{ARGIEF}

22 April 2011 Goeie Vrydag ~ Jesaja 52:1353:12

Die beeld van die Lydende Kneg in Jes 52:13-53:12 is ‘n treffende voorbeeld van krag te midde van weerloosheid. Die kneg, wie ten spyte van die gebrokenheid van sy liggaam deur God verhoog word, en dien as God se dienskneg in die wêreld wat hoop en verlossing bring vir ander wat net so gebroke is, bied ‘n dramatiese ander insig oor wat ‘n leier is en behoort te wees. In kontras met die leiers wat dikwels op die voorblaaie van ons koerante pryk: leiers met lyfwagte, wapens, intimidasietegnieke en ‘n uitspattige leefstyl, wat beide in ons land sowel as elders in die wêreld hulle magsvertoon op kragtige manier laat geld, is hierdie leier van die Here kwalik ‘n voorbeeld van populariteit of skoonheid of krag in die tradisionele sin van die woord.

Die kneg, of dit nou ‘n indiwidu of ‘n metafoor vir die volk Israel is, se liggaam en gees dra die wonde van die onlangse trauma van die inval deur die magtige Babiloniese grootmoondheid. Hierdie traumatiese gebeure vergelyk goed met die trauma wat die wêreld die laaste paar maande gesien het met die een aardbewing wat op die ander volg (Japan, Christchurch), die verwoestende tsunami en kernkragbedreiging in Japan, en onrus in Egipte, Libië en die res van die Midde Ooste.

Die merkwaardige van hierdie teks is dat die kneg homself volkome vereenselwig met die pyn van die mense. Hulle wonde word sy wonde; hulle lyding voel hy aan sy eie liggaam. En deur hierdie uiterste vorm van identifikasie geskied God se wil; kom daar vrede en genesing en hoop vir die mense.

Deur middel van die beeld van die lydende kneg word Israel, en ook ons vandag, opgeroep om anders te leef in ‘n wêreld wat gedomineer word deur magspeletjies van supermoondhede. Ons word aangemoedig om ‘n dienskneggemeenskap te wees wat die wonde en letsels in ons eie lewe herken en juis daarom die wonde en letsels in ander se lewens raaksien. Ons word geroep om ‘n baken van hoop en vrede en erbarmering te wees in ‘n stukkende wêreld wat al te gereeld lyk of dit mal geword het. Op hierdie wyse word daar kragtige dade verrig deur middel van die gebroke, lydende kneg van die Here.

Daar is inderdaad krag in gebrokenheid. Maar dit is ‘n anderse soort krag. Die krag van liefde en omgee en mekaar se wonde verbind en mekaar se trane afdroog.

Julie Claassens

Seisoen van Luister Powerpoint