{ARGIEF}

Sondag  6 Februarie 2010 ~ Vyfde Sondag na Epifanie ~ Verder Geluister: Jes 58:1-8

Dit is Maandagoggend en ons gaan hierdie week op reis met Jes 58: 1-8. Met die eerste lees is dit asof ‘n mens wonder of ons nie maar moet kyk na die ander tekste van die week nie – moet ons nou aan die begin van die jaar so van voor af aangevat word. Dit kom by my op – moet ek nou die gemeente aan die begin van die jaar wys op hulle oortredings… op hulle sondes? (v1).

Die kerk is so broos – die naweek het Leopold Scholtz berig oor die vreeslike gesukkel in die PKN (Protestantse Kerk van Nederland) wat jaarliks 65 000 lidmate verloor. (Die Burger 29/01/2011) en ons almal lees dit met ‘n stemmetjie wat fluister – dit is ook maar julle voorland, leë kerke, predikante wat afgedank word, ‘n kleiner wordende kerk wat al hoe meer na die rand van die samelewing verskuif . Ons moet veg om oorlewing, dit is die begin van die jaar – so kan ons nie maar ons mense moed inpraat eerder as om hulle aan hulle sondes te herinner nie?

Wel my opdrag is ek moet verder luister as net ‘n eerste lees. Soos dit gaan sien ek dat dit nie eintlik oor die geloofsgemeenskap se “godsdienstige” aktiwiteite gaan nie, maar oor wat in hulle lewe – 24/7 – aan die gang is.
“…hulle vra na my wil, asof hulle van my teenwoordigheid hou…” (v2b)
“…die mense wat vir julle werk moet nog harder werk…” (v3b)
“…julle vasdae loop uit op twis en rusie, julle dam mekaar met die vuis by.” (4)

Die profeet se vraag is nie minder of meer betrokkenheid by die geloofsgemeenskap nie? Oorgesê: loop ons kerke vol of leeg. Dit is nie die vraag nie- die vraag is of hulle wat vra na God se wil (v2) en of hulle wat vas (3 ev), werklik die wil en die teenwoordigheid van die Here op so ‘n manier soek dat dit hulle lewens verander en mense in hulle gemeenskap daardeur bevry word?

So, dit gaan nie oor die ritueel van vas, of bid, of kerk toe gaan, of… nie maar of en hoe ons lewe in die gemeenskap van die gelowiges verander? Sou mense wat ons vanoggend raakloop in die besigheid of in die kantoor kon agterkom ons het gister deelgeneem aan ‘n erediens waar ons God se wil gesoek het? Dit is nogal vir my boeiend – die profeet sê die volk wonder hoekom die Here nie aandag gee aan hulle verootmoediging nie (v3), maar hy dink dit is nie eintlik waaroor dit gaan nie. Om antwoorde by die Here te kry of te ervaar dat die Here hoor as ons praat, is nie die uitkoms van verootmoediging nie, maar hoe ons leef by die werk en veral die mense behandel wat vir ons werk – en wat ons maak met die rusies waarin ons sit? (Dink maar aan die onderonsies die afgelope week tussen faksies oor die beriggewing oor die gesondheid van oud-president Mandela.)

Soos wat ek hier skryf kom die berigte in van die onluste wat in die Islamitiese-lande van Noord-Afrika ontvou. Dit het alles begin by ‘n vrugteverkoper Mohamed Bouazizi in Tunisië, ‘n gekwalifiseerde persoon, wat nie werk kon kry nie en vrugte verkoop om aan die lewe te bly. Op die 17de Desember is sy vrugtekraampie gekonfiskeer en is hy deur  die polisie geklap. Toe hy die saak aangee by die polisie het hy gedreig dat as hulle nie aan die saak aandag gee nie hy homself gaan verbrand uit protes. Dit is toe wat gebeur het. Dit is asof die kameel se rug geknak het. Met behulp van die sosiale media, Twitter en Facebook, is die berigte hieroor onkeerbaar die wêreld in. In Mail en Gardian kan die agtergrond gelees word in ‘n artikel: The street has spoken, by http://mg.co.za/article/2011-01-15-tunisia-protests-the-street-has-spoken

Lees ook by  http://www.ibtimes.com/articles/101313/20110114/the-story-of-mohamed-bouazizi-the-man-who-toppled-tunisia.htm verder oor hoe hierdie onbekende vrugteverkoper sy land se regering laat kantel het en ‘n hele streek, Egipte, Israel, Sirië, Libië beïnvloed.

Terug by ons teks: v6 verduidelik waaroor die vas eintlik gaan: “…om die wat onregverdig gevange gehou word te bevry en om die juk wat op mense druk af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek. V7 gaan verder en praat van brood vir die wat honger is, blyplek vir die armes, klere vir die wat sonder klere is… ”dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie…” (v7b). In situasies van onreg word jou medemens aan sy lot oorgelaat. Verloor die vrugteverkoper sy gesig en word hy net deel van ‘n massa sukkelaars vir wie niemand oënskynlik omgee nie – ook en veral nie die polisie nie, soos in die geval van Mohamed Bouazizi.

Jesaja en later ook Jesus in Matt 25:45 het ‘n ander visie gehad: “vir sover julle dit aan een van die geringstes nie gedoen het nie, het julle dit ook nie aan my gedoen nie.” So kom ons dink oor die vraag hoe ons  “vasdae” (gebede, selgroepe, gemeentes, sinodes en enige vorm van geloofsgemeenskap)  daarop kan uitloop om die juk af te gooi van hulle wat nie vry is nie. Vas, afsondering, gebed en lees van die Bybel is baie goeie dissiplines wat ons hiermee kan help.

Ek lees in die By van Saterdag 29 Ajnuarie 2010 van ‘n vrou wat in ‘n sg “gemengde of multikulturele” huwelik is en vertel hoe mense in die kerk skeef opkyk as hulle kerk toe gaan – dan weet ek ons moet verseker Jes 58 met oorgawe lees dié komende week.

Lekker preek!
Frederick Marais

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere preeksketse oor Jes 58:1-8  in argief