{ARGIEF}

Sondag van Christus die Koning – Feesdiens ~ 21 November 2010

Luk 23:33-43

IS DIE KRUIS ʼn HANGERTJIE OM ONS TE LAAT MOOI LYK?

Dit is bes moontlik die mees aangrypende skrifgedeelte in die ganse Bybel. Die Almagtige Magtelose. Die gekruisigde koning van die wêreld – absolute paradoks. Dis dalk goed om snitte uit The Passion of the Christ te wys om net die verskrikking van die gebeure, die rou aakligheid met realisme terug te bring. In die ganse bestaan van die heelal was dit die verskriklikste dag.

Intussen is die kruis seker die wêreld se mees gewilde hangertjie. Kyk wie almal dra die mooiste kruisies op die mees opsigtelike plekke!  Die bespotting van Christus die koning gaan onverstoord voort.

Die liturgiese kommentaar van die week en die preekskets is regtig goed. Daar staan “Feesdiens”. Iets tussen opstand en ʼn ongelooflike hartseer het in my begin posvat. In Eksodus 3:5 by die brandende braambos sê die Engel vir Moses om nie nog nader te kom nie, om sy skoene uit te trek want dit is gewyde grond. Moses het sy gesig bedek. By Golgota is alles in bisarre “meer” teenwoordig. Niks is bedek nie. Die mens se gewaande mag oor God word op ʼn heuwel uitgestal, naakte waarheid. Selfs sy klere word verdobbel-verdeel … tentoongestel. Flieks van gemaak. En ons dra hangertjies van die gedenkwaardige geleentheid.

Iets is nie reg nie.
Die Koning regeer nie by ons nie, nie ín ons nie. Bring ons nie ʼn oordeel oor onsself nie? Is dit nie dalk die grootste uitstalling van ons inherente valsheid nie?
Die kerk sterf in die weste. Ons eie NGK Jaarboeke vertel vir ons die krimpende kerkstatistieke. Ons kinders sien die valsheid en verwerp “die kerk”.

Hoekom kom daar niks van kerkeenheid nie? Hoekom skei en baklei ons en word selfsug skynbaar net erger soos die verbruikerskultuur ons ware godsdiens ontbloot?

Hoekom raak rykes ryker en armes armer?

Hoekom verryk die nuwe rykes hulle in skandelike korrupsie en inhaligheid ten koste van die groeiende getalle vermoordes, verminktes, verkragtes, mishandeldes, HIV magteloses … met die tronke tot oorlopens toe vol – op sy eie ʼn makabere spel van mag, onreg en korrupsie.

Hoekom sukkel ons oor soveel jare om tussen kerke en Christene met verskillende agtergronde eenheid, begrip, liefde, ʼn beter land en lewe vir almal te kry? Lees enige koerant.
Julius Malema se naam sê als. Aan die ander kant is daar die AWB en geesgenote – rassiste wat hul eie kerke stig en vir jou vertel die slang wat Adam en Eva verlei het, was ʼn  swarte. Daar’s apartheid en Rwanda volksmoorde. Christus se vernedering gaan ongestoord voort. En ons dra graag kruishangertjies.

Toe sê Jesus: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”
Weet ons wat ons doen?
Kan ons feesvier?
Is ons nie totaal verblind – net soos die samelewing in Jesus se tyd nie?
Sê die feite nie vir ons dat ons Hom nie volg nie? 

Ons het al die heilige geskrifte, die van destyds en ons eie, maar ons weet nie wat ons doen nie, al dra ons hangertjies met die mooiste kruisies.

Jurgens Hendriks

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere Preekriglyne in Argief.