{ARGIEF}

Dit voel in ‘n sekere sin vir ‘n mens of God ‘n bietjie hard op sy volk was. En ook soms op ons is! Maar wat hierdie gedeelte in Jer 14 vir ons wil leer, is dat God Hom nie in ons raamwerke/skemas laat indruk nie. God laat Hom nie manipuleer of vir eie gewin misbruik nie.

Natuurlik kan/moet ons met alles na God gaan – met ons vreugdes én hartseer. Maar volgens Jeremia laat God Hom nie misbruik soos dit die mens pas nie. Gebed en skuldbelydenis gaan nie maar net oor mooi woorde en buitengewone goeie formulerings nie. Dis nie ‘n subtiele en nuttige tegniek waarmee ‘n voorspoedige uitkoms afgedwing kan word nie.

Natuurlik vergewe God ons volledig vir ons sonde, maar sy genade is nie goedkoop nie. Ons kan nie maar leef soos ons wil nie!

God mag nooit ‘n middel word waarmee ons óns doel wil bereik nie. Ons moet die middel wees/word waarmee Hy sy doel in/deur ons wil bereik. Anders raak ons van Hom en mekaar vervreem. Dan raak ons verhoudings verskriklik arm. Hy staan nié in ons diens nie. Dis waarteen God dit volgens Jeremia het.

Ons slim formulerings en bewoording skiet in elk geval tekort om God te probeer vasvat en te beheer. Oor God mag/kan ons nooit te glad en te maklik praat nie, volgens Martin Buber!

Maar die feit dat ons God nie volledig kan beskryf en verstaan nie, beteken nie dat dit ons tot stilswye dwing nie. Ons moet net deurgaans onthou: God is groter as ons denke oor Hom!

Wat ons wel van God weet volgens die Bybel, is dat Hy ‘n lewende verhouding met ons verlang. En dis net moontlik wanneer jy elke poging om Hom te manipuleer, aflê. Wanneer jy in totale afhanklikheid van Hom leef. Elke dag, nie net in tye van krisisse nie!

Ons leef voor Gód se aangesig. Nie andersom nie. Gebed en skuldbelydenis is uiters noodsaaklik, maar dit het alles te make met ‘n gebroke hart en verslae gees. Dit het te doen met oorgawe aan God. Dié God wat regverdig en vol liefde is!

Chris Jones

[Bron: Prente van ‘n passie: Robert Vosloo]

 

 

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere Preekriglyne in argief