{ARGIEF}

Maar wat nou van Jesaja 58:9b-14?  Moet ons dit lees as ‘n lysie van goed wat ons kan doen om God te plesier?  En as ons dit gedoen het, dan durf ons op God se knoppie druk dat Hy nou sy kant moet bring?

Of is daar ‘n ander manier om Jesaja 58 te lees?

Kom ons lees Jesaja 58 meer soos “we want to be” en minder soos “we have to be”. En dan kyk hoe die gedeelte ons dalk sterk kan maak.
Die Bybel is nie ‘n boek van voorskrifte nie. Dis ‘n boek wat vir ons gesonde waardes uitspel. En ons dan tereg vertel dat ons gesond en sterk kan wees en word as ons by hierdie waardes bly.

En dis ook hoe ons Jesaja 58 kan lees. As ‘n kosbare stukkie wysheid wat vir ons sê:  Waardes hou ‘n toekoms in.
Die waardes wat ons gesond en sterk kan maak, word in Jesaja 58 uitgespel. Daar word nie doekies omgedraai nie. Kom ons kyk na hulle:

  1. Jy moet sorg dat mense by jou nie verdruk word nie. Miskien is jyself nie die een wat ander mense uitbuit nie, maar dit gebeur by jou werk. Of jou buurman slaan sy vrou. En sy vrou pluk die kinders rond. En dan is dit tog so dat jy moet sorg dra “dat mense by jou nie verdruk word nie”, soos Jesaja 58:9b sê.
  2. Dis verder ook wys om mense nie te dreig nie (Jes 58:9c). Dit beteken jy moet nie jou mag oor ander mense misbruik nie. Nie oor jou vrou nie, nie oor jou man nie, nie oor jou kinders nie, nie oor jou kollegas nie. 
  3. En dis besonder wys om mense nie vals te beskuldig nie (Jes 58:9d). Of te beskinder, en die vinger na hulle te wys nie. Ja, tye verander ook nie sommer nie. Dis nou al eeue na Jesaja se tyd, en mense doen nog dieselfde goed aan mekaar.
  4. En dan is daar altyd dié onder ons wat nood het, wat soos Jesaja 58:10a sê, ‘n “sterwende keel” het. Hoe lyk die nood van die mense om jou?  Bedreig dit jou?  Wil jy jou hande daarvan afwas?  Dis nie wys nie, sê Jesaja 58. God se mense kan nie sulke waardes bekostig nie. God se mense sien mekaar se nood raak. En doen iets daaraan.

Dis interessant dat al hierdie waardes te doen het met ons verhoudings met ander mense. Ons politieke verhoudings met mense, ons persoonlike verhoudings met mense, ons medemenslike verhoudings met mense – ons moet dit met die skoonste en beste waardes aanpak, sê Jesaja 58 vir ons.

 En dan sal hierdie waardes ons sterk maak. Ons lewens sal lig wees, en nie afgetrek word deur die donkerte van agteraf-wees nie (vers 10b). Ons sal bevredig voel, en sterk in onsself, want ons sal agente van die goeie wees (vers 11a). Ons sal nie alleen in die woestyn sit nie. Ons sal soos ‘n tuin wees, wat onder besproeing is, en soos ‘n fontein met lekker soet water. En ons weet mos ‘n tuin in die Ou Testament is altyd ‘n plek waar daar goeie intieme verhoudings is. En ‘n fontein is die plek waar die gemeenskap vergader, en waar vriende mekaar vind.

 Inderdaad, dit lyk asof goeie waardes en goeie verhoudings met die mense om jou, jou na goeie plekke vat. Dit vat jou persoonlike verhoudings tuin toe. Dit vat jou vriendekring fontein toe. En watter goeie plekke is dit nie om te wees nie!

 Ja, goeie waardes maak jou sterk. Dit maak van jou ‘n ruimte waar God jou “gebeente sterk sal maak” soos dit in die ou vertaling staan.
 Vers 12 is egter die vers in Jesaja 58 wat my die meeste opgewonde maak. Dit sê dat goeie waardes ons bouers en herstellers sal maak.

Ons gemeente in Mpumalanga het ‘n plaasskooltjie geërf. Die skooltjie se naam is Tonteldoos Secondary School. Dit kan seker ook net in Suid-Afrika gebeur:  dat ‘n kerkskool met net Zulu-sprekende leerlinge se naam Tonteldoos kan wees.

 Maar ons het met die hulp van ‘n myngroep hierdie skooltjie opgebou en herstel. En die ongeveer 300 leerlinge het nou ‘n plek om in skool te gaan wat hulle ‘n nuwe trots en ‘n lus vir leer gee. En hierdie Sondag gaan ons die herstelde skooltjie inlyf. En natuurlik gaan daar gepreek word uit Jesaja 58, veral vers 12.

Ons sal vir mekaar kan sê:  Omdat ons vir mekaar omgegee het, en mekaar se nood gehoor het, het God ons die kans gegee om bouers en herstellers te wees.

Miskien is jy nie ‘n bouer in die sin dat jy stene op mekaar kan vasmessel nie. Maar as ‘n mens van God, is hier vir jou op aarde baie bouwerk om te doen.

Ons het nodig om brûe na mekaar te bou. Ons het nodig om paaie te bou na mense se menswaardigheid. Ons het nodig om geboue te bou waar mense veilig met mekaar kan wees. Ons het nodig om eetplekke te bou vir die mense met “sterwende kele”.

En ons het nodig om tuine aan te lê vir gesonde intieme verhoudings. En fonteine vir goeie en helende verhoudings tussen mense in ons samelewing.

Geniet jou waardes!
Christina Landman

Seisoen van Luister: Powerpoint

Geen verdere Preekriglyne in Argief