{ARGIEF}

Psalm 30:  ‘n Storie saam met God
Wanneer ek hierdie aangrypende psalm lees, is daar drie dinge wat my tref.
Die eerste ding is die pragtige en eenvoudige manier waarop die Psalmis in die eerste verse van die psalm vertel hoe God die pad met hom stap.  In twee eenvoudige sinne vertel die Psalmis sy storie saam met God:  God het hom opgetel.  En God het sy lewe aan hom teruggegee.

Miskien verwys hierdie storie na iets wat met die Psalmis gebeur het, na ‘n spesifieke gebeurtenis.  Miskien was hy dodelik siek, en het God hom gesond gemaak.  Miskien is hy in die oorlog gewond, en het weer herstel.  Of miskien som die Psalmis hier sy hele lewe op in twee stappe wat hulleself oor en oor in jou lewe herhaal:  jy val, God tel op.  Maar God tel nie net op nie.  God gee die lewe aan jou terug. 

Die tweede mooi ding is dat die Psalmis – soos wat hy val en opgetel word – iets wonderliks van God sien.  En hy leer iets fantasties oor homself. 
Watter gesig van God sien die Psalmis wanneer hy val en opgetrek word?  Hy sien (vers 6a) dat God se toorn net ‘n oomblik duur, maar sy goedheid lewenslank.  En hy sien nog iets van God (vers 12a).  Hy sien en ervaar dat God jou rouklere uittrek, en vir jou feesklere aantrek.

En wat besef die Psalmis van homself en sy omstandighede in hierdie hele proses van val en opgelig word?  Hy besef dat God alles kan omdraai.  In ‘n oogwink kan God jou lewe verander.  “Gisteraand was daar nog trane, en vanmôre lag ek al weer” (vers 6b).  Vandag nog kan jy rou, en môre kan God jou van vreugde laat dans (vers 12a).

En nou is daar nog ‘n derde ding aan hierdie psalm wat so beeldskoon is.  En dit is dat die Psalmis op God se goedheid kan reageer.  Hy kan sy opstaan vier.  Hy kan jubel dat God hom weer die lewe teruggegee het.  Die Psalmis wil nie alleen die Here loof nie.  Daarom nooi hy die mense – kom ons noem hulle maar die gemeente – uit om saam met hom God te loof:  “Sing tot eer van die Here!…Loof sy heilige Naam!” (vers 5).  In vandag se Gereformeerde taal sou ons sê die dominee nooi die gemeente uit tot ‘n liturgiese respons om ‘n loflied te sing.

Dit, dan, is in kort die boodskap van die Psalm:  God red;  God is genadig; loof sy Naam!

Psalm 30 se landingsplekke
Psalm 30 was oorspronklik ‘n lied op die lippe van gewone mense.  Gewone mense, wat nie kon lees en skryf nie, het gesing van hoe God hulle weer herstel het na tye van ellende.  Soos wanneer hulle siek was, of geboorte gegee het, of gewond van die slagveld teruggekom het.

En toe is hierdie lieflike lied van mense wat hulle hoop op God stel wat genadig is en weer gesondmaak, opgeteken en het dit ‘n Psalm geword.  En dis in die tempel gesing.  Op die Dag van die Tempelwyding.  Dis ‘n fees (die Hannukah) iewers waarop die mense vier dat God weer in die tempel is nadat die vyand dit verwoes het.   Inderdaad, bely hulle, God keer alles om.

Deur die eeue is Psalm 30 al in pragtige liedere verwerk.  Die Lutherse kerk sing dit graag as “Ek wil u prys en besing”, ‘n baie mooi lied wat ‘n Duitser met die naam Paul Gerhardt gekomponeer het.  Ongelukkig het Psalm 30 in ons Liedboek maar ‘n bedremmelde wysie, en sing ons dit nie gereeld nie.  Miskien moet daar ‘n komponis onder ons opstaan, en ‘n wysie vir hierdie lied komponeer wat daarby pas.  Sodat ons ook Psalm 30 in die kerk kan uitjubel!

Psalm 30 se mees onlangse landingsplek
En nou kom ons vireers by die laaste landingplek van hierdie Psalm.  En dis altyd by onsself.  Dis die eerste Sondag in Koninkrykstyd.  Die Opstanding, hemelvaart en die uitstorting van God se Gees lê agter ons.  Het God jou storie verander in hierdie tyd?  Het God jou met die Opstandingsverhaal en die verhaal van die uitstorting van Sy Gees weer daarvan oortuig dat Hy genadig is?  En dat Hy dinge kan verander?  Dat Hy dinge kan omkeer.  Dat jy ‘n storie saam met Hom kan skryf, waaroor jy inderdaad kan jubel?

Dis tog wat dit beteken om in die koninkryk van God te lewe.  Jy val nooit sonder die kans om op te staan nie.  Jou rou is nooit finaal nie.  Elke dag is ‘n opstaandag.

Elke dag kan jy en God jou storie skryf as ‘n verhaal van vreugde en hoop.  Van vertroue dat God jou sal optel as jy val.  Van ‘n geloof dat God genadig is, en dat jy kosbaar in Sy koninkryk is.

God se koninkryk was altyd hier.  Ook in Psalm 30 se tye.  Maar ons word nou weer op ‘n besondere manier daaraan herinner met God se Gees wat uitgestort is:  God is genadig, en die genadige God is magtig.  Hy rig ons op.  Hy gee aan ons die lewe terug.  Hy verander alles in ‘n oogwink.
En ons kan dit maar glo.  Want ons is koningskinders.

Christina Landman

Seisoen van Luister – Powerpoint

Psalm 30 – Preekriglyn in Argief