{ARGIEF}

Kerk moet praat oor gesinsgeweld
Dit het tyd geword dat die NG Kerk sy stilte oor geweld teen vroue verbreek. Predikante moet daaroor preek. Só sê ds Neels de Jager van die NG Gemeente Vaalrivier op Vanderbijlpark, wat wye navorsing oor die onderwerp gedoen het. Dr Elize Morkel, kliniese sielkundige, berader en lid van die Algemene Sinode se moderamen, […] (www.kerkbode.co.za)

 ‘n Gemeenskap wat treur

 

 Leané du Plessis het die gemeenskap by Nkaneng besoek om uit te vind hoe die pad vorentoe vir hulle lyk…
Pastoor Daniel Bhavuma haal sy bruin hoed af en trek sy oë op skrefies, terwyl hy na die kaal koppie staar. “Dit het dáárso gebeur,” wys hy hoed in die hand na die kaal rante. “Dit was nie bietjie lelik nie; dit was báie lelik. Die polisie het die mense gekeer met die barbed wire om nie weg te hardloop nie. Ek ook, ek is amper geskiet.”

Nkaneng se mense sê hulle het hulle vertroue in die polisie verloor. “Die kinders hardloop weg as hulle die polisie sien.”Die vroue in die gemeenskap is waarskynlik die ergste geraak, veral nadat die polisie op Saterdag, 15 September, met Njalas die township ingevaar en ’n ANC-raadslid, Pauline Masuthlo (45), ernstig gewond het. Sy het ’n paar dae later in die Job Shimankana Tabane-hospitaal in Rustenburg aan haar wonde beswyk. Sy was die 46ste slagoffer van die Marikana-staking.

Daniel Bhavuma (67) is ’n pastoor by die Christelike Katolieke Apostoliese Kerk in Sion. Hy wys na die ry klippe wat paniekbevange inwoners in die straat gepak het in ’n poging om die pantservoertuie van hulle wonings weg te hou. “Die mense, hulle trust nie meer die polisie nie,” sê hy. (www.kerkbode.co.za).

Zuma kry kwaai loesing in grondwethof
Jan-Jan Joubert en Pauli van Wyk
Die 11 regters van die konstitusionele hof het gister Zuma se aanstelling van Simelane in 2007 eenparig verwerp. Hulle het dit duidelik gemaak nóg Zuma nóg Radebe het met die aanstelling opgetree soos die Grondwet van hulle vereis. Die regters het besonder baie klem gelê op die bevindings van die Ginwala-kommissie van ondersoek, waarin skerp negatiewe bevindings gemaak is oor Simelane se eerlikheid en integriteit.

Hulle het gesê Zuma móét kennis neem van enige bewering dat ’n hooggeplaaste staatsamptenaar soos Simelane lieg, “of dit nou in ’n hof, ’n kommissie of teenoor wie ook al is”.

“Oneerlikheid is oneerlikheid, waar dit ook al gebeur.” (http://www.dieburger.com/Suid-Afrika/Nuus/Zuma-kry-kwaai-loesing-in-grondwethof-20121006)

Nkandla en ander geheime
Dawie
Twee verwante berigte het vandeesweek ’n ontstellende deel van die rigting waarin Suid-Afrika beweeg, uitgelig. Die een was die nuus oor Zumaville – die feit dat die departement van openbare werke R203 miljoen bewillig het vir die uitbreiding en verfraaiing van president Jacob Zuma se private woning (dalk moet ’n mens eerder van ’n woningkompleks praat) op Nkandla. Dis geld wat die belastingbetaler moet opdok.

Bowendien dui alles daarop dat dit indruis teen die ministeriële handboek wat bepaal waarvoor die staat moet betaal en hoeveel die regeringslid self moet bydra. Ondermeer word ’n helikopterlandingsplek, ondergrondse behuising en die bou van ’n veiligheidsomheining beplan. Die tweede berig is die ontsteltenis in regeringskringe oor die onthulling self. Die nuus is verlede Sondag ná ’n ondersoek deur City Press openbaar gemaak. (http://www.dieburger.com/Rubrieke/Dawie/Nkandla-en-ander-geheime-20121006)

Lees ook http://www.dieburger.com/Opinie/HoofArtikels/Regering-dop-korrupsietoets-met-Zumaville-20121005

En as dit ‘slegs blankes’ gesê het?
Pieter Cilliers
Assosiasie met ’n filosofie van uitsluiting kom neer op goedkeuring, sê die programvervaardiger en skrywer Pieter Cilliers na aanleiding van ’n konsert wat by ’n Pretoriase gemeente aangebied gaan word.

