{ARGIEF}

Die apartheidsbeleid het van ons in meer as een opsig vreemdelinge gemaak, selfs tot die punt waar ons as vyandige vreemdelinge mekaar as bedreigings beskou het. Die aanbreek van 1994 en die Waarheids en Versoeningskommissie (WVK), het die vreemdelingskap maar net gedeeltelik herstel. In terugskoue op die werk van die WVK, is dit egter duidelik dat veel meer gedoen moes gewees het, en vandag steeds gedoen moet word, om volle herstel, insluiting, verwelkoming en ’n gevoel van ‘tuis wees’, van ‘behoort’, van ‘deel’, te kan verseker. Dít kan alleenlik op die fondamente van reg en geregtigheid gebou en aangepak word.

Vandag is daar sterk geluide uit verskillende groepe wat verdeeldheid, eie belang, uitsluiting en andersheid, vreemdelingskap en selfs die siening van ‘vyand’ en ‘vyandigheid’ aanwakker. Hier dink ek aan aksies van en uitlatings deur Julius Malema, Jimmy Manyi en Eric Miyeni. Voeg hierby die kantoorgeval aan die Universiteit Stellenbosch waar Abel Malan (wat praat van openbare teregstelling), prof. Anton van Niekerk bygekom het. Dit is uitlatings en voorvalle wat verdraagsaamheid, toleransie en samehorigheid in die wiele ry. Dit is dade en ingesteldhede wat eenheid en versoening vertraag en wat verwelkoming, erkenning en gasvryheid belemmer. Ons benodig nie sulke stemme nie. Wat ons wel nodig het, is stemme van die jeug, stemme van hulle wat eers uitgesluit het, maar nou wil insluit. Ons benodig stemme vanuit alle taal- en kultuurgroepe. Ons benodig leiers wat oor geloofsgrense geluide in die rigting van insluiting en verwelkoming maak. Politieke sowel as gewone burgerlike stemme wat raas en sê: kom bymekaar, skep ruimte vir die ander en erken ook die andersheid van die ander.

Dit blyk die mensliker en vreedsamer weg na die toekoms te wees. Dit hou risiko in, dit beteken ons moet waag, wat natuurlik ook gevaar kan voorspel. Maar dít, gemeet aan die filosofie van verwydering, uitsluiting, diskriminasie, eiesoortigheid en ongasvryheid, weeg nie op teen verwelkoming, gasvryheid en insluiting nie. Hoe offervaardig en duursaam hierdie weg ookal mag wees, ons sal beslis ryper en meer ingelig anderkant uitkom, want God is in dit alles, God wil dit ten beste, daarom bly Hy die een wat versamel en bymekaar maak – byvoeg en insluit. Hy is immers die een wat die weerlose en uitgeworpene beskerm. Die dreigende krisis van rassehaat, van aanval as ek met jou verskil, van vat omdat ek jarelank onderdruk en verontrief is, roep die meerderheid van Suid Afrikaners op om ’n verskil te maak – om prakties te demonstreer waar ons hart, emosie en oortuigings lê. Dán kan ons saam met prof. J. De Gruchy sê: “the purpose of Christian faith is not to make us religious, but to make us more truly human”.

Dié uitkomste van ons godsdiens en geloof, van ons verhoudinge en pogings van versoening en gasvryheid, van insluit en verwelkoming, word dan die inspirasie en motivering om aan God en sy gebod getrou te wees, aan sy vereistes te voldoen en gestalte te gee aan die kernwaardes van dit waarvoor die kerk eintlik geroep is, naamlik om die goeie nuus te verkondig, vryheid vir die gevangene te bewerk, die agtergeblewene op te hef, die hongerige te voed, die ongeletterde te help lees, en só hul menswaardigheid te help manifesteer en sovele ander te laat ervaar: ons gee om, ons het begrip, ons verstaan, ons wil vertroos, ons wil beskerm, ons verwelkom jou, jy behoort hier en ons het jou lief.

Speel die kerk en geloofsmense hierdie rol? Indien dit meer en meer sou kon gebeur, het Suid Afrika ‘n kans om oorlewing en kan sy die stut word/wees waarop die res van die kontinent en die wêreld kan steun.

Daar is een vorige riglyn in die argief: Jesaja 56.htm

Hier is die skakel na die Seisoen van Luister PowerPoint: PP 2003