{ARGIEF}

4 Desember 2011 ~ Tweede Sondag in Advent

Jesaja 40:1-11 ~ Is God in Kersfees?

“Is God terug?” is die naam van ‘n boek wat A van de Beek onlangs geskryf het.  Hy is ‘n Nederlandse teoloog.  En dan vra hy tereg in die boek dat as God terug is, waar is Hy dan?  Hoekom voel dit dan vir ons Hy is so weg?  Hoekom wys Hy homself nie?  Vandag soek mense vir Jesus deur Hom aan te pas by hulle moderne kultuur en musiek.  Of hulle soek Hom in die historiese Jesus.  Jesus word deur brutale positivisme in die geskiedenis gesoek.  En dan ook as God verwerp.  Maar eintlik, sê Van de Beek, kan ons God gerus soek, en vind, deur die Bybel entoesiasties te lees.  Immers kry ons al van die Ou Testament af dat mense hulle diep verlange na God uitspreek.  Soos byvoorbeeld in Psalm 42 waar die Psalmdigter sê:  My siel skreeu na u, o God.

Kom ons kyk vandag na Jesaja 40:1-11.  ‘n Mens sou, as jy so vinnig kyk, kon sê hierdie stuk gaan juis daaroor:  God is terug. 
Maar waar was God dan? sou ‘n mens kon vra.  Dit lyk of die stuk gerig is aan die Israeliete wat in ballingskap in Babilon sit.  Hulle het ‘n bietjie begin vergeet van God.  Hulle het, toe hulle nog in en om Jerusalem gewoon het, God met ‘n stad en ‘n tempel vereenselwig.  Nou was die stad en die tempel verwoes.  En wat hulle betref, het God weggegaan.  God was egter nooit werklik weg nie – want Hy kan nie weg wees nie  – maar die mense se harte het hom verloor.

Maar nou sê Jesaja 40 God is terug!  En dit kan ‘n mens nie koud laat nie.  Dis iets waarop jy moet reageer!  Jy kan nie net op bladsy 3 van die koerant lees, God is terug, en dan omblaai nie.  Nee, God se koms vra optrede van jou.  En dit bemagtig jou ook, dat jy kan opstaan.

Jesaja 40:1-11 lyk na ‘n toevallige samekoms van ‘n klomp strofes.  Maar kom ons lees dit as ‘n aantal bevele, ‘n klomp opdragte en oproepe, aan ‘n verslane en verslae groep gelowiges om hulle te bemagtig.  In die Afrikaans lyk dit nie of Jesaja 40:1-11 soveel opdragte en oproepe bevat nie.  Dit lyk maar eerder na ‘n klomp uitroepe.  Maar oorspronklik is dit opdragte, oproepe om op God se koms te reageer.  Kom ons kyk na hierdie oproepe, wat omtrent in elke vers voorkom. Ek lees nou hier die 1933-vertaling, want dit gee die opdragte so lekker letterlik deur.

In vers 1 is die opdrag om die mense te TROOS.  Bring vir die mense die goeie nuus, sê God.  SPREEK tot die hart van Jerusalem daar in Babilon, sê vers 2.  Sê vir die mense die swaarkry is verby.  Die uitkoms is hier. 

Vers 3 bevat ‘n bekende opdrag:  “BEREI in die woestyn die weg van die Here;  maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God!”  Hierdie aanhaling kom in al vier die evangelies voor.  Dis, om die waarheid te sê, die enigste “formule” uit die Ou Testament wat in al vier die evangelies voorkom. En dit word altyd op Johannes die Doper betrek.  Johannes die Doper was gehoorsaam aan die oproep van Jesaja 40:3.  Hy het die weg vir die Christus voorberei.
 
Nou, dit is iets wat ons hierdie tyd van die jaar kan onthou. Want dis Advent.  Die Here Jesus kom!  En ons moet vir Hom die weg berei.  Nie met Jingle Bells en “Give that man a Bells!” nie, maar met ons lewens waarin Jesus se waardes beliggaam is.  En dis die waardes van liefde, en vrede, en sorgdra vir mekaar.

Vers 6 beveel: “ROEP!”.  Wat moet ons roep?  Ons moet roep dat die woord van God vir ewig staan.  God was nie weg nie.  God is hier, en was altyd hier, en sal altyd hier wees.  KLIM op die hoogste berg, beveel vers 9, en bulder dit uit:  God is hier!  En KYK, sê vers 10, maak oop julle oë – dan sal julle Hom sien.

Kyk, die Here kom, en Hy is sterk!

Wat ‘n wonderlike boodskap om met Advent te kry!  Die magtige God is oppad, in Jesus Christus.

Miskien het hierdie jaar jou sleg geslaan.  Miskien voel jy magteloos as jy dink aan die ekonomie, en verwag jy regtig nie gou uitkoms nie.  Miskien gaan dit sleg met jou persoonlike lewe.  Miskien is jy deur ‘n egskeiding, of het jy ‘n kind wat verslaaf is aan een of ander gedrag waarmee hy sy eie lewe verwoes.  Miskien moet jy dag na dag toekyk hoe jou dogter haarself al hoe sieker maak.  Miskien is iemand wat sin aan jou lewe gegee het, hierdie jaar oorlede en kan jy daardie sielsgenoot nooit weer terugkry nie.  Miskien laat die politiek jou desperaat voel, asof alles buite beheer is.  Miskien voel jy alles om jou gaan die afgrond in. 

En dan is hierdie wonderlike boodskap van Advent daar om jou op te tel:  Al hierdie dinge het nie die laaste sê nie.  Die ekonomie, jou intieme lewe, die politiek, en wat daaraan jou ookal magteloos laat voel – hulle het nie die laaste woord oor jou nie.

God het die laaste sê.  Met God is die weg berei, en kan jy nog ‘n pad loop.  Met God gaan die toekoms weer eens oop. 
Niks is magtiger as dit nie.  Niks is meer teenwoordig as God nie. Met elke dag se opstaan is God terug, en Jesus word gebore, en roer die Gees in jou.

Dis die blye boodskap van Kersfees.

Christina Landman

Seisoen van Luister Powerpoint

Preekriglyn in argief