Ek is verlede jaar deur die NG gemeente Elarduspark in Pretoria-Oos genooi om oor homoseksualiteit en die kerk te kom gesels. Die belangstelling was onverwags groot.

Die saaltjie waarin ons vergader het, was vol, en die mense wat voor my gesit het, was kerkmense. Onder hulle was ouers van gay kinders, ouers saam met hul homoseksuele kinders, gay paartjies, familie, vriende en ander belangstellendes. Almal het ’n behoefte gehad aan aanvaarding en om te verstaan.

Langs dié gemeente is die Moreletapark-gemeente, bekend vir sy onverdraagsaamheid teenoor gays en vir die uitgangspunt dat homoseksualiteit ’n keuse is en daarom sonde  of ’n siekte wat genees kan word. Daarvolgens móét en kán gay mense verander; vandaar die gemeente se omstrede H2O-pastoraat (homosexuality to overcome).

Nêrens is die verdeeldheid binne die NG Kerk oor seksuele oriëntasie so sigbaar soos binne hierdie buurgemeentes nie. Die inklusiewe gemeente wat die menswaardigheid van homoseksuele erken, teenoor die eksklusiewe gemeente wat openlik teenoor gays diskrimineer. Die gemeente wat gemarginaliseerdes omarm in liefde en meelewing soos Jesus dit gedoen het, teenoor fundamentaliste wat sonder genade mense oor hul andersheid uitsluit. (http://www.dieburger.com/By/Nuus/En-as-dit-slegs-blankes-gese-het-20121006)

“Waar mense uitgebuit word, waar mense se regte verkrag word, waar mense nie meer mense kan wees soos wat God hulle gemaak en bedoel het nie, kom God self in beweging. Daarom dat Amos so by die mense aandring om radikaal te verander: hulle moet liefhê wat goed is en opkom vir die reg van die eenvoudige mense. Dán sal hulle lewe (v.14-15)” (Deist: 1990).

 Wanneer gelowiges die huidige arbeidsonrus in die werkplek, op die oog af met geldige argumente wegredeneer, daaroor filosofeer en/of rasionaliseer, mis hulle die kern van die evangelie; die liefde wat geen onreg verduur nie. Natuurlik kan die werkers nie in hul stryd vir geregtigheid, self onreg pleeg nie!

Die Marikana-slagting was voorspel en die kerk afwesig. Die Bench Marks-stigting (BMS) van die Noordwes-Universiteit het kort voor die Lonmin skietery ‘n verslag – “Die Lewe in die platinum-mynvelde”, gepubliseer. Die navorsers het gewaarsku dat geweld by platinummyne in Noordwes eenvoudig sal toeneem as mynhuise nie hul maatskaplike en omgewingsverantwoordelikhede nakom nie. Die gemeenskappe gaan gebuk onder siektes, armoede, woon meestal in haglike omstandighede en het ’n gebrek aan werk en skole.

Onlangs het ‘n Britse politikus van die Sosialiste Party, Alec Tharves,  stakers van Anglo Platinum op Rustenburg aangemoedig en na die benarde werksomstandighede in Suid-Afrika verwys. Indien die kerk hom blind staar en selfs reaksionêr optree, is hy besig om die evangelie te verskraal en is hy aandadig aan ‘n kettingbotsing met baie slagoffers op die kruispad. Gemeentes en gelowiges kan nie die reg aan die politici oorlaat nie – politici wil met mag regeer en die reg manipuleer. Die ANC regering is vrot van onreg en korrupsie. Wanneer die goeie nuus van die evangelie beperk word tot middelklasbelange, ‘n groepsetiek en eensydig vergeestelik word, druip ons Christus se toets van naasteliefde en geregtigheid. Te veel dinge het vir baie lidmate ankers geword, terwyl dit eintlik net strooi is. Die kerk is nie net vir die middelklas en invloedrykes nie, maar laat alle mense die evangeliese beginsels van liefde en reg beleef.

