{ARGIEF}

20 Maart 2011 ~ 2de Sondag van Lydenstyd ~ Matt 17:1-9

Laat ek heel eerste dit sê: dit is ʼn voorreg om elke keer so ʼn goeie stuk eksegese soos die uit die Leesrooster voor jou te hê. Ons waardeer dit!

Mens kan die gedeelte ʼn opskrif gee soos:
“Jesus berei jou voor vir die Tsoenami’s in jou lewe …”

Die probleem is nie dat God nie vir ons betyds waarsku vir die groot skokke van die lewe nie, die probleem is gewoonlik dat ons nie die tekens lees nie, dat ons, soos elders met Petrus gebeur het, slaap terwyl die storm opsteek.

Die Japannese weet duidelik dat hulle land geofisies in ʼn  baie gevaarlike gebied geleë is. Kan mens ooit volledig voorbereid wees vir iets soos ʼn tsoenami van 8.9 op die rigterskaal? Die Japannese kusstede het 20 minute tyd gehad (om te ontruim) voor die golf hulle getref het … dis nie baie tyd nie. Die verwoesting en die krag van die natuurgebeure is eenvoudig ontsettend …

Die tema “Is ons voorbereid vir die realiteite, vir die skokke van die lewe?” is met die Japan beelde vars in ‘n mens se gemoed, ʼn besondere geleentheid. Die feit dat ons bestaan hier tydelik is, is onomstootlik. Hoe broos dit is, onderstreep die tsoenami. Niks wat ons is of het kan ons teen die tydelikheid van ons bestaan verweer nie. Jesus probeer sy dissipels se oë oopmaak vir die groter werklikhede wat die gelowige verder laat sien en nooit sonder hoop los nie, selfs nie aan die kruis nie.

Hoe mens hieroor preek sal van gemeenskap tot gemeenskap verskil. Die opening wat die tsoenami in ons verstaan van tydelikheid en broosheid skep, kan egter uit die teksgedeelte en stuk eksegese van die leesrooster wonderlik benut word.

Mens kan, byvoorbeeld, die volgende lyne volg:

  1. Voorberei en gewaarsku: Jesus het sy dissipels voorberei nie net vir sy dood aan die kruis en die eerste intuimel van hulle lewens nie, maar ook op die 70 na Christus gebeure toe Jerusalem verwoes is. Matt 16:21-28 vertel dit so duidelik soos woorde dit maar kan sê. Daar is ʼn groter werklikheid waarvan ons min verstaan: hoe duidelik spel die gebeure op die berg dit nie uit nie! 
  2. Hoekom is dit so moeilik om gewaarsku te word, om voorbereid te wees op die onvermydelike tsoenami’s van die lewe en sterwe wat vir almal wag? Wel, Petrus is ʼn  skitterende voorbeeld van die tipiese instituut denke, die dominee-kerk. Dis so lekker daar, hy wil sommer begin bou. Kyk na die voorbeelde in die eksegese wat hierdie gesindheid uit Petrus se lewe illustreer. Alles gaan om die onmiddellike, alles draai om die self. Dis soos die storie van Narcissus: ons verdrink in die poel waarin ons net onsself sien. 
  3. Jesus se lewe as ʼn “purpose driven life”… (verwysing na Rick Warren se bekende boek en die 40 dae storie wat soveel gemeentes al benut het).

Hoe word mens se lewe herfokus? Hoe word Petrus ʼn rots? Gewoonlik deur vernedering, baie pyn en verleentheid, baie vrees … en onvermydelik die kruis. Moenie bang wees nie …

Dit is die tsoenami’s in Jesus se eie lewe wat die gordyn van skeiding tussen die twee werklikhede laat skeur het. Sy koninkryk verander beslis die aarde en ons lewe, maar dit het ʼn heerlike dimensie wat ons net met beelde iets van kan sê en waarop ons werkend kan wag.

Jurgens Hendriks

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere riglyne in argief