{ARGIEF}

30 Oktober 2011 – Negentiende Sondag in Koninkrykstyd – Hervormingsondag

Josua 3 ~ Om grense oor te steek

Vandag is Hervormingsondag.  Dit klink na ‘n lang, droë woord, en ‘n somber, vervelige ou fees oor iets wat niemand meer goed kan onthou nie.  Maar nee, Hervormingsondag is iets wat ons met hart en siel kan vier!  Want ons vier die oorsteek van ‘n grens.  Ons vier fees want iemand het die moed en die visie gehad om ‘n gevaarlike grens oor te steek – en die hele wêreld kon daarna verander.

Op 31 Oktober 1517 (ja, dit is lank gelede!) het Martin Luther volgens oorlewering sy Vyf-en-negentig Stellinge op die kerkdeur in Wittenberg gaan opspyker.  Hiermee het hy ‘n grens oorgesteek.  Hy het vertrek uit ‘n plek waar die kerk mense se heil en verlossing aan hulle verkoop het.  Hy het vertrek uit ‘n plek waar die kerk van destyds gelowiges se lewe met geldgierigheid bestuur het en nie met die Bybelse waardes van genade en liefde nie.  En hy het die grens oorgesteek na ‘n plek waar mense weer die Bybel as hulle fontein kon hê.  ‘n Plek waar gelowiges in God se genade kon glo.  ‘n Plek waar geen priester of biskop tussen die gelowige en God kan kom staan en ‘n fooitjie daarvoor kon vra nie.  ‘n Plek waar net God genade en verlossing kan gee, en niemand namens Hom nie.

Dit was nie maklik om hierdie grens oor te steek nie.  Luther het homself daarmee voëlvry verklaar.  Hy is gejag en het dikwels, sommer baie dikwels, vir sy lewe gevrees.  Baie mense om hom het wel hulle lewe verloor.  Saam met die Hervorming het ‘n rewolusie onder die gewone mense ontstaan teen die onderdrukkers van hulle tyd – en baie het gesterf.

Die Bybel is vol van gelowiges wat grense oorgesteek het.  Ons lees in Eksodus hoe die Hebreërs uit Egipte ontvlug het, en die Rooi See oorgesteek het.  En hoe God al die pad met hulle was.  En die waters teruggehou het, sodat hulle droogvoet deur die Rooi See kon trek.  En dat daar ‘n nuwe vryheid vir hulle anderkant gewag het.  En hoe hierdie grens wat oorgesteek is, die Egiptenare se graf geword het.

En in ons teksvers lees ons amper dieselfde verhaal in Josua 3.  Die Israeliete het nou deur die woestyn getrek, en voor die Jordaan te kampe gekom.  Anderkant die rivier lê die beloofde land, Kanaän.  Hierdie grens moet nou oorgesteek word.  Maar weer eens is God met hulle.  Hulle reinig hulleself eers.  Dan loop die priesters met die verbondsark voor.  Dit was, tussen hakies, vier manne wat tussen hulle 83 kilogram gedra het.  Net ‘n gemaklike vrag.  En wanneer hulle die vlakwater met hulle tone raak, dam die waters op – en kan die volk met droë voete deurtrek.

Ja, sal julle sê, maar al die mense wat noual genoem is – Moses, Josua, Luther – het almal geweet hulle doen die regte ding.  Hulle steek die regte grens oor.  En dat God saam met hulle stap.  Maar hoe weet ons, ek en jy vandag, of die grense wat ons wil oorsteek, die regte grense is – en of God saam met ons gaan oorsteek?

Miskien moet elkeen van ons ‘n oomblik sit en dink watter grense ons al in ons lewe oorgesteek het – en of dit die regte grens was, noudat ons daarop kan terugkyk.  Toe jy iemand vergewe het wat jou seergemaak het, was dit die regte grens om oor te steek?  Of het jy jouself net blootgestel dat hy of sy dit weer kan doen?  Toe jy aanvaar het dat jou kind niks met sy lewe gaan doen nie, het jy die regte grens oorgesteek?  Of het jy hom nou maar daardeur vir die leeus gegooi? Toe die NGKerk se Algemene Sinode besluit het om Belhar as ‘n belydenisskrif te aanvaar, het hulle die regte grens oorgesteek?

As Moses nie die Rooi See oorgesteek het nie, en Josua het nie die Jordaan oorgesteek nie, en Luther het nie sy 95 stellinge aan die kerkdeur vasgespyker nie … waar sou ons vandag gewees het?  Maar hoe het hulle geweet hulle doen die regte ding?

Om ‘n grens oor te steek, is ‘n geloofsdaad.  En jy steek net die regte grens oor, as jy ‘n gesonde geloof het.  En wat is ‘n gesonde geloof?  Gesonde geloof.  Albei woorde begin met ‘n g.  So, kom ons soek nog woorde wat met ‘n g begin om ‘n gesonde geloof mee te beskryf.  Nie omdat ons dit as toorwoorde wil gebruik nie, maar net sodat ons dit makliker as riglyne kan onthou wanneer ons ‘n grens moet oorsteek.

Eerstens dink ek aan geregtigheid.  Wanneer jy ‘n grens oorgesteek het, moet dinge “regger” wees.  Wanneer jy iemand vergewe, moet julle verhouding daarna “regger” wees.  Wanneer jy die regering aanspreek oor dienslewering, moet dit wees om dinge “regger” te maak.  Nie om jouself op die kaart te plaas nie.

Tweedens dink ek aan genade.  Ons steek ‘n grens oor sodat God se genade duideliker kan blyk.  Wanneer ek byvoorbeeld die teenspoed in my lewe aanvaar, dan is dit omdat ek op God se genade durf staatmaak.  Ons steek nie ‘n grens oor omdat ons spiere wil wys nie, maar omdat God se genade ons daartoe in staat stel.

Derdens dink ek aan “geliewe”.  Watse woord is dit? sal julle vra.  Wel, ek moes ‘n woord maak wat met g begin, ‘n woord wat ons die pad van liefde wys.  Ons steek ‘n grens oor weens ons liefde vir die waarheid soos ons dit sien, weens ons liefde vir God soos ons Hom ken, weens ons liefde vir ons medemens wat nie die vermoëns het om dit te doen nie.
Om in gesonde geloof ‘n grens oor te steek …  kom ons doen dit vandag, en môre, en oormôre.  Sodat daar meer geregtigheid kan wees, en meer genade, en meer liefde.

Christina Landman