{ARGIEF}

Hemelvaart 2011

Psalm 47 ~ God is radikaal teenwoordig

Nou die dag steel iemand my kar. Wat ‘n gevoel. Jy kom nog so uit die winkel gestap, en dan is daar ‘n leegte waar jou kar moes wees. Die kar is weg, en in sy plek is daar … niks.

Nou, dis nie hoe die Hemelvaart was nie. Toe Jesus opgevaar het na die hemel, het hy nie niks hier agtergelaat nie. Inteendeel.

Maar wat het Jesus dan hier gelaat? En waarom lees ons Psalm 47 op Hemelvaart?

Kom ons begin by Psalm 47.
Hierdie is ‘n netjiese en spoggerige psalm. Dit vier die troning van die Koning. Elke jaar, aan die begin van die jaar, het die Jode ‘n fees gehou waar hulle God weer getroon het. Weer terug gesit het op die troon in die tempel in Jerusalem, om dit nou maar so te stel. Eintlik was dit ‘n erkenning en ‘n bevestiging dat God op die troon sit – en oor die wêreld heers.

So, dis ‘n Koninklike geleentheid. Die mense staan voor die tempel. En die Psalm roep hulle op om met gejubel God se teenwoordigheid te vier!

Die psalm nooi die mense uit om voor God te jubel – in twee strofes wat netjies met mekaar ooreenkom en mekaar aanvul. In die eerste strofe (verse 2-6) word almal opgeroep om hulle hande te klap en tot eer van God te juig “met ‘n jubelende stem”. 

As ons hierdie gebeure in ons gemeente sou opvoer – wat ‘n Zulu-sprekende gemeente is – sou die mense hard en ritmies hande klap, en ulluleer! Ons sou God regtig polsend teenwoordig voel!  Miskien moet al ons gemeentes dit probeer. 

En dan begin die tweede strofe met nog ‘n oproep om die krane oop te draai: Prys God met psalms!
Dit moes ‘n ongelooflike skouspel gewees het!  Al die mense wat ritmies met hulle hande en stemme uitbars in ‘n grootse gejubel! Amper soos by ‘n sokker- of ‘n rugbywedstryd. Net, gewyd en “in die kerk”!

En waaroor gaan die gejubel? Dis vreugde en eerbied omdat God oor die hele aarde heers. Omdat Hy nie net op die troon in die tempel teenwoordig is nie, maar oral is. 

God is radikaal teenwoordig. Oral.

Maar, weet julle, ons weet nie regtig of hierdie psalm by die tempel gesing is nie.  Oftewel, of dit net daar gesing is nie. Miskien kom hierdie psalm juis uit ‘n ander tyd, ‘n tyd toe die mense alles verloor het, toe hulle tempel verwoes en hulle as bannelinge weg was in ‘n ver en vreemde land.

En dis juis daar waar hulle hulle hande geklap en gejubel en gejuig het oor God – omdat Hy orals teenwoordig is. En omdat Hy radikaal teenwoordig is. 

En dis waarom ons Psalm 47 op Hemelvaart lees. Want toe Jesus na die hemel opgevaar het, het hy die heerskappy van God oor die aarde bevestig. Jesus het nie niks hier agtergelaat nie.  Hy het die radikale teenwoordigheid van God hier gelos.

Toe Jesus na die hemel opgevaar het, het hy die koninkryk van God hier gelaat. Om die wêreld te beïnvloed en oor te neem.

Maar as God so radikaal hier op aarde, om en onder ons voete, teenwoordig is, wat is daar dan nog oor vir ons om te doen?

Ek onthou dat die ouderling in ons gemeente op die Sondag na Hemelvaart ons tyd in die kerkjaar só vir die gemeente verduidelik het: Broers en susters, het hy verduidelik, die Here is nou klaar in die hemel, en ons kry die Heilige Gees volgende week!

Ek het lank oor hierdie woorde nagedink. Hiermee het die ouderling, met sy lyflike, fisiese taal, eintlik gesê presies hoe radikaal God nou hier teenwoordig is. In sy lyflike gedaante is God in die hemel, en is hy radikaal hier op aarde teenwoordig in die mense wat hy toerus om die koninkryk te bou.

Wat het ons om hier te doen, waaraan Jesus se hemelvaart ons weer herinner? Ons moet Jesus hier op aarde beliggaam in die waardes wat ons uitbou, goeie, gesonde waardes wat ‘n roekelose wêreld weer heel kan maak. Dit is waardes soos mede-menswaardigheid, toleransie, respek, en eerlikheid.

Ons moet Jesus beliggaam in die skouer wat ons vir mense is wat swaarkry en treur. Ons moet Jesus beliggaam in die hart wat ons teenoor ander toon, in die klinieke wat ons bou en die kleuterskole vir klein kinders wat bedags op straat is. Ons moet Jesus beliggaam in die hande wat ons met mekaar vat.

Die Here is nou in die hemel. En God is radikaal hier by ons, en onder ons, en in ons teenwoordig.

Christina Landman

Seisoen van Luister Powerpoint

Verdere Preekriglyn in Argief -1

Verdere Preekriglyn in Argief – 2