{ARGIEF}

Is dit nie juis die gevaar van ons lewe en ons godsdienstigheid nie, dat alles so bekend en vanselfsprekend kan raak dat ons Tafelberg bewonder en nie die God wat Tafelberg uit die see laat opruis nie. Ons blootstelling aan ‘n 21ste eeuse wêreld met al die tegnologiese vooruitgang het ons dalk al by die punt gebring dat ons selfs nie meer op die uitkyk is vir wonders of die God van die wonders nie.

Aan die anderkant is dit moontlik dat daar mense is wat al moeg geword het om te wag op uitkoms. Die wêreld het pas die sogenaamde Arabiese lente beleef. New York steier onder betogings. Plaaslik het Malema dit reggekry om mense om hom te versamel. Die meeste van die mense is arm en voel gemarginaliseerd. Hulle het een hoop en verwagting; beter verspreiding van rykdom en armoede verligting.

Die vure brand hoog en dit kook op baie plekke in die wêreld, nie as ‘n teken van God se teenwoordigheid nie, maar van mense se frustrasie met regeerders en regerings wat skynbaar het en nie wil deel nie of nie weet hoe om te deel nie.

Ons moet ook nie verbaas wees as deel van die frustrasie, in ons land in elk geval, teen ons gemik is nie. Ons wat onsself christene en die kerk van Christus noem. Ons verkondig maklik reg en geregtigheid, maar ver-beeld ons dit as beelddraers van God sodat dié in nood (MIV-Vigs, armoede, bekommernis, verlies van geliefdes, ens) se ontnugtering kan oorgaan in verwondering in ‘n God wat tog nie die werk van Sy hande verlaat nie.

Hoe ons dit moet doen, weet ek nie met alle sekerheid nie. Miskien wil ek nie te diep daaroor nadink nie, want ek weet nie of ek my “money can put where my mouth” is nie. Miskien is ‘n goeie begin om by mense in nood en wanhoop te gaan sit en hulle verhale van pyn te hoor en ons verhale van magteloosheid, of versigtigheid of dommigheid of wat ons seer ook al is, met hulle te deel. Ek het ‘n vermoede dat in die mate wat ons dit regkry, die wonder van advent weer helder en hoog tussen ons sal brand – soos tonge van vuur wat op ons is.

Dat dit nie altyd maklik gaan wees nie is seker. “Hope expressed without knowledge of and participation in grief is likely to be false hope that does not reach despair” (Breuggemann, The Prophetic Imagination. P69).

Maar is dit nie juis die groot wonder wat ons verkondig nie? Dat ons ‘n God kan aanbid wat nie weggeskram het van die pyn van menswees en hang aan ‘n kruis nie?!

So is daar moed vir onsself en vir almal in die hele wêreld in alle omstandighede. Hou moed. Jesus het gekom en Hy kom weer en Hy is steeds hier. Wees wat jy moet wees!

Pierre Goosen