{ARGIEF}

Toe ek klein was, het my ma vir my gesê … meng jou met die semels, dan vreet die varke jou op … ek het … hulle hettie … sy’t gejok … Of so dink ek … Ons mense is deesdae so behep met ons sogenaamde “status”… Waar bly julle? Hoeveel kamers het julle huis? Watse kar ry julle? Watse werk doen jou man? Watse werk doen jou vrou?

… en dan wat?? Dan plaas ek jou êrens in ‘n kategorie bo, of onder my. Dit bepaal hoe ek jou gaan behandel, hoe ek teenoor jou gaan optree, en of ek hoegenaamd gaan meng met jou …

Ek sê hierdie dinge so nimmer as te nooit hardop nie … net hier diep binnekant my bevestig ek dit vir myself … hulle is van die anderkant van die spoor … hulle issie so ryk soos ons nie … en sal ook nooit wees nie want hulle is te verdomp sleg!!! Geen manier dat hulle op die skoolraad kan dien nie. G’n manier dat hulle op enige komitee sal kan dien nie. Te dom as jy my vra … Hulle gat ons aftrek na hulle vlak toe as ons meng …
Ons het al by sulke mense gebraai … Phleg!!!! Hulle drink Castle en hettie DSTV nie … die arme kinders moes die heel middag buite speel in die yard. Paadjies maak, karretjies speel, bruggies bou … innie sand … Niks Cartoon Network nie … Kan jy dit glo? Waar gat die wêreld heen?

Ons MOES hulle (ook maar net oor ons ordentlik opgevoed is) desnoods eendag oornooi vir ‘n braai. What a waste!! Kan jy nou vir ‘n halfuur lank moet aanhoor … “O, dis pragtig”, “O dis te mooi”. Tsk … as hulle nie so verdomp hopeloos was nie kon hulle ook al daai goed al gehad het. En die arme kinders … my aarde … kan jy glo hulle weet nie hoe die internet werk nie? Nog minder ‘n XBOX-360!! Na ‘n halfuur, terwyl daar dvd’s, xbox, rekenaars, DSTV en ALS is … is hulle kwansuis verveeld. Red nou ‘n nasie met so ‘n volk. Te maklik grootgeword as jy my vra. G’n wonder die bloedjies sukkel so op skool nie. Aan die ander kant … hulle kan seker nie help dat hulle van die “onderdorp” af is nie.

Anderster mense daai ai! Hulle karre het almal name … Duifie, en Loeloes, Gedroggie en so fletter hulle voort … Hulle besoek kermisse en eet hulle dik aan pannekoek. Hulle gaan Vrydag-aande dans by die kerksaal. Hulle speel saans kaart en Monopoly. Hulle trek hulleself snaaks aan en dan lag hulle vir mekaar. Hulle versorg hulle bure se dogtertjie wat kroep het. Hulle maak alke aand ‘n ekstra bord kos vir die tannie oorkant die pad wat in ‘n rolstoel is. Party Sondae middae sit hulle in die tuin en kyk hoe die nuwe ertjierank begin uitloop. Hulle kyk of die 2 kleintjies in die duif se nes nog oraait is … Hulle speel vir ure lank met ‘n vuil poedel wat se hare al aanmekaar knoop. Hulle verf almal saam aan die nuwe pophuis wat Oupa vir sussie gebou het. Saans sit almal saam om die tafel en eet, en hou huisgodsdiens. Sondae, na kerk en katkisasie, maak die ma poeding, vir saam met die ete. Elke keer as iemand verjaar is dit ‘n paartie met koek en kerse en linte en ballonne en rooikoeldrank. Hulle gaan Saterdae Mall toe en loer en wonder wat Kersfeesvader gaan bring …

Ja nee … ek het gemeng met daai lot … en soveel kere gewens ek kan vir ewig aan die anderkant van die spoor bly … http://bekuitspoel.wordpress.com/2007/09/19/anderkant-van-die-spoor/

Ja nee … Jesus het eintlik aan die anderkant van die spoor gebly, om die waarheid te sê, Hy was dakloos. Hy het met daai lot gemeng wat ons vandag sou sê van die onder-dorp af kom; Jesus het met hulle wat in die donker gangetjies skuil, vriendskappe aangeknoop. Hy sou by diegene wat in kampe plak en dag en nag op strate leef, gekom, gedrink en geëet het.  Die evangelis Lukas berig dat Jesus oor Homself sê: “Die Seun van die mens het gekom, geëet en gedrink en julle sê: Kyk daar, ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van die tollenaars en sondaars”.

Jesus was net te common en te radikaal vir die ernstige godsdienstiges van sy tyd. Ek dink baie kerkmense sukkel vandag steeds om Jesus regtig te verstaan en sy pad te volg/manier van doen deur te voer. Hy pas nie in hul godsdienstige raamwerk nie, hul aanbiddingskultuur en geloofstradisies kom van ver af en is in yster gegiet. Hulle sukkel om die alternatiewe lewenswyse wat Jesus van sy volgelinge vra te snap en dit te waag om saam met ander navolgers te stap. Hulle voel veilig met Jesus wat soos hulle lyk en dink, praat en bid! Hy word dan ook net binne hulle eie kerk se mure reg aanbid en in hul daaglikse handel en wandel word Hy eenkant op sy plek gehou. Die persepsies van mense so anders as hulle, regverdig hul minagting teenoor diegene en hulle sien outomaties op hulle neer.

