{ARGIEF}

: Mat 10:40-42

Die “drie-myl-per-uur-God”!

Die omvang van die liefde tussen ons en God kan gemeet word aan die manier waarop ons ander behandel.

Die beeld wat Jesus hier gebruik, naamlik om aan een van die geringstes onder die dissipels ‘n beker water te gee, is ‘n voorbeeld van onselfsugtige diens. Dit gaan hier oor diegene wat nie hoog aangeslaan word en nie vir ‘n guns kan terugbetaal nie. God sien elke guns raak wat ons doen of nalaat om te doen, asof ons dit aan “Hóm” doen.

So baie mense spandeer ‘n groot deel van hul lewe om selfwaarde te ontdek. Hulle soek na die sin en betekenis van die lewe. Want elke mens wil graag gelukkig wees en goed oor hom-/haarself voel. Maar dikwels soek mense op die verkeerde plekke hiervoor. Só kry jy dit nié noodwendig in sukses nie, want daar sal altyd mense wees wat beter as jy doen. Ook vind jy dit selde in status of ‘n salaris.

In die Bybel ontdek ons dat selfwaarde, betekenis en geluk in onselfsugtige diensbaarheid lê. Daarom sê Christus: Hy wat sy lewe weggee, sal dit vind!

Maar, om soos Christus te dien, moet jy beskikbaar wees. Bereid om onderbreek te word. Tot stilstand gebring te word – en aandag te gee! Anders gestel: jy moet tyd maak! ‘n Mens kan nie doen wat Christus vir ons in hierdie Bybelgedeelte vra, sonder om tyd te maak nie.

En dis net híér waar ek dikwels vasval. Want ek sê vir myself dat ek doodgewoon nie genoeg tyd het nie – veral nie vir ander wat swak en soms lastig is nie. Voel ons nie dikwels ons kan ons tyd op belangriker dinge spandeer nie?

Ons post-moderne mense dink mos in sulke ekonomiese terme oor tyd, soos “spandeer”. Tyd is “geld”! Ons “bestee” ons tyd. Ons “spaar” tyd wanneer ons iets vinnig afhandel. Die spreuk lui nie meer “survival of the fittest” nie, maar “survival of the fastest!”. Natuurlik sluit ons op hierdie wyse baie mense uit. Mense wat juis nié oor die (ekonomiese) middele beskik om by te hou nie.

Maar ook mense in hierdie vinnige ekonomiese baan kry swaar. Daarom hoor ‘n mens ál meer stemme wat roep na “slowness” of langsaamheid. In die negentiger jare van die vorige eeu het Stan Nadolny ‘n roman geskryf met die titel: “The Discovery of Slowness” en Milan Kundera een met die titel “Slowness”. In laasgenoemde skryf Kundera dat waar ‘n mens “slowness” toepas, jy onthou. Waar jy haastig is, vergeet jy! Spoed lei tot vergeetagtigheid, wat soms handig kan wees. Dit verdoof jou teen dit wat jy veronderstel is om te doen … Natuurlik is tyd vir spoed nodig, maar so ook vir “slowness”.

Ons moet versigtig wees om oor tyd net in ekonomiese terme te dink. Want dan mag ons so maklik dink dat tyd wat nié ekonomies nuttig gebruik word nie, ‘n vermorsing van tyd is. Tyd móét uiteraard produktief gebruik word, maar jy móét ook genoeg tyd maak vir rus, vakansie, vir diens! Verhoudings, omgee en sorg mag nooit op die altaar van spoed geoffer word nie.

Wees daarom versigtig om ongeduldig met swak, weerlose mense te raak.

Hoe werk ‘n mens die ver-ekonomisering van tyd teen? Karl Barth skryf dat tyd liefde is. Hy sê dat God Homself aan ons openbaar. En dís gelykstaande aan “God het tyd vir ons”. Die Woord het vlees geword – dit het eintlik tyd geword. Daarom is tyd nie iets wat uitloop nie, maar iets wat in Christus vol geword het. Dis vervulde tyd. Daarom is tyd en liefde, teologies gesproke, ten nouste verweef. God se liefde kry konkrete gestalte in die tyd. Waar óns dus tyd aan ander spandeer, het ook óns lief! Géé ons nie net tyd nie, maar ook liefde! 

Ons sal móét die ekonomisering van tyd uitdaag. ‘n Ander begrip van tyd is nodig – een wat aan liefde gekoppel word. Robert Vosloo (by wie ek van hierdie gedagtes geleen het) skryf oor ‘n boek van ‘n Asiatiese teoloog, Kosuke Koyama, waarin laasgenoemde van God praat as die “three miles an hour God”.

“God walks slowly because He is love. If He was not love He would have gone much faster. Love has its speed. It is an inner speed. It is a spiritual speed. It is a different kind of speed from the technological speed we are accustomed to. It is “slow”, yet it is lord over all other speeds since it is speed of love.”

Om die ekonomisering van tyd teen te werk, sal ons “slowness”, veral vir en teenoor ander, moet (her)ontdek. Dit gaan nie net oor ekstra tyd vir ‘n klomp ander dinge waarvoor ons gewoonlik nie tyd het nie, maar dit gaan oor die raaksien van die kairos, die oomblik van waarheid. Dit gaan oor ‘n visie op God se koninkryk – waarin dit gaan oor die swakkes, gemarginaliseerdes, hulle wat nie kan byhou nie, hulle sonder ekonomiese mag en waarde.

Wanneer jy hierdie mense (soos Jesus se dissipels) begin bedien, ontdek jy dat gasvryheid nie gaan oor tyd verlóór nie, maar juis oor die ontváng van tyd. Jy “kry” (skielik!) tyd. Jy ontvang hierdeur iets van die koninkryk. Van liefde. Van God self! 

Chris Jones

Seisoen van Luister Powerpoint

Preekriglyn in argief