{ARGIEF}

Sondag 11 September 2011 ~ 12de SONDAG SEISOEN VAN DIE SKEPPING: MAT 12:38-40

Miskien kan ʼn  opskrif vir ʼn  preek oor die gedeelte wees:  Wat is jou agenda?

Dit het my baie gehelp om Mat 12 in sy geheel ʼn  paar keer te lees.

Die verband tussen die oorhoofse tema: “Seisoen van die Skepping” en die teken van Jona kruip nogal diep weg. Die “teken van Jona” verwys na Jesus se kruisiging en sterwe, na die opstanding en die nuwe lewe wat uit die opstanding geblom het – in duisend kleure … evangelie!

Vir my is een manier om die teks oop te sluit die vraag: “Wat is God se agenda en wat maak God met mag?” Waarheen mik die Fariseërs en hoe kontrasteer dit met God se agenda vir die skepping? Dit is opvallend dat die Fariseërs mag en beheer oor die eenvoudiges wou behou en Jesus as ʼn bedreiging vir hul agenda beskou het.

Ek was pas ʼn week in Kenia by ʼn “Theological Education in Africa” kongres. Die storie van: “Wat is jou agenda en hoe gebruik jy mag?” was telkens in die gesprekke oor ʼn missionale teologie en transformasie op die tafel. Snaaks hoe ʼn saak in elke werkswinkel skielik gesprek kan oorheers. Hier was dit die voorspoedteologie wat soos ʼn  golf oor Afrika en sy arm mense vloei. Skatryk kerkleiers se verhale eggo uit elke land. Skaars terug in Suid-Afrika is die koerante vol van ons President se keuse vir ʼn  nuwe hoofregter wat ʼn leke prediker by die Winners Chapel International is. Die kerk se grootbaas is die Nigeriër Biskop David Oyedepo. Hy is R1 biljoen sterk … gaan kyk na Die Burger se berig op bl 2 van 27 Augustus 2011. Wat hulle nie daar skryf nie, is dat daar nog minstens vyf sulke ryk “kerkleiers” in Nigerië is … en duisende der duisende na-apers oor die res van ons kontinent. Parasiete wat leef uit die armes en naïewes se onkunde. Lees gerus in davidoyedepoministries.org/; en wikipedia.org/wiki/David_Oyedepo … daar is talle webwerwe wat sy storie vertel.

Wat is hulle agenda?

Hoe gebruik hulle mag? Wat maak hulle met daardie mag?

Jy kan die vrae gaan toets aan die Fariseërs en jy sal sien, om die beeld van ʼn  spiraal te gebruik, dat die rigting die teenoorgestelde is as wat jy in die evangelie vind. God se skepping gee weg, dit voed. Jesus gebruik die voorbeeld van ʼn boom wat aan sy vrugte geken word. Hy self gee sy lewe weg … die Jona teken.

Die Fariseërs en elke ander valse evangelie, apartheid was ook so een, se spiraal draai na binne. Binne in die hart van die mens, is daar ʼn agenda wat om sigself draai, eie voordeel, eie mag, self koning wees – die ou-ou Gen 3 verhaal. Dit, besef ek, is my eie voorkeur opsie, my default – almal van ons se default.

En die teken van Jona? Jesus kon nie die Fariseërs oortuig nie omdat die draaibeweging van hulle agenda se spiraal na binne gemik was, selfgesentreerd. Dus sou hulle hom laat kruisig en later sou hulle agterkom dat Hy opgestaan het! Die krag van die Gees is onblusbaar en die evangelie spiraal sy weggeeliefde uit oor al die Joodse grense en wette heen na alle nasies toe. Nog later sou hulle sien hoe Jerusalem verwoes word. Talle van daardie Fariseërs sou in die Romeine se vergeldingswoede sterf.

Die kerk sal nooit sterf as sy agenda Jesus se agenda volg nie: gee mag weg, gee liefde, reik uit na die ander en dien sonder om iets daarvoor terug te wil ontvang. “Pass it forward.”

Ek skryf die stukkie in Sutherland, besig met gemeentebesoeke. Elke stroompie in die Karoo het water. En die blomme staan vol uitspattigheid in duisend diep en helder kleure, gesiggies na die son. Vol lof vir die Skepper se gawes gee hulle hul skoonheid weg, sommer so ongevraag spiraal hulle God se eer in die grootse oopheid uit. Jy hoor die stilte die eer van God besing. Opgestaan blom die skepping met ʼn agenda vol weggee vreugde en skoonheid!

Jurgens Hendriks

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere riglyne in Preekargief