{ARGIEF}

Die seun het aanhou stap en by die volgende kraal gekom. Hier was nie net diere nie, maar ook hutte. Dit was ‘n volwaardige, bewoonde kraal. Maar toe hy vol verwagting die eerste hut se deur oopstoot, het ‘n ou vrou met vier tande daaruit te voorskyn gekom en gedreig om hom dood te maak. Die seun het weggehardloop en tot hoog in ‘n boom geklim, maar die ou vrou met die vier tande het begin om die stam van die boom af te kou. Die seun se drie gesonde honde het haar aangeval, maar sy het al drie doodgemaak.

Toe kry die lam hond die vrou egter aan die nek beet en byt vas totdat sy dood neerslaan. Die seun het uit die boom geklim en alles wat hy in die kraal gesien het, vir hom geneem. Dit was die heel beste!

Dis ‘n Venda-volksverhaal wat ek in Julian Müller se nuwe boek, Om te mag twyfel, raakgelees het. Dis ‘n tipiese mitiese storie – wat ons in soveel kulture aantref. Dit wil iets universeels oor die lewe oordra. Dit gaan oor ideale, begeertes en verrassings, maar ook oor versoekings, uitdagings en teleurstellings wat ons op ons lewensreis ervaar.

Ons is elkeen is op soek na “heuning”. Dis deel van die lewe. Van menswees. Daar is ‘n gedrewe soeke na die sin van die lewe – om by ‘n “veilige hawe” uit te kom.

Hierdie Venda-verhaal gaan egter oor méér as net die soek na heuning. Hierin is universele waarhede te vind, soos byvoorbeeld die voorlopige en valse rusplekke. Die “krale” op die seun se pad was aanloklik, maar blyk vals te wees asook te vinnige winste. Dit lyk aanvanklik na ‘n ideaal wat bereik is, maar blyk dan tog eerder ‘n versoeking te wees. As hierdie seun op sy pad sou terugkyk, skryf Julian Müller, sou hy heel dankbaar gewees het dat hy eerder na die subtiele stem van die voëltjie geluister het en nie by een van daardie krale vasgesteek het nie, want die beste, al het dit reg op die einde met ‘n krisis gepaardgegaan, het vir hom gewag.

Die mens wil maar vinnig by sy bestemming uitkom. Ons wil arriveer. Ons kan so maklik voor versoekings swig. En só boet jy jou eintlike ideale in vir voorlopige winste.

Sommige “stasies” in ‘n mens se lewe, moet jy verlaat, want as jy daar sou vassteek, sal jy die “heuning” in jou lewe mis.

Dis genade as ‘n mens in die najaag van “heuning” nie by sekere krale vassteek nie. Dis hierdie Sondag Arbeidsondag. Hier sou ‘n mens ‘n paar lyne na die werksituasie kon deurtrek.

Vir ons as Christene is die “stem van die voëltjie” die Heilige Gees wat ons aanmoedig om verder te gaan, totdat ons by die “geestelike heuning”, by God uitkom. Soms werk die Gees deur jou man/vrou. Soms deur vriende of kollegas. Soms deur kinders of ‘n mentor. Soms is dit net ‘n “ingewing”. Daar is soveel “krale” of versoekings of dan afgode in die woorde van die Psalmdigter, waarby ons in hierdie lewe kan vashaak.

Vir die seun het die versoekings groter geword: eers bokke, toe skape en toe beeste. Dit gebeur ook in ons lewe. In die werk. In ons huwelik. Dis versoekings wat hul telkens voordoen. Jy reken selde finaal met hulle af.

En partykeer stel die “sterk honde” in ‘n mens se lewe, die versterkings waarop jy dikwels reken, jou teleur. Dis soms op verrassende, uitsonderlike maniere dat die “lam hond”, die mees onwaarskynlike, ‘n mens help.

Soos wat jy onder leiding van die Gees vorder, steek jy grense oor. En na ‘n tyd ontdek jy dat jy op ‘n beter plek is as voorheen. ‘n Mens moenie net nee sê vir versoekings nie, maar ook soms vir die goeie goed. Ons elkeen is by goeie goed betrokke, maar ons moet soms daarvoor nee sê om by die heel beste uit te kom – by God!

En dít maak dit dan vir ons moontlik om saam met die psalmis te ontdek en te bely: “Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang het, kom alles van U af. ‘n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi”. Maar dit kom nie sonder versoekings, krisisse en aanvalle – die “tande van die vrou” wat ‘n mens die skrik op die lyf jaag – wat oorwin moet word nie. Maar hierin is ons genadiglik nie alleen nie …

Seisoen van Luister PowerPoint