Piet Bester skryf in ‘n respons op die artikel “Slag van Marikana” en briefwisseling (www.kerkbode.co.za).
Beste Pieter, Jy is reg wat die ekonomie betref – dit het sy eie wetmatighede. MAAR, gedurende die bykans een maand na die Marikana/Lonmin-tragedie was daar ’n nasionale diskoers waar ekonomiese kommentaar en politieke gesprekke daagliks die nuus oorheers het – oor die radio, op TV en in die gewone pers. Waar was die ooreenstemmende godsdienstige gesprekke, wat ek verkies om te noem die geloofsgesprek? Hoe werk dit dat die aartsbiskop van Kantelberg ’n sin of wat kry op die kerknuus, dat selfs ‘n Amerikaanse presidensiële kandidaat die kerknuus haal, maar die kommentaar van die president van die SA Raad van Kerke oor die Marikana/Lonmin-tragedie in persverklarings op 29 Augustus en op 5 September, word nie êrens vermeld of bespreek nie? Die gewone mense en die kerkpubliek hoor dit nie. Toe ek as enigste Suid-Afrikaner die godsdiens-sosiologie kongres in 2000 in Amerika bygewoon het, het sosiaal-maatskaplike kwessies die lesingsaal- en wandelgang-gesprekke oorheers en is dit met passie gevoer – vanuit n geloofsperspektief. Waar is die ooreenstemmende gesprek in Suid-Afrika en waar die passie?

Juis nou dat die staking voortduur en die hoofgesprek die versugting is na ‘n beeïndiging daarvan en die hervat van produksie (‘back to normal’), is dit maklik om te vergeet van die sosiaal-maatskaplike omstandighede wat tot agtergrond en opbou van die krisis gedien het. As die staking eers verby is, kan alles weer ‘back to normal’ wees – en juis dit is die abnormale! Johan Smit skryf hier in die laat sewentigerjare in die Bybelkor-kursus oor Amos (As die Leeu brul) dat die oproep tot sosiale geregtigheid geen humanisme is nie, maar eerder tot die hart van geloof behoort. Dis die gesprek wat nou behoort plaas te vind, maar ek hoor skaars ‘n gefluister in die kerkpers. Praat die teologiese fakulteite by Pretoria, Potchefstroom en Stellenbosch darem daaroor?

Lees gerus ook http://www.dieburger.com/Rubrieke/LeopoldScholtz/Gejaag-na-wins-benadeel-almal-20121005

Die handelaar-boer Amos het in sy tyd God se wil op die markplein duidelik laat hoor.

“Die gesiene mense van Amos se tyd het “dorp toe” getrek en hul landerye verhuur. Die armer mense het dan “om die deel” vir die rykes en gesienes geboer. Hoe joliger en spandabelriger dit in die dorpe en stede gegaan het (v.11b) en hoe moeiliker dit vir die gesienes was – soos die Engelse dit stel – ‘to keep up with the Joneses’,  hoe groter het hulle hulle “deel” van die oes gemaak (v.11a) en hoe slegter het dit met die kleinboer gegaan” (Deist: 1990).

Gemeentes, gelowiges hoort mense in lyding en nood by te staan. Dit hou in dat ons sal getuig en stry teen enige vorm van ongeregtigheid sodat die “reg aanrol soos watergolwe en geregtigheid soos ‘n standhoudende stroom” (Amos) (sien Belydenis van Belhar). 

Met die visie “God is die God van mense – ‘n God wat omgee wat met mense en menslikheid gebeur”, sal ons nie so maklik soos die mense van Samaria (in Amos se tyd) in die slaggat trap om te dink God is met ons, terwyl Hy eintlik téén ons is nie (Deist: 1990).

Pieter van Niekerk

Preekriglyn in argief: http://www.communitas.co.za/leesrooster/ot/30-Amos/Amos%2005_6-15.htm

Seisoen van Luister:

Amos 5:6-7, 10-15 – 20ste Sondag in Koninkrykstyd – 14 Oktober 2012

Amos5 6-7 10-15In Familietyd kan met kinders se sin vir regverdigheid gewerk word, óf deur ‘n Bybelse verhaal van die hantering van onreg te vertel óf deur ’n praktiese ervaring in die erediens. Dit dek die tafel om oor die verwagting in Amos te praat dat God onreg sal regstel op die dag van die Here. Hy deurbreek egter enige gedagte dat ’n mens sekuriteit sou kon soek in jou godsdiens sonder om self reg en geregtigheid na te streef. Geloof kan nooit losgemaak word van persoonlike gehoorsaamheid en geregtigheid in die gemeenskap nie, veral ten opsigte van die armes. Vermoënde gelowiges moet God se oproep om vir armes op te kom nie as veroordeling van hulle voorspoed sien nie, maar as geleenthede om ‘n Christus vir hulle medemens te wees.

Amos 5:6-7,10-15.ppt 665 KB Oct 08, 2012 09:33 Download
Amos 5:6-7,10-15.pptx 612.5 KB Oct 08, 2012 09:31 Download
Amos 5:6-7,10-15.doc 107.5 KB Oct 08, 2012 09:31 Download