{ARGIEF}

Donderdag 13 Mei 2010 ~ Hemelvaart: Handelinge 1:1-11
Die Here is nou in die hemel

Dit was verlede jaar hierdie tyd.  Om presies te wees, dit was die Sondag na Hemelvaart.  Hemelvaart is mos op ‘n Donderdag.  In die ou dae was dit ‘n vakansiedag, maar deesdae is dit ‘n gewone werksdag.  En dit verwar mense nogal.  Hulle vergeet skoon dat die Here na die hemel opgevaar het.  Skielik Sondag in die kerk onthou hulle daarvan.  En dan word hulle aan die Pinksterdienste herinner wat deesdae op die Sondag na Hemelvaart begin.

Maar terug na verlede jaar se Sondag na Hemelvaart.  Op dié dag sit ek en luister hoe die ouderling vir die gemeente verduidelik waar ons nou in die kerkjaar staan, dit is, tussen Hemelvaart en Pinkster.  Hy sê:  “Gemeente, kyk die saak staan so.  Die Here is nou klaar in die hemel.  En ons kry die Heilige Gees volgende Sondag”.

Ek het lank oor die ouderling se woorde nagedink.  Ja, hy verstaan beslis iets van die heilsgeskiedenis, het ek gedink. 
Wat is die heilsgeskiedenis?  sal julle vra.  Die heilsgeskiedenis is die geskiedenis van God se betrokkenheid by die wêreld. 
En hierdie tyd van die jaar dink ons in die besonder aan God se betrokkenheid by ons in Jesus Christus.  Dis ‘n geskiedenis wat hom elke jaar herhaal.  Met Paasfees vier ons dat Jesus gesterf en opgestaan het.  Nadat Jesus opgestaan het, het hy vir veertig dae op aarde saam met sy dissipels gebly om vir hulle sy leer duidelik te maak.  Netsoos die veertig dae wat hy in die woestyn gesit en God se wil geleer het, so het Jesus nou vir veertig dae sy dissipels geleer.  Dit was ook die gebruik in die Jodendom van die tyd, dat die jongmans veertig dae by ‘n rabbi gebly het wat die leer van die geloof vir hulle 40 keer vir 40 dae lank herhaal het.  Tot hulle dit verinnerlik het.  Sodat daar geen onduidelikheid sou wees oor wat vir hulle geleer word nie. 

En nadat Jesus sy dissipels vir 40 dae geleer het, het hy opgevaar na die hemel.  En nog 10 dae later, op Pinkster, is die Heilige Gees uitgestort.  En dit is hoe ons dit vandag nog vier:  Hierdie jaar was Paasfees en Opstandingsondag op 4 April.  Veertig dae daarna is Hemelvaart op Donderdag 13 Mei.  En tien dae later, vyftig dae na die opstanding, op Pinkstersondag 23 Mei vier ons die uitstorting van die Heilige Gees.  In Engels noem hulle dit Pentecost, wat afgelei is van die Griekse woord vir “vyftig”.  Ja, ons het die Gees gekry vyftig dae na die Opstanding.

Wanneer ek Handelinge 1:1-11 oor die Hemelvaart van Jesus lees, en ek dink aan die manier waarop die ouderling dit vir die gemeente duidelik gemaak het, is daar drie vrae wat by my opkom – en waaroor ek dink ons tereg op Hemelvaart met mekaar kan praat. 

Die eerste vraag is:  Waar is die hemel?
Van ouds het die Jode geglo die kosmos bestaan uit die hemel daarbo, die aarde hierso en die onderwêreld daar onder.  Mense het nie hemel toe gegaan nie.  Die hemel was die plek van God.  Wanneer mense sterf, word hulle verhouding met God verbreek, en gaan hulle na die onderwêreld.  Die dood is tragies.  Dis die einde van ‘n mens.  In die latere Psalms (Ps 73 en Ps 49) sien ons egter dat die Jode begin het om in die lewe na die dood te glo.  In Jesus se tyd het die Fariseërs beslis geglo hulle bly voortbestaan na die dood, maar die Sadduseërs het dit nie geglo nie.  Onthou julle toe Jesus gevra is aan watter een van haar mans ‘n vrou gaan behoort na haar dood, wat hy geantwoord het?  Wel, hy het geantwoord dat ons almal in die hemel kinders van God sal wees, en dat ons nie sal trou nie, en vir ewig sal lewe.  Vir Paulus, weer, het die mens uit ‘n siel en ‘n liggaam bestaan.  Die siel was belangriker as die liggaam en dit is die siel wat vir ewig sou voortbestaan. 

