{ARGIEF}

26 Augustus 2012 ~ Dertiende Sondag in Koninkrykstyd ~Josua 24:1-2a en 14-18

Barmhartigheidsondag

Die sleutelteks vir hierdie week vertel van ‘n belangrike moment in Israel se verhaal. Die volk het die beloofde land ingeneem.   Die nageslag van Abraham woon in die land wat God in ‘n belofte aan hom toevertrou het. Die volk het die reis van belofte na vervulling deurleef. Dit was nie altyd ‘n besonder eenvoudige reis nie en hulle verhaal na die beloofde land vertel dikwels van hulle twyfel, ongeloof en ongehoorsaamheid. In dieselfde asem getuig hulle verhaal van God se betrokkenheid. God se sorg, beskerming, liefde en geduld.

Josua het die volk byeen geroep om hulle weereens by ‘n moment van besluitneming te bring. Israel is nou weer by ‘n waterskeidingsmoment. Hulle wat so lank op weg was na die beloofde land is nou daar en moet nou besluit wie hulle gaan wees in hierdie nuwe plek en hoe hulle die lewe gaan leef as mense van die land; as mense van YHWH. Hulle het weereens ‘n keuse om te maak. Josua stel dit duidelik: hulle moet kies tussen die God van die verbond en die gode van die land wat hulle nou in besit geneem het. Hulle kan nie slegs met hulle lippe bely dat hulle aan YHWH glo en dan leef asof hulle self hulle heil bepaal nie. Josua bring die volk byeen en vra hulle om in die openbaar hulle besluit te neem. In die verse wat nie deel vorm van die sleutelteks vir die week nie (Vers 2b-13) word God se getroue sorg weer aan die volk voorgehou. In die lig van wie God is vir Israel en hoe hulle God ken uit Sy sorg en liefde, bring Josua-hulle weer voor ‘n besluit. Hulle identiteit, lojaliteit en leefwyse word bepaal deur ‘n besluit vir YHWH te neem.

Josua gaan die volk voor in die besluit en verklaar dat hy en sy volk die Here sal dien. Israel volg in sy voorbeeld. Hulle verklaar dat hulle glad nie daaraan dink om die Here te verlaat en ander gode te dien nie. Hulle kies vir YHWH. Josua daag egter dadelik hulle besluit uit en wys hulle daarop dat hulle keuse vir YHWH ‘n bepaalde lewensstyl impliseer. Hulle verhouding met God het implikasies vir hulle verhoudings in die nuwe land.

Telkens in nuwe situasies word Israel weer voor die keuse geplaas: Gaan hulle voort met YHWH of loop hulle ‘n eie pad. Telkens word hulle weer herinner aan die konsekwensies van hulle keuse.

In die lig van die oorweldigende realiteite van armoede, geweld en misdaad in ons eie konteks is dit dalk belangrik om elke nou en dan weer tot verantwoording geroep te word. Dalk is dit nodig dat ons vir mekaar vra waar is ons nou, saam met wie loop ons en waarheen is ons op pad. As ons die God van die verbond kies, die God van Abraham, Isak en Jakob, dan beteken dit dat ons samelewing dit moet sigbaar wys. Ons keuse vir God kan nie bloot lippetaal bly nie, dit moet sigbaar word in hoe ons die lewe doen.

Charlene van der Walt

 Geen Preekriglyn in Argief

Josua 24:1-2a, 14-18 – 13de Sondag in Koninkrykstyd (Barmhartigheidsondag) – 26 Augustus 2012

Josua24Hierdie teks help kinders om te verstaan dat keuses gevolge het. Werk in Familietyd met óf twee blikkies (vrugte/boontjies) waarvan die etikette omgeruil is, en laat die kinders dié een eet wat hulle gekies het. Óf gebruik ’n origami speletjie wat dieselfde illustreer as inleiding om die verhaal van Josua dramaties te vertel. Die preekriglyn gebruik die roerende verhaal van Henry Jackson wie se plaas op 24 April 2012 afgevat is om die punt dat keuses gevolg het, verder in te skerp. In die diep toets van sy bereidheid om die Here te volg, al gebeur wat ook al, het die Here dit in sy hart gewerk om nie bitter of kwaad te wees nie, maar die plaasbesetter, Philemon, te seën. Die storie het ’n goeie afloop, deurdat die Zimbabwiese regering op 8 Julie 2012 Jackson amptelik in kennis gestel het dat die grondonteiening teruggetrek word. Jackson kon sy grond behou en met die seën van die regering verder boer. Só staan dit ook in Josua 24 geskryf. God se trou is iets waarop ons kan staatmaak, selfs al beleef jy nie só ’n uitkoms nie. “Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.”

Josua 24:1-2a; 14-18.ppt 644.5 KB Aug 20, 2012 07:48 Download 28

Josua 24:1-2a; 14-18.pptx 479.69 KB Aug 20, 2012 07:45 Download 19

Josua 24:1-2a; 14-18.doc 102.5 KB Aug 20, 2012 07:45 Download 37