{ARGIEF}

Sondag 21 Augustus 2011 ~ Negende Sondag in Koninkrykstyd: Jes 51:1-6

God se legacy

In sy boek, Outliers, the Story of Success, vertel Malcolm Gladwell van ‘n verskynsel  wat ek sommer wil noem: geheue beliggaming. Hy beskryf dit in die afdeling: Legacy: pp161 – 250.

Hy vertel van families van Skots-Ierse afkoms (oorspronklik van die lae lande van Skotland, die distrikte van noord Engeland en Ulster in Noord-Ierland) wat hulle in 1819 in die suide van Amerika in die Appalachian Mountains gevestig het. 

Die verhale klink so reg uit Louis L’amore se cowboy boeke. Dit is die wilde weste op sy beste.  Families in klein dorpies wat met mekaar baklei en alle dispute oor die rewolwer se loop afhandel. Harde, oog-vir-‘n-oog manne. En vroue, soos die volgende aanhaling wys:

“Stop that!” Will Turner’s mother snapped at him when he staggered home, howling in pain after being shot in the courthouse gun battle with the Howards. “Die like a man, like your brother did!”

In sy navorsing kom Gladwell tot ‘n paar ontdekkings. Die eerste is dat hierdie families van ‘n gedeelte van die Britse Eilande gekom het wat net so afgeleë en hard was as waar hulle hul in Amerika bevind het. Die tweede is die oorkoms in veeboerdery wat beteken dat hulle voortdurend hul vee teen wie en wat ookal moes beskerm en dat hulle meestal op hulle self (gesin/familie) aangewese was. Die derde is dat die gevegte nie juis oor geld of besit gegaan het nie, maar oor die eer en naam van die persoon. Die vierde is dat hierdie verstaan en manier van doen, vir geslagte waar was.

In 1990 vra navorsers die vraag of hierdie geheue en beliggaming daarvan nog van toepassing sou wees vir toe. Hulle het studente afkomstig uit die noordelike en suidelike dele van Amerika vir die eksperiment gebruik. Die studente moes eers ‘n vraelys invul en dan deur ‘n nou lang gang stap wat vol liaseerkabinette gestaan het om die vraelys by ‘n seker punt af te gee. Langs die pad is iemand besig om iets uit die kabinet se laai te haal en dan die laai verergd toestoot om plek te maak dat die student verby kan kom. Wanneer die student verbyskuur, sê die persoon so onderlangs: “asshole!”  Agterna word die studente se reaksie getoets, oa hul kortisoon en kortisolvlakke om hul vlak van aggressie te bepaal.

Voorspelbaar. Die wat van die suidelike streke kom, hoewel lankal nie meer van plase doer in die boendoe nie, se aggressie vlakke verhoog terwyl die wat van die noordelike dele van Amerika kom, die hele ding aflag.

Skynbaar is daar ‘n geheue wat op ‘n bepaalde manier beliggaam word in die persone lang jare na en ver verwyder van tye en die plekke waar dit alles begin het. Dit is ‘n manier van wees wat gebou is op (so vermoed ek) verhale en handelinge en waardes wat ingeweef geraak het in die nageslagte tot op die vlak dat dit hulle onbewustelik rig en regeer.

Bogenoemde is ‘n lang relaas (ek dink wel baie interessant) om by Gen 51:1 – 6 uit te kom.

Aan die hand van Jesaja herinner God vir Israel en so ook vir ons, dat Hy ‘n God van liefdevolle trou is (hesed). Ver bo ons begrip, maar deel van ons geheue.

Of is dit?

Op meer as een plek in die Bybel word die gelowiges herinner aan die weldade van God. Dit begin gewoonlik by God se betrokkenheid by die aartsvaders (soos in die gedeelte). Daar word vertel van God se sorg deur die woestyn. Van die geskenk van die beloofde land. Van Sy geduld met Sy volk.  Van die verlossing uit ballingskap. En vir ons as NT gelowiges van die verlossingsdaad van Christus.  Sy oorwinning oor die dood en Sy heerskappy oor die onvolmaakte van die dag. Van die altyd teenwoordige Gees van God wat ons roep en rig om in Sy liefde te leef.

Is dit regtig so deel van ons dat ons reaksies op gebeure, goed of sleg, die vrug van die Gees na vore laat kom. Dat ons soos die ‘nuwe mens’ optree en nie soos die ‘ou mens’ nie – omdat dit nie anders kan nie.

Dit kan gebeur as ons die wonderlike waarhede lewendig hou onder mekaar. Wanneer dit deel word van ons alledaagse dink en doen.

Miskien die moeite werd vir ‘n gemeente om ‘n slag te dink hoe ons die verhale in ons eredienste en gespreksgroepe en byeenskomste lug kan gee.

Wat van ‘n 40 dae van rondgaan in die gemeente en gemeenskap en net die verhale van God se trou vertel. Die beliggaming van ons geheue. 

Wat my laat wonder. As die gelowiges onder die 600 000 Britse jeugdiges wat nie werk of goeie opleiding het nie die verhale van God se liefde en trou begin beliggaam, sou dit ‘n verskil gemaak het in die gebeure van die afgelope tyd in Engeland? En as hulle nou daarmee sou begin, sal dit vir mense hoop gee?

Wat my ook laat wonder oor ons in SA – met 2 000 000 jeugdiges sonder werk en goeie opleiding.  Beliggaam ons wat onsself die Kerk noem die hoop van God (vers 5-6) vir ons mede Suid-Afrikaners?

Is ons ook maar rokerig en muwwerig soos die ou aarde of is ons die aangename geur wat ons versprei waar ons ookal kom, selfs al weet ons dit nie!

Pierre Goosen

Seisoen van Luister Powerpoint
 

Preekriglyn in Argief