Deur die eeue het Christene baie beskrywings van die hemel gegee.  Die vroeë Christene het aan die hemel gedink as ‘n tuin, ‘n herstelde paradys, waar daar vrede en rustigheid sou wees.  Toe die Middeleeue op sy hoogtepunt was, het Christene die hemel as ‘n stad beskryf, die nuwe Jerusalem.  Daar sou mense nie dinge doen nie, maar net heeldag nadink oor God, en veral oor Christus se liefde.  Die Renaissance, weer, het die hemel as ‘n plek van genieting gesien, waar ‘n mens jou vriende en familie weer sou ontmoet, en die vreugdes van die lewe sou geniet wat jy nie hier op aarde gehad het nie.  Luther en Calvyn, tussen hakies, het glad nie oor die hemel geskryf nie.  Hulle het hulle besig gehou met die koninkryk van God hier op aarde en sy uitdagings. 

Wat glo ons nou vandag oor die hemel?  Ek sou sê ons kan aan twee dinge dink.  Die eerste is dat die hemel nie leeg is nie.  Dat dit nie net God is wat in die hemel is nie.  Dat dit nie net God en Christus is wat in die hemel is nie.  Die hemel is ‘n plek waar gelowiges by God en Christus is.  Miskien sal ons verheerlikte liggame hê.  Ons weet dit nie.  Ons weet nie waar die hemel is nie.  Ons weet nie hoe lyk dit nie.  Maar ons weet dat ons by God sal wees.  In die hemel. 

Die tweede ding wat ons van die hemel durf glo, is dat ‘n stukkie van die hemel reeds hier op aarde is, vandat Jesus hier was.  Die hemel is hier op aarde as hoop en liefde.  En dis hierdie hemelse waardes – hoop en liefde – wat ons elke dag hier op aarde aan moet werk.  Want Jesus is klaar in die hemel.  Hy het nou vir ons hierdie werk gegee, om die goeie boodskap van liefde en hoop hier op aarde te versprei.

Die tweede vraag waaroor ons op Hemelvaart moet praat, is Wat bedoel Lukas wanneer hy sê dat die Here opgevaar het na die hemel?
Ons het eintlik hierdie vraag noual geantwoord.  Die hemelvaart is deel van die heilsgeskiedenis.  Die heilsgeskiedenis het begin toe God ons na Sy beeld geskape het.  Ons het toe ‘n gemors daarvan gemaak deur eerder ander beelde na te volg.  En toe het God besluit om na ons beeld gebore te word.  En so het God in Jesus Christus vir ons kom wys hoe leef ‘n mens werklik na God se beeld.  En dis veral Jesus se liefde en deernis, en die hoop wat hy vir ons gebring het, wat maak dat ons nou weer weet:  dis hoe ‘n mens leef wat na die beeld van God geskape is. 

Lukas vertel ons hoe Jesus deur mense se liefdeloosheid gekruisig is, maar daaruit en daarteen opgestaan het, veertig dae sy boodskap van liefde en hoop verkondig het, en toe na die hemel opgevaar het.  Dit beteken nie dat Jesus nou op een of ander wolkie daarbo sit nie.  Dit beteken dat Jesus van ‘n menslike liggaam “oorgegaan” het na die Gees wat nou in ons almal woon. 

En daarom kan ons nou maklik die derde vraag antwoord: Wat maak Jesus Christus nou in die hemel?  Jesus het sy Gees vir ons gestuur, dat ons almal nou die dinge kan doen wat verwag word van mense wat na God se beeld geskape is.  Deur sy Gees verkondig en leef ons liefde en hoop.  Hierdie waardes is nou nie meer “vasgevang” in Jesus se aardse liggaam nie.  Hierdie hemelse waardes leef oor die hele aarde voort deur sy Gees.

Met Hemelvaart kom hemel en aarde by mekaar uit.  Elkeen van ons op aarde kan nou hierdie hemelse boodskap leef soos Jesus dit as mens geleef het:  om liefdevol teenoor ons medemens te wees, en ernstig met God te wees.  En om in hoop te leef, want die swaarkry hier op aarde, die gebrokenheid wat ons elke dag beleef – dit kan nooit die laaste sê oor ons hê nie.

Mag u in die komende dae, met Pinkster, hierdie goeie nuus nie vir uself hou nie.  Dat ons nie deel van die onheilsgeskiedenis word nie.

Christina Landman

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere preekriglyne in Preekargief