{ARGIEF}

Ja, wanneer hierdie woorde van Jeremia af kom, is hy en die volk al deur diep waters.  Nie lank terug nie is die tempel verwoes en Jerusalem platgevee.  Israel kom net nie weer op sy bene nie.  Daar is ‘n diep gevoel van verlies en verlatenheid onder die mense.  Nie dat dit van hulle ‘n beter klomp maak nie.  Inteendeel, hulle sondig dat dit klap.

Jeremia het hulle al ‘n klomp keer probeer regwys.  En dit het nie by hulle goed afgegaan nie.  Hy moes ‘n hele klomp kere vlug vir sy lewe!

En nou kom Jeremia met ‘n nuwe boodskap.  Van ‘n nuwe verbond.

Dis die eerste en enigste keer wat daar in die Ou Testament van ‘n “nuwe verbond” sprake is.  Esegiël praat wel van ‘n “nuwe hart” en ‘n “nuwe ingesteldheid”.  Maar ‘n “nuwe verbond”… dis tog ‘n inisiatief van God!  God wil van sy kant af ‘n nuwe belofte aan ons maak.  ‘n Nuwe verhouding met ons opbou.  Ons sal ons omtrent verbeel.

En wat is hierdie verbond?  Lees maar daar in Jeremia 31:27-24.  Dis dinge wat te lekker vir woorde is.  Dis soos ‘n vakansie.  Dis soos om op ‘n reis te gaan en jy weet vooraf alles gaan regloop.

In sy nuwe verbond, sê Jeremia 31:27-34 vir ons, belowe God ons eerstens dat Hy ons gaan plant en laat groei.  Nou, dit klink vir my na sports.  Dit klink soos iets wat ek met my lewe wil doen.  Ek wil voel ek is geplant en dat ek behoort.  En dat ek daar waar ek hoort, waar ek gekoester en omarm word, sal groei.  Sal blomme dra, en vrugte.  Ja, dis beslis wat ek met my dag wil doen.

God belowe nog ‘n tweede ding in sy nuwe verbond.  Hy belowe dat Hy ons sal wys maak.  Dat Hy sy onderwysing op ons hart sal skryf en in ons koppe sal inprent.  Hy gaan nie meer soos ‘n “baas” wees nie, maar soos ‘n liefdevolle ouer wat ons onderrig.  Sodat ons wys en lewe-gewend sal lewe.  Soos die kind in Spreuke uitgenooi word om die liefdevolle ouerlike onderwysing op sy hart te dra, so nooi God ons hier uit om sy wysheid te verinnerlik – tot dit soort van algemene kennis word!

Nou, dit klink vir my soos ‘n nuwe ding waarna ek uitsien:  dat God se wysheid die mode van die dag sal word.  Dat dit cool sal wees om die lewe te lewe soos God ons dit leer.

Derdens sal ons volgens hierdie “nuwe verbond” almal gelyk wees.  Moet nou nie skrik daarvoor nie.  Dink eerder hoe wonderlik dit sal wees as ons almal eweveel genade van God kry, en eweveel wysheid.  Ons sal dan nie eers hoef te sukkel met mekaar se domheid en asprisheid en korrupsie en misdadigheid nie.  Ons gaan almal ewe wys wees.  Daar gaan nie meer stupid mense wees wat op jou senuwees gaan werk nie.  Daar gaan nie meer mense wees wat nie ore het om te hoor wat goed vir hulle is nie.

God se nuwe verbond hou ‘n vierde belofte in.  Die een van vergifnis.  En dis die mooiste van almal.  Dat ons mekaar gaan toelaat om met ‘n skoon bladsy te begin.  Dat God ons nie net gister gaan vergewe nie, maar dat ons dit met mekaar ook gaan doen.

Deur die eeue het gelowiges aan hierdie beloftes van die “nuwe verbond” gehang.  En tereg ook.  Want ons geloof is een van hoop en toekoms.  Jesus self het daarna verwys toe hy die eerste nagmaal aan sy dissipels bedien het met die woorde:  “Hierdie beker is die nuwe verbond…” (Lukas 22:20).

Die vroeë Christene het die “nuwe verbond” as die “nuwe testament” gesien.  En telkens deur die geskiedenis het mense hoop daaruit geput om die nuwe goeie dinge wat aan die gebeur is, te sien as tekens van die “nuwe verbond” wat intree.  Die vroeë Calviniste het selfs die gesonder verhouding wat daar in hulle tyd tussen staat en kerk ontstaan het, as ‘n “nuwe verbond” gesien!

En dit, dink ek, is wat die “nuwe verbond” vandag vir ons kan beteken.  Dit maak ons oë oop, dat ons kan sien hoe God – elke dag – nuut by ons tyd betrokke raak.

Miskien kan julle daar in die gemeente sit, en saam met mekaar ‘n lys opstel om te sê waar julle gedurende die week gesien het hoe God se nuwe verbond deurgekom het.  Dan deel ons dit met mekaar elke Sondag.

Miskien het jy tussen verlede Sondag en hierdie Sondag gegroei.  Jy het dalk gegroei in medemenslikheid, of in geduld, of in liefdevolheid teenoor ander.  Daarin sien jy tog die “nuwe verbond” wat aan die opbloei is.

Of miskien het jy tussen laas Sondag en vandag wysheid opgedoen, vaardiger geword in konflik wat jy moes hanteer, wyser in hoe jy jou kinders grootmaak, slimmer in hoe jy jou ma of pa verstaan. Dit is die “nuwe verbond” wat praat.

Miskien het jy mense wat in die oë van die samelewing min waarde het, as jou gelykes behandel.  En hulle só nuwe lewe gegee.  Dan is jy cool.  En beslis iemand wat by die “nuwe verbond” inpas.

Miskien het jy iemand teen wie jy ‘n wrok het, vergewe.  Of miskien het jy glad nie ‘n wrok teen iemand ontwikkel nie, al het hy of sy daarvoor gesoek.  Miskien het jy die vergifnis wat iemand jou aangebied het, aanvaar.  En nie vir hom vertel hy moet dit insteek waar die son nie skyn nie.

Dan is God se “nuwe verbond” vir jou.

Christina Landman

Vorige riglyn in die Preekargief

Seisoen van Luister PowerPoint