Jesus dink en tree anders as die godsdienstiges van sy tyd op. Sy ordes is omgekeerd. Stephan Joubert (Jesus ‘n radikale sprong) skryf: “Vir Jesus is agter nou die nuwe voor, bo die nuwe onder; laaste die nuwe eerste; klein die nuwe groot; swak die nuwe sterk; verloor die nuwe wen; weggee die nuwe manier van ryk word; doodgaan die nuwe manier van leef. Voor Jesus is om jou eie lewe tweede te stel die nuwe manier van jou lewe terug wen”.
Vers 11 lui: “Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word en elkeen wat nederig is, sal verhoog  word”. God hou nie daarvan dat mense hulle self verhoog nie. “Dis God se reg om te verhoog, dis ‘n daad van God alleen. Verhoging behoort nooit die vrug van eie inspanning te wees nie, maar altyd ‘n seën van God’ (S F Kruger).

Ek wonder of ons fokusteks nie ook perspektief gee op die duisende staatsdienswerkers se verhogings-eise nie. Honderde onskuldiges moet lei en enkeles doodgaan omdat die stakende werkers hulle so hoog en belangrik ag. Dr Aaron Motsoaledi minister van gesondheid het gesê: “As iemand in ’n operasiesaal ingaan en iemand ontwrig wat weerloos is … dan is dit moord”.
http://www.dieburger.com/Suid-Afrika/Nuus/Dis-moord-as-siekes-sterf-weens-20100820
http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2010/08/menseregte.jpg
Busse vol vrywilligers maak hospitaal skoon – Mariechen Waldner 2010-08-21 22:05
 

 

 

 

 

SelfoonKol. Schalk Welgemoed, hoof van die weermag se gesondheidsdienste in Gauteng, by die Natalspruit-hospitaal in Thokoza aan die Oos-Rand, waar ’n mediese span van die weermag noodsaaklike sorg voorsien.| Foto: Lauren Mulligen
Vrywilligers, polisielede en soldate het die laaste paar dae moue opgerol om gesondheidsorg by hospitale aan die gang te hou. By die Steve Biko-hospitaal in Pretoria het drie busse vol vrywilligers die hospitaal skoongemaak nadat dit deur stakers bemors is. Onder die vrywilligers was werknemers van ’n sakeonderneming wat alarmstelsels verkoop. Me. Elize Bosch, ’n verkoopsverteenwoordiger, het gesê: “Ek het empatie met van die werkers wat staak, want hulle verdien beter vergoeding.
“Maar ek is kwaad oor en gewalg met wat hier aangaan. As jy die mediese beroep kies, dan kies jy ’n roeping, ’n arbeid van liefde (my beklemtoning). My pa het verlede jaar in dié hospitaal gesterf. Wat sommige stakers hier gedoen het, is swak.”

Mnr. Frank Grobbelaar, ’n verkoopsbestuurder wat ook by die Steve Biko-hospitaal uitgehelp het, het gesê hy het twee kinders en wil ’n voorbeeld wees vir hulle. “Ons moet ons medemens help.” Rekrute van die polisiekollege in Pretoria, geklee in blou sweetpakke, het die paaie in en om die hospitaal skoongemaak. Hulle het in vrolike luim vloere gewas en gepolitoer”.

Die Netcare-hospitaalgroep het meer as 80 babas, sommige vroeggebore en ernstig siek, ingeneem wat deur stakende gesondheidswerkers in Gauteng aan hul eie lot oorgelaat is. Sowat 53 babas is ook vroeër uit die Natalspruit-hospitaal verwyder nadat twee daar gesterf het.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het gaan hand bysit in die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal in Soweto. Hy was vergesel van me. Qedani Mahlangu, die Gautengse LUR vir gesondheid, en mnr. Jack Bloom, DA-lid in die Gautengse wetgewer.

 http://www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nuus/Busse-vol-vrywilligers-maak-hospitaal-skoon-20100821

Ek het in die begin ‘n gedeelte uit die brief van Petrus aangehaal waar hy skryf: ”God is teen die wat te veel van hulself dink …” dan voltooi Hy sy sin met die woorde: “… maar die wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, aan hulle gee Hy sy onverdiende goedheid” (1 Petrus 5:5).
“Die Gees beweeg ons vanaf ‘n lewe waar ek of ons die verwysingspunt is, na ‘n selflose lewe, ‘n lewe waar ander se behoeftes die vertrekpunt is (Michael Walker)” Lees Frederick Marais se artikel oor kenosis-teologie Koninkryk kom deur kwesbare diens in KRUISGEWYS – Augustus 2010 (10/3).
Henri Nouwen ‘n teoloog het die Harvard Universiteit as  priester van ‘n inrigting vir verstandelik gestremdes verruil. Hy het agtergekom dat sukses sy siel in gevaar stel. Die gekweste en onpretensieuse inwoners van die inrigting het hom gedwing om sy identiteit wat kan wys en bewys, prys te gee. Hy het besef dat sy werk nie oor ambisie gaan nie, maar oor ‘n roeping, nederigheid en om jouself prys te gee.
God het vir my en jou lief nie oor wat ons bereik het nie, maar omdat God ons geskep, in liefde verlos en gekies het om uit dié bron van liefde te leef (vergelyk Nouwen). Hierdié liefde is sigbaar in ons nederigheid en loop uit op die gasvryheid, die erkenning van die onbelangrikes, die onbemindes, die onwelkomes en ongesiendes se waardigheid.
Ons verdien nie God se genade nie. Ons is eintlik self die armes, kreupeles, verlamdes en blindes wat aan die tafel van God, die gasheer sit. God is die groot gasheer wat gretig is om almal te laat deel in sy genade. Sy verlossingsplan is vir almal bedoel. Dit wil almal insluit. Moenie hierdie fees mis nie!
 Words_of_wisdom

 

 

 

 

 

Pieter van Niekerk

Seisoen van Luister Powerpoint

Preekriglyn in Argief