{ARGIEF}

Toepassing 1

Almal van ons, hoe onafhanklik en selfstandig ons ookal mag wees, leef vanuit ‘n bepaalde agtergrond. Daar is ‘n groot gehoor, bewustelik of onbewustelik, wat met ons saampraat wanneer ons standpunte stel en besluite neem in ons daaglikse lewe.

Brueggemann (Mandate to Difference, p191) gebruik die term script om te verduidelik dat ons meestal vanuit ‘n bepaalde voorveronderstelling leef. Hierdie lewens-teks van my, kon beïnvloed gewees het deur die metanarratiewe van teoloë en filosowe en watter ander geleerdes ookal. Maar, dit kon ook uit ‘naby’ waarhede en gebruike gekom het soos: “My pa het altyd gesê …”

Só word kultuur natuurlik geskep, en aanvaar ons baie dinge in die lewe as vanselfsprekend. Byvoorbeeld dat politici so ‘n hoë posisie beklee. Dat mense in die ‘sagter wetenskappe’ soos onderwysers en maatskaplike werkers, met kleiner salarisse as sê nou maar ouditeure en aktuarisse tevrede moet wees. Dat ryk mense ook die inloedryke mense moet wees. Dat as jy ‘n groot sterk man is, jy outomaties die leier is.

Die Australiese sangeres, Judy Small, laat ‘n mens dink: “Why does gunmen sound familiar while gunwoman doesn’t ring true? What is it about men that makes them do the things they do?”

So was dit ook die gebruik dat ‘n Jood en ‘n Samaritaan nie langs dieselfde vuur, of is dit nou put, sit nie. Wat nog te sê ‘n Joodse man met ‘n Samaritaanse vrou praat. Dit was ook deel van die Samaritaanse kultuurgoed dat Jakob die put met sy vloeiende (lewende) water gegrawe het/beskikbaar gemaak het – wil hierdie Jood nou beter? Daar was bepaalde sosiale gebruike – tov die huwelik. En, daar was bepaalde godsdienstige gebruike en verwagtinge soos dat die Messias nog moet kom.

Al hierdie gebruike en verwagtinge kom keer Jesus om. Een vir een word al die aspekte uit ‘n onkonvensionele hoek belig met die hoogtepunt in vers 26 wanneer Jesus sê dat Hy die Messias is.

Lydenstyd is die tyd wanneer ons herinner word dat ook óns gebruike, godsdienstigheid, oorleweringe, kultuurgoedere – alles wat op die oog af lyk betekenis aan ons lewens te gee – getoets en op hul kop gedraai (kan) word.

Die Koning is aan die kruis, nie op die troon nie. Diensbaarheid is die kenmerk van die Leier, en nie mag of posisie nie. Sekuriteit lê nie in die dinge onder die aarde nie soos vloeiende water (en in ons tyd seker veral goud nie), maar in die verhouding met die “Een in die hemel en op die aarde in die waters onder die aarde”.

Toepassing 2

Nog ‘n moontlike toepassing kan gemaak word met die put as metafoor vir ruimtes wat ons skep om

met mekaar diepte gesprekke en gemeenskap te kan hê. Die kruis is ook ‘n “ruimte” vir gemeenskap

met mekaar en ons Here. Die nagmaal is immers ‘n gemeenskapsmaal.

Toepassing 3

Nog ‘n moontlikheid. In hierdie dae van Japan se groot rampe – aardbewing, tsoenami, kerngevaar –  hoor ‘n mens weer baie verwysings na die voorspellings van Nostradamus, Siener van Rensburg en ander. Mense probeer die tekens lees en so ‘n houvas kry op die toekoms.

Die vrou by die put was ook opgewonde omdat Jesus die ‘tekens kon lees’. Sy het die mense gaan vertel en op haar vertellinge het hulle na Jesus gekom. Maar dan is daar die betekenisvolle vers 42 waar hulle sê: “Ons glo want ons het self na Hom geluister”.

Ware onderskeiding lê daarin dat ons Jesus eerstehands sal sien aan die kruis en hoor in ons daaglikse lewens.

Pierre Goosen