{ARGIEF}

Sondag 21 Februarie ~ Luk 4:1-13

Vandeesweek se preekstudie in die Leesrooster oor Luk 4:1-13 – gedoen deur Lisel Joubert – is werklik uitstekend en baie bruikbaar.  Lisel gee `n goeie eksegetiese oorsig, wys belangrike teologiese en hermeneutiese lyne aan en bied `n lekker bruikbare preekriglyn. Ek kan dit met die grootste vrymoedigheid aanbeveel.

Versoeking is `n saak waaroor ons dalk in ons tyd te min preek.  Ek dink ook nie dat dit totaal onmoontlik is om oor ons versoekings te preek na aanleiding van die versoeking van Jesus nie.  Daar is beslis maniere waarop `n mens op `n verantwoordelike wyse vergelykings sou kon tref.  Maar ek stem saam met Lisel dat wanneer die teks in lydenstyd gebruik word, die eerste vraag nie gaan oor die wat of hoe van ons versoekings nie, maar oor die identiteit en werk van Jesus.  Die regte vraag agter die versoekingsgeskiedenis is die vraag: Wie is hierdie Jesus regtig en wat is dit presies wat Hy vir die mensdom en vir ons wil doen?

Die versoekingsverhaal – veral as ons dit lees saam met die verhaal oor die Doop van Jesus – gaan dus nie in die eerste plek oor versoekings nie, maar oor die vraag watter soort Messias Jesus sou wees.  As ons Jesus se werklike mensheid baie ernstig neem (soos wat ek dink ons moet) en dan rekening hou daarmee dat Hy soms aan sy Goddelike oorsprong en opdrag kon twyfel, dan was deel van die betekenis van sy Doop dat Hy van buite die versekering en bevestiging gekry het dat Hy inderdaad die Seun van God en die Messias van die wêreld is.  Die vraag daarna was: watter soort Messias gaan Hy wees?  Gaan Hy `n Messias wees wat die mense tevrede stel? – of gaan Hy God se Messias wees.  Ons sou die versoeking kon lees as deel van Jesus se stryd om vir Homself duidelikheid oor hierdie kwessie te kry.

In die versoeking wys Jesus drie moontlike maniere waarop Hy sy Messianiteit kon verstaan, af.  Hy is nie `n blote sosiale hervormer of `n politieke Messias of `n wonderwerker nie.  `n Mens sou in die preek by elkeen van die versoekings kon stilstaan en wys dat elkeen van die versoekings `n goeie en legitieme kant het en waarskynlik mense sou kon help met `n spesifieke behoefte of nood in hul lewe. Dit is nie moeilik om vanuit die drie versoekings parallelle na vandag te trek nie. 

  • Om Jesus te verstaan as `n sosiale hervormer was `n fout wat oa die liberale Protestantisme gereeld gemaak het.  Dit is sekerlik nie die slegste dwaling in die kerk nie – maar helaas ook nie die volle evangelie nie.  Die kerk moet met dié soort werk besig wees, maar die Christelike pakket bevat meer as net brood en kos.  Voor alles kom die aanbod van vrede met God en die boodskap van die menswaardigheid van alle mense.  
  • Ook die tweede versoeking was gereeld daar nl dat mense Jesus wil kry om hulle by te staan met hulle politieke strewes en wense.  Ons ken dit uit ons eie geskiedenis (en vir te veel mense is dit nog deel van ons eietydse geskiedenis).  Maar ons weet dat ook vele ander die fout gemaak het en maak.  As `n mens na die wêreldkerk kyk, weet jy dat ons op te veel plekke vasgevang sit in politieke, volks- en ras-denke.
  • Die versoeking om mense te beïndruk deur wonders en tekens, sien ons ook gereeld onder ons.  Dit is dalk die oerfout van die Charismatiese en Geesbewegings dat hulle te maklik en te veel vra vir wondertekens.  Ook daarvoor het Jesus “nee” gesê ter wille daarvan om God se Messias te wees. 

`n Kwessie om mee rekening te hou, is dat ons die positiewe vulling van Jesus se Messiasskap nie direk in hierdie verhaal kry nie, maar in die res van Jesus se verhaal wat deur Lukas vertel word.  Ons hoor dit in sy woorde en in die verhale wat Hy vertel; ons sien dit in sy dade; maar ons sien dit veral in die verhaal van die Kruis en die Opstanding waar Hy ons versoen met God en die moontlikheid van `n nuwe lewe in gemeenskap met God en in gehoorsaamheid aan sy woord, open.  `n Mens sou wel `n saak daarvoor kon uitmaak dat ons in die perikoop wat later in Luk 4 volg (vs 16-28) `n positiewe antwoord op die vraag na die ware aard van Jesus se Messiasskap kry.  Die gedeelte kom oor twee weke aan die orde en sou goedskiks aan die preek gekoppel kon word.

Vir ons is die belangrike les hier dat Jesus nie altyd ons vrae antwoord en behoeftes bevredig op die manier wat ons dink die beste sou wees nie. Deel van die waarheid is dat ons nie altyd verstaan wat ons diepste probleme is nie. Wat ons soms sien as die wortel van ons probleme, is dikwels net `n simptoom van `n veel dieper kwessie.  Ons word in die gedeelte opgeroep om altyd daarmee rekening te hou.  Jesus is die Messias; Hy kan ons help; maar Hy doen dit op sy manier. 

Daar sit waarskynlik ook vir ons `n les in die manier waarop Jesus vashou aan die Woord van God en in nood sy absolute vertroue daarop plaas.  Daar is tye waarin ons voel dat dit nie genoeg is nie en waar dit vir ons voel ons soek na meer konkrete hulp. Ons sal moet vashou daaraan dat dit die manier is waarop die Here ons help en ons gebede verhoor. Ons moet luisterend leef en deur die Here se genade leer vertrou op sy woorde.  Ons kan altyd weet dat God se woorde meer is as net woorde.  Op een of ander manier staan God self daaragter en kom Hyself daar by deur die werk van die Gees en kan Hy ons deur hierdie Woord versorg en dra deur die moeilikste probleme en versoekings heen.

Coenie Burger

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen veredere Preekriglyne in argief