{ARGIEF}

1 Augustus 2010 ~ Negende Sondag in Koninkrykstyd: Kol. 3:1-17

Kupido, die karakter in Bidsprinkaan (André P. Brink), raak op ‘n stadium onder invloed van ‘n sendeling baie vroom en godsdienstig – tot irritasie van sy vrou.  Soveel so dat sy aan hom sê: “Jy loop nog so met jou kop in die hemel ( … jou gedagtes op die dinge daarbo … ) dan trap jy hieronder in die … “

Dit is sekerlik die gevaar van ‘n te vroom, vergeestelikte lewe waarin jy jou terugtrek uit die gewone en alledaagse lewe met die vraagstukke en aansprake wat dit bring.  ‘n Manier om te ontsnap aan die verantwoordelikhede en etiese kompleksiteite van die dag. Ek het egter ‘n vermoede dat so ‘n klooster-bestaan, nié die groot gevaar van ons dag is nie.

As ons ons koppe gaan stamp, sal dit wees omdat ons ‘n hoogmoedige houding en oorwaardering van onsself en ons regte het.  Ons koppe is in die lug omdat ons dink ons is verhewe bo die waardes en waarhede waaraan ander mense hulle moet hou.  Hoogmoedig sweef jy so bo die aarde dat jy nie agterkom daar is modder aan jou voete nie.  Om die waarheid te sê, dit maak eintlik ook nie saak nie, want dit is nie dat jy op ander neerkyk nie, dit is net dat jy verwag hulle moet na jou opkyk, na jou opsien.  Jou in jou posisie handhaaf sodat jy met onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodery is, kan voortgaan (vers 5). 

As ander jou nie vrywillig in daardie posisie wil hou nie, is daar altyd nog die goeie ou wortel van alle kwaad.  Ek lees by iemand dat daar nou nie meer gesê word: “Ek dink, daarom is ek, nie.  Maar ek koop, daarom is ek”.  

Paulus sien ‘n heel ander lewe vir ons raak.  ‘n Heel ander verstaan van en perspektief op die lewe.  ‘n Lewe met my voete stewig op die grond wat saam met baie ander voete loop en dans en onder die tafel insteek.  ‘n Lewe met ‘n oog vir Christus wat Hom in alle ánder sien.  ‘n Lewe met ‘n gesindheid van liefde en al die ‘gesigte’ daarvan soos vrede, meelewendheid goedgesindheid, nederigheid, sagmoedigheid en verdraagsaamheid. ‘n Lewe gerig op Christus daarbo.  Heersend aan die regterhand van God. 

Dit is waar die verskil met Kupido inkom.  Gerigtheid na bo waar Christus is, is nie net vroom gedagtes nie, maar ‘n vaste wete dat ons reeds vernuwe is.  Dat ons reeds nuut (kan) leef. Aangesien … Daarom.

Die bekende metafoor van die beeldhouer wat reeds die figuur in die granietblok sien en dan net die oortollige klip wegkap sodat die figuur na vore kom, is hier van toepassing.

Ook die metafoor van iemand wat ‘n huis tussen ruïnes bewoon.  Die nuwe huis kan nie mooi gesien en lekker bewoon word voordat die rommel rondom die nuwe huis eers weg gewerk word nie.  Ons moet nie verbaas wees oor die nuwe nie.  Ons moet eerder verbaas wees oor die slegte en die oue wat nog oorgebly het nadat “… ons saam met Christus uit die dood opgewek is”.

Dit is ook ‘n huis met baie wonings waarin daar gasvry saam met ander tot lof en dankbaarheid teenoor God geleef word. Die vrede wat die nuwe lewe bring, word eers beleef wanneer dit saam met ander beleef word.

Pierre Goosen

Seisoen van Luister Powerpoint

Preekriglyn in argief & Riglyn 2