   En dan sal Abraham sê: “Ek het gedoen wat ek kon.  Ek het met God onderhandel sodat die regverdiges nie saam met die onregverdiges in Sodom omkom nie.  Meer as dit kan ek nie doen nie.”

 Ons lees dikwels in die Bybel van mense wat geweet het dat ‘n ramp mense gaan tref.  Hierdie mense het verskillend op hulle voorkennis gereageer.  Noag, byvoorbeeld, is deur God ingelig dat Hy die wêreld gaan verwoes en aangesê om ‘n ark te bou (Genesis 6-7).  Noag het gehoorsaam.  Hy het die ark gebou.  En net dit.  Hy het niemand probeer bekeer of omdraai of enigiets nie.  Hy het net die ark gebou.

 En wat van Moses?  Terwyl Moses op die berg was om die Wet te ontvang, maak die Israeliete ‘n goue kalf en begin om dit te aanbid.  God sê vir Moses dat Hy hulle van die aarde af gaan verdelg.  En wat maak Moses?  Exodus 32:10-14 vertel hoe Moses vir die volk ingetree het.  Hy het by God gepleit dat God nie sy woede op die volk moet uithaal nie.  En God het hulle gespaar.

 En dan lees ons ook nog van Jona wat so vies was omdat hy Ninevé se mense moes gaan bekeer sodat hulle nie vernietig word nie, dat hy sommer koers gevat het ander pad toe.

 Die vraag wat ons onsself vandag moet afvra, hier op die 8ste Sondag van Koninkrykstyd, is wat ons sal doen as ons weet die wêreld kom tot ‘n einde?  En eintlik weet ons dat die aarde besig is om vernietig te word.  Besoedeling, haat en nyd, korrupsie, ontbossing – alles dui daarop dat die aarde sy einde nader.

 Wat kan ons as mense wat in die Koninkrykstyd woon, hieraan doen?  Wat moet ons doen, noudat ons voorkennis het van die aarde se vernietiging?
 Eerstens kan en moet ons natuurlik by God intree vir die wêreld.  En nooit vergeet dat God ‘n hele samelewing kan omkeer, soos Hy met Ninevé gedoen het nie.

 Tweedens moet ons natuurlik ook openbare forums gebruik om mense te waarsku.  Ons almal moet ons lewens verander.  Ons weet MIV en korrupsie en besoedeling vernietig die wêreld.  Wat moet ons doen – met die kerk vooraan – om die wêreld van vernietiging te red?
 Derdens moet ons besef:  elkeen van ons kan ‘n verskil maak.  Die verskil begin by ons. 

Hier in God se koninkryk lewe ons in God se genade.  Ons lewe as mense met hoop.  Een mens kan ‘n verskil maak.  En daardie mens is jy.

Christina Landman

Seisoen van Luister Powerpoint

Preekriglyn